⁠Wees vertroos – God versorg sy kudde

In Jesaja lees ons hoe God sy kudde soos ’n goeie herder versorg. Lees hier meer oor Jesaja 40 vers 11, en verstaan hoe dit jou kan vertroos.


deur ds Ruan Steyn

Aan die einde van die jaar, waar meeste mense moeg en uitgeput is, kan ons vertroos word met die boodskap van Kersfees – Jesus Christus, die Verlosser, is gebore.

Die belofte van die geboorte van Christus is reeds in die Ou Testament voorspel. In die verskeie profetiese boeke word daar verskillende beelde gebruik om na die Messias te verwys. Een van dié treffende beelde is die beeld van ’n herder (vgl. Psalm 23; Jesaja 40:11; Esegiël 34:12). In hierdie artikel gaan ons op Jesaja 40 fokus.


Voor die troos – ’n waarskuwing van ballingskap

Om die troosboodskap in Jesaja 40 te verstaan, is dit belangrik om Jesaja 39 te lees. Israel, die volk van die Here, en die verskillende konings het weg van die Here beweeg en hulself skuldig gemaak aan verskillende sondes. Jesaja profeteer aan koning Hiskia dat ná sy dood sal Israel in ballingskap na Babel weggevoer word.

Ons lees dit in Jesaja 39:6-7 (2020-vertaling):

‘Kyk, daar kom dae wanneer alles wat in jou paleis is en wat jou voorouers bymekaar gemaak het tot vandag toe, na Bybel weggedra sal word – daar sal niks oorbly nie,’ sê die Here. ‘En van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, sal hulle neem, en hulle sal paleisamptenare word in die paleis van die koning van Babilonië.

Jesaja 39 is duidelik dat God se volk in ballingskap weggevoer gaan word weens hulle sonde.


Die trooswoorde in Jesaja 40

Jesaja 40 begin dan met die woorde: “Troos, troos my volk!” (40:1, 2020-vertaling). Die volk het nie troos nodig gehad omdat hulle slagoffers was nie, maar omdat hulle sondaars was wat gestraf word vir hulle sonde. Die wonder van Jesaja 40 is dat God, wat regverdig is, ook onverdiende genade aan sy sondige volk getoon het. In verse 3, 6 en 9 is God self aan die woord en Hy sê vir sy volk waar hulle troos kan kry – direk by Hom!


Troos kom net van God af

Daar is verskillende redes waarom die volk alleen hulle troos by God kan kry: sy heerlikheid sal aan almal geopenbaar word (40:5); Hy is die een wat die pad vir sy koms voorberei het (40:3); sy woord en beloftes sal altyd vasstaan (40:8).

Daar is nog ’n belangrike rede waarom die volk alleen hulle troos by die Here kry – dit gaan oor God se karakter: Hy is die HERE wat regeer (40:10) en Hy is soos ’n herder wat sy kudde oppas en versorg (40:11).

Die Here wat regeer, wat ook die skepper van die hemel en aarde is, is dieselfde Here wat vir sy volk omgee. God stuur nie net sy volk in ballingskap en vergeet van hulle nie. Hy maak die belofte dat Hy nie van hulle sal vergeet nie en dat Hy vir hulle troos sal bring, ten spyte van hulle ongehoorsaamheid.

Ons lees die wonderlike trooswoorde in vers 11 (2020-vertaling):

Soos ’n herder laat Hy sy kudde wei; in sy arms maak Hy lammers bymekaar; teen sy bors dra Hy hulle; die lammerooie lei Hy.


Die betekenis van die troos in Jesaja 40

Jesaja 40:11 is vol metaforiese beelde. Ons lees hier oor elke deel van die vers:

Soos ’n herder laat Hy sy kudde wei

Die Bybel beskryf op verskillende plekke dat God se kinders soos rondloperskape is, wat ’n herder nodig het (vgl. Jesaja 53:6). Jesaja 40 verkondig dat God die Herder is en dat Hy kudde/rondloperskape sal laat wei. Die woord wat vir wei gebruik word, beteken om die skape te voed, te versorg en te beskerm.

Dit hou vir ons ook ’n geweldige troos in – ons is nie doellose rondloperskape nie, maar ons is God se kudde wat deur Hom versorg en gelei word.

In sy arms maak Hy lammers bymekaar

Hierdie beeld dra die betekenis oor dat God spesifieke aandag aan die besondere behoeftes van sy kudde gee, en dat Hy hulle almal versamel. Daar is nie een rondloperskaap wat nie vir God belangrik is nie. Hy gee vir elkeen om. Hy sal elke skaap wat verdwaal en rondloop gaan soek en terugbring na hulle ware tuiste (vgl. Lukas 15:1-7).

Teen sy bors dra Hy hulle

Om iets/iemand teen die bors te dra, is ’n beeld wat daarop wys dat iets of iemand na aan jou hart is. Die troosboodskap is dat God se kudde, sy kinders, vir Hom so belangrik is en dat Hy hulle so lief het, dat Hy hulle teen sy bors dra. Hierdie beeld wys op die intieme verhouding wat God met sy kinders het.

Die lammerooie lei Hy

Die Here lei sy kinders om nie op hulself te fokus nie, maar om hul fokus op Hom te plaas. God lei sy kinders om sy regverdigheid, sy geregtigheid, sy liefde, sy barmhartigheid, sy genade en sy omgee raak te sien, en om van sy teenwoordigheid bewus te wees. God lei ook sy kinders om sterk te word deur die nodige geestelike voedsel in te neem.


Dié trooswoorde wys na Jesus as Goeie Herder

Hierdie vers wys op die ou einde heen na Jesus Christus wat die Goeie Herder is (Johannes 10:11). Jesus het God se kudde so versorg en opgepas dat Hy sy eie lewe vir ons afgelê het. Jesus het ons, wat net soos Israel teen God gesondig het, uit die donkerste kloof gelei en ons by stille waters laat rus (vgl. Psalm 23). Hy het ons met God versoen!

Mag jy hierdie Kersseisoen binnegaan met die wete dat God getrou is aan sy beloftes, dat die verwagte Messias in ons geskiedenis gebore is, dat Hy die Goeie Herder is wat sy kudde versorg, en dat Hy ons nooit alleen sal los nie. Wees getroos, kinders van God.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui