Ons wag in blydskap op die Erekoning!

Het jy geweet dat Psalm 24 as die Hemelvaartspsalm bekend staan? Kruispad kyk na wat ons uit hierdie Psalm van Dawid kan leer.

deur ds. Werner Brotherton

Lees Psalm 24.

“Ek glo in Jesus Christus, die Eniggebore Seun van God. Hy het na die hemel opgevaar. Hy sit aan die regterhand van die Vader …” Hierdie woorde behoort vir elke gelowige bekend te klink. Ons bely dit elke Sondag saam in die erediens. Ons bely dat Jesus in die hemel sit. Dit word nog deur al die eeue heen deur die Nuwe Testamentiese kerk bely.

Maar, ons is nie alleen nie. Die kerk van die Ou Testament het dit al lankal bely. Trouens, hulle het daaroor gesing. Psalm 24 staan bekend as die Hemelvaartspsalm. Die kerk van die Ou Testament het verwag dat die Messias moes kom, maar hulle het ook verwag dat Hy uit die dood sou opstaan en na die hemel sal opvaar.


Dit begin op aarde

Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here, want Hy het die fondamente daarvan in die see gelê en dit stewig gevestig in die waters” (Psalm 24:1-2).

Kyk mooi waar hierdie Psalm begin. Dit begin hier op aarde. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, en waarom? Omdat Hy dit alles geskep het. Hy het dit gemaak en daarom behoort dit aan hom. Hierna neem Dawid ons saam na die berg van die Here toe. Hierdie berg is Sionsberg. Daar waar die tempel van die Here staan. Toe nog die tabernakel. Dit is waar die samekomste van die kerk gehou is. Dit is daar waar die Here se aangesig ontmoet is.


Wie mag voor die Here verskyn?

In Psalm 24:3 vra Dawid dan hierdie belangrike vraag: “Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom gaan staan?” Wat ’n vreemde vraag! Tot ons besef dit het te doen met die heilige aangesig van die Here. Deur die Bybel sien ons wat gebeur met die gelowiges wanneer hulle naby die Here se aangesig kom. Jesaja besef sy onreinheid. Daniël sak inmekaar soos ’n dooie. Jakob smeek om die Here se seën.

Wie kan tog die Here se aangesig nader? Dan kry ons die antwoord in vers 4 van die Psalm: “Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is, wat alle bedrog vermy en geen vals eed aflê nie”. Wie kan dit tog wees? Elkeen van ons besef dadelik dat dit nie ons kan wees nie. Ons is vuil van die sonde.

Hier kan alleen gepraat word van ons Here Jesus Christus. Alleen Hy kan die Here se aangesig nader. En tog, tog was Hy deur die Here verlaat. Al wat by Hom was aan die kruis was die Here se toorn. Alleen die heilige woede van die Here oor die sonde het oor Christus gehang.

Dit alles, sodat ons rein van hande en suiwer van hart kan word. Dit is wonderlik! Christus se werke word aan ons gegee sodat ons die Here se aangesig kan nader. Trouens, ons het nie meer ’n middelaar nodig om vir ons in te tree soos wat Moses, of die priesters moes intree nie. Nee, deur Christus kan ons met alle vrymoedigheid die Here in die erediens en in gebed nader.


Die poorte gaan oop vir gelowiges

In vers 7 neem die Psalmdigter ons na ’n ander plek: “Verbly julle, poorte, wees bly, eeue-oue deure”. Hy bring ons na poorte toe, groot deure. Dit moet oopgaan. Hierdie woorde wys op die Ark van die Here wat weer teruggebring word in die stad in na die tabernakel. Daar is hierdie woorde gesing met alle blydskap. Tog wys dit nog verder. Hierdie poorte wys ook na die hemelpoorte. Die hemelpoort het oopgeskeur sodat ons Here Jesus kon ingaan. Hierna is die hemel vir ons as gelowiges oop.


Daar aan God se regterhand sit Christus. Hy maak ons plek gereed. Hý is die Erekoning! Hy is ons Middelaar. Hy het opgevaar, maar Hy kom ook terug. Daarom mag ons, en moet ons met alle blymoedigheid, en alle verwagting die hemele dophou. Verwag Christus, maar werk en leef. Werk en leef uit die geloof terwyl jy wag op Christus. Elke keer wanneer jy na die wolke kyk, kan jy die evangelie onthou. Christus kom weer soos wat Hy opgevaar het. In, deur, met en op die wolke kom Hy weer. Wag … wag op die Erekoning. Sela.