Waaruit bestaan ’n erediens by die kerk?

Het jy geweet die
erediens bestaan uit verskillende elemente? Kruispad kyk na wat liturgie
is om die erediens beter te verstaan.

deur ds. Hannes
Lee

Wat is liturgie?
Die woord “liturgie” kom van die Griekse woord “leitourgia” en dit word gebruik om God se kerk se diens aan Hom te beskryf. Alles wat ons doen om die Here te dien en te verheerlik is liturgie. Ons behoort te kan insien dat ons hele lewe dan eintlik een groot liturgie voor die Here is, want alles wat ons doen moet die Here dien en verheerlik. Dit is egter in die erediens wat ons die woord “liturgie” meestal gebruik.

Die erediens as ’n ontmoeting met God

Konings
van ouds het hul onderdane na hul troonkamers ontbied, en so roep God ons
bymekaar om voor Hom te verskyn. Ons kan onsself die troonkamergesig van
Openbaring 4 voorstel wanneer ons kerk toe gaan. Ons kom byeen as gelowiges in
die heilige teenwoordigheid van ons almagtige God.

Wanneer
ons bymekaar is, is daar dinge wat ons in die erediens doen. Elkeen van hierdie
dinge is met ’n doel daar, en het sy eie betekenis. Ons sal sien dat hierdie
dinge, die liturgiese elemente, die volgende reëlmaat het: God praat met sy
volk, en sy volk antwoord.


4 Dele van die erediens

1. Die
ontmoetingsdiens

Die
ontmoetingsdiens bestaan uit vier liturgiese elemente: die votum, groetseën,
lofsang en geloofsbelydenis. Dit is die dinge wat ons doen wanneer ons die Here
aanvanklik in die erediens ontmoet.

  • Votum
    Wanneer die erediens begin, hoor ons gewoonlik ’n aanhaling soos “My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het” (Psalm 121:2) of “Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser” (Psalm 19:5). Dit word die votum genoem. Die doel hiervan is om ons dadelik te laat besef dat ons byeenkom in die naam van die Here. Hy het ons bymekaargemaak, en ons kom bymekaar onder sy gesag. Die votum is ’n verklaring dat ons nie ter wille van onsself gekom het nie, maar vir die Here.
  • Groetseën
    Na die votum hoor ons gewoonlik ’n groetseën wat meestal die formule volg wat Paulus in die aanhef van sy briewe gebruik het: “Genade vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus.” Hierdie groetseën is die seën wat die Here self uitspreek oor die gemeente, en dit is onder hierdie seën wat die gemeente kan voortgaan om saam die Here te dien.
  • Lofliedere
    ’n Baie belangrike deel van die liturgie is lofliedere. Ons is juis as gemeente bymekaar om lof aan die Here te bring, en dit kan ons regdeur die erediens doen om tot lof van die Here te sing. Die lofliedere is ook die manier waarop ons antwoord op die seën wat die Here ons bied. Ons sien in die Skrif, veral die boek Psalms, hoe belangrik lofsang aan die Here is. Die woorde “lof” en “loof” kom 125 keer net in die boek Psalms voor!
  • Gesamentlike geloofsbelydenis
    Die geloofsbelydenis is ’n openbare belydenis van die rede waarom die gemeente bymekaargekom het, en hoekom die erediens bestaan. As daar nie geloof in die Drie-enige God was nie, was die gemeentebyeenkoms nutteloos.

2. Die verootmoedigings- en versoeningsdiens

Die volgende deel van die erediens is die verootmoedigings- en versoeningsdiens. Tydens die ontmoetingsdiens kom ons onder die indruk van die heiligheid van die almagtige God, en hoe onwaardig en sondig ons in vergelyking is. Daarom doen ons by die verootmoedigings- en versoeningsdiens liturgiese handelinge waar ons onsself voor God verootmoedig (verneder), en versoening met Hom smeek.

  • Sing van liedere
    Die mees duidelike manier waarop ons aan die verootmoedigings-en versoeningsdiens deelneem is deur die sing van liedere wat die openbare skuldbelydenis verwoord. In hierdie liedere verklaar ons saam hoe swaar ons sonde voor God is, en smeek ons om vergifnis wat kom saam met die herstelde verhouding met God.
  • Gebed
    Die woordbedienaar of enige ander voorganger in die gemeente kan ook die gemeente se skuldbelydenis in ’n gebed uitspreek. Die gemeente bid dan saam met die voorganger ’n gebed waarin gesmeek word om die genade van God oor ons skuld voor Hom.
  • Die wet van die Here
    Die bron van ons skuldbelydenis is die wet van die Here wat aan ons voorgehou word. Dit word gewoonlik gevind in Eksodus 20 en Deuteronomium 5, of opgesom in Matteus 22:36-40. Hierdie wet herinner ons aan ons sonde, maar ook aan Christus wat die uiteindelike bron van God se genade is omdat Hy die volkome heilige nakomer van die wet namens ons is, en die straf van ons skuld op Hom geneem het.

3. Die
Woorddiens

Ons
bely dat die Woord nie sonder die werking van die Heilige Gees verstaan kan
word nie. Daarom bid ons dat die Heilige Gees ons verstande sal verlig sodat ons
net die stem van die Here in die Skriflesing sal hoor. Die Woorddiens staan
sentraal in die erediens, en bestaan uit twee liturgiese elemente wat beide
belangrik is: Skriflesing en Woordverkondiging (prediking).

  • Selfstandige Skriflesing, sonder die oog op prediking, is die manier waarop ons in die erediens uitvoering gee aan die feit dat die Skrif alleen genoegsaam is vir God om met sy gemeente te praat.
  • Die Woord moet deur prediking aan die gemeente bedien word. Woordverkondig is Skriflesing van ’n teksgedeelte waaruit gepreek word. Prediking van die Woord, tesame met die vertroosting, vermaning en proklamering van God se verbond met sy volk, is ’n opdrag van God. Ons moet dus bedien word met die Woord, en sodoende deel aan hierdie diens verkry.

Sigbare Woordverkondiging
’n Element wat hierby aansluit is die sakramente. Die doop en die nagmaal is sigbare Woordverkondiging, waar die elemente van water (doop) en brood en wyn (nagmaal), vir ons tasbaar en sigbaar verduidelik wat in die Woord staan, en die beloftes wat God daarin aan sy kinders maak, verseël.

4. Die
antwoorddiens

Aan die einde van die erediens kry ons die antwoorddiens. Hier kry ons geleentheid om te antwoord op al die dinge wat in die erediens plaasgevind het; die dinge wat ons gesien en aan deelgeneem het. Dit doen ons deur weer ’n keer tot eer van die Here te sing, praktiese liefdesdiens uit te leef deur die gee van gawes (kollekte), en die uitspreek van die “amen” aan die einde van die erediens, as bevestiging van alles wat gebeur het. In die antwoorddiens stuur die Here ons ook weg met sy seën, om as sy kinders die hele week onder sy seën te lewe tot ons weer in die erediens bymekaar kom.