Wat is roeping?

deur ds. Werner Brotherton

As ons die woord roeping hoor, dink ons
dikwels aan predikante. Ek het nie ’n roeping nie. Ek het ’n werk, en ’n huis
en ’n familie en so aan. Maar ’n roeping, wat is dit?
Dit is ’n baie belangrike vraag. Juis een van die groot probleme wat in ’n
samelewing kan gebeur, is dat ’n gemeenskap roepingloos is. Petrus se bevel om
ons roeping vas te maak is ’n baie belangrike opdrag. In hierdie artikel gaan
ons kortliks na roeping kyk.


Wat beteken die woord roeping?

Aan die een kant beteken die woord eenvoudig
om iemand te roep, of om deur iemand geroep te word. Aan die ander kant het dit
te make met die Goddelike roeping. Dit is God wat roep, soos ons in 1
Korintiërs 7 en Romeine 8:30 sien.
Die Goddelike roeping beteken dat ons geroep word om deel te hê aan die
seëninge van Christus se verlossingswerk aan die kruis. Dit gaan wel baie
verder as dit. Die Here roep ons hiermee om sy kinders te wees. Hy het sy volk
van die begin af geroep om sy kinders te wees, ook Adam en Eva. Dit beteken dat
dit elke deel van ons lewe omspan.


2 Petrus 1:10

Daarom broeders, moet julle des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.


Roeping en jou beroep

God, ons Skepper en
Here, laat elkeen gebore word met ’n bepaalde doel. Hy wys vir elkeen sy eie
werk aan, stel elkeen op aarde om ’n werk te doen wat deur Hom uitgekies is. So
bolangs mag dit lyk of dit die mens self is wat besluit watter beroep hy volg,
maar alles gebeur volgens die Here se beskikking. Dit is Hy wat die talente en
die aanleg gee, asook die belangstelling. Die Here gee ook werksgeleenthede. So
lei Hy elkeen om te doen waarvoor God hom in die wieg gelê het. Wie vanuit
hierdie roepingsbesef sy werk doen, sal nooit laat slap lê nie. Totius skryf:
Om deur God geroep te wees en tog
nog te slaap – is daar ‘n groter teenstrydigheid denkbaar? Staan op! Julle wat
slaap; kom uit julle slaapkamer en laat Christus oor julle lig: dan eers kan
julle waardiglik van roeping spreek
.”


Totius sê die volgende van die woord roeping
“Die woord roeping klink soos krygsmusiek in die ore van die Gereformeerde belyer. Krygsmusiek dien om die stryder in ’n opgewekte en strydlustige stemming te bring of om hom, as hy moeg en moedeloos is, tot vernieude aanval aan te wakker. U is geroep, u is ’n geroepene, u het ’n roeping ontvang – dit was onder ons vaders en ook onder ons altyd die klanke waarmee hulle mekaar aangevuur het om met vrolike moed verder te gaan.”

Roeping is eie aan Calvinisme

Totius het roeping beklemtoon as eie aan die
gereformeerde godsdiens en daarom ook aan die Calvinisme in geheel. Waarom juis
aan die gereformeerde godsdiens? Omdat die werklik gereformeerde belydende nie
aan die “vrye wil” glo nie.
Die een wat glo aan die vrye wil kan nie praat van ’n roeping van God nie. Dit
is omdat vrye wil beteken dat ek doen wat ek wil. Niemand sal my bind nie. Die “vrye
mens” wil nie beperk word nie, tog is elkeen juis deur die sonde beperk. Deur
die sonde is juis niemand vry nie en het niemand ’n “vrye wil” nie. Vir diegene
is roeping iets wat ’n mens se vryheid aan bande lê, iets wat dwingend
is. ’n Soldaat wat deur sy offisier geroepword en van hom dan ’n opdrag ontvang, is nie meer ’n vry man nie, hy
móétgaan. Mense wat ’n
hoë premie plaas op die mens se persoonlike vryheid wil hom nie laat bind nie.
Hy wil sy eie heer en meester wees wat hom deur eie insig en eie gevoel laat
lei. Hy wil self kies wat en waarheen hy wil.
Die ware gereformeerde het nie ’n keuse nie. Hy het ’n roeping. Hy streef nie daarna om sy lewenstaak volgens sy
eie opvatting na te kom nie, maar volgens die wil van Hom wat roep, volgens die
wil van God. Hy doen die opdrag wat hy van God as sy Here en Koning ontvang. Hy
doen dit omdat hy in Christus vrygemaak is. Om die roeping wat die Here vir jou
gee te kan nakom is juis vryheid.


Roeping en toekoms

Roeping is ’n eg Bybelse woord. Toekoms, soos
dit deur die wêreld verstaan word nie soseer nie. Waarom sê ons so? As ons sê
dat iemand ’n toekoms het, bedoel ons daarmee dat hy op aarde welslae sal hê,
vir hom ’n groot naam sal maak of skatte sal verwerf. As ons oor die toekoms
van die land praat, dink ons aan die statistiek van die land, die rykdomme wat
die land kan oplewer en dat die land beroemd is onder ander lande. Om voorspoed
te hê voor die oë van mense word deur die wêreld gesien as ’n goeie toekoms.
Daardie toekoms is wel netnou weer verby. Dan is dit verlede.
Hier het dit weer te make met die mens se eiewilligheid. Die mens wat self wil
doen en nie wil vertrou nie. Dit is hy wat sonder ’n roeping leef wat so oor
die toekoms praat. Hulle wat naby die Woord van die Here leef, praat nie so
nie.

Johannes die Doper, hoewel niemand ’n groter
profeet as hy was nie, het volgens die maatstaf van die aarde geen toekoms
gehad nie. Sy werksaamheid het maar kort geduur. Vinnig was hy in die gevangenis.
Al sy volgelinge het hom verlaat. En daar in die aaklige verlatenheid eindig sy
lewe. Tog het hy ’n toekoms gehad – want hy het ’n roeping gehad, en daardie
roeping was juis om minder te word. Hy moes vir die kerk van God die Christus
aanwys. Onsterflike eer! Maar daartoe moes sy lig heeltemal geblus word, dat
Christus alleen voor die oog van die kerk mag blink. En as Christus Hom nou
daagliks aan die blik van die gelowige stel, dan leef Johannes die Doper weer
in sy werk, in sy toekoms, in sy eer.


In Jesaja 8:20 lees ons: “Terug na die wet en die getuienis van die
Here! Wie nie volgens hierdie woord praat nie, is sonder toekoms!
” Ons
toekoms word dus deur God bepaal en is volgens die aard van die goddelike
roeping. Na die Wet en na die getuienis – dit is ons roeping.


Bron: Du Toit, J.D., 1977, Versamelde werke
boek twee, Tafelberg uitgewers.