12 verse om elke dag te begin


Die Bybel gee ons die versekering dat ons nuwe mense word as ons tot bekering kom. Ons kan dan die ou, sondige mens afskud en uitsien na die ewige lewe. Bekering is egter nie ’n eindpunt nie, dit is ’n daaglikse proses. Jy kan én moet elke dag opnuut weer bid dat die Here Jesus jou sondes sal vergewe en jou sal bystaan om nie te sondig nie. Laat hierdie Bybelverse jou herinner en motiveer om elke dag nuut te begin, sodat jy saam die Psalmdigter kan sê: “Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue. Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig” (Psalm 143:8).


1. Breek met die ou mens

Efesiërs 4:22-24

Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.


2. Moenie by die verlede stilstaan nie

Jesaja 43:18-19

Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ’n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.


3. As jy aan Christus behoort, is jy reeds ’n nuwe mens

2 Korintiërs 5:17

Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.


4. Lewe soos ’n nuwe mens

Kolossense 3:9-10

Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.


5. Laat die nuwe lewe jou hoop gee

1 Petrus 1:3

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop.


6. Maak elke dag ’n nuwe begin

2 Korintiërs 4:16-17

Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.


7. Die Here se liefde en ontferming is elke dag daar

Klaagliedere 3:21-23

Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut.


8. Die Here se goedheid is vir altyd

Psalm 30:5-6

Sing tot eer van die Here, julle wat Hom getrou dien, loof sy heilige Naam! Waarlik, sy toorn duur net ’n oomblik, maar sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.


9. Bid elke dag vír elke dag

Psalm 88:14

Ek roep na U om hulp, Here, vroeg in die môre al bid ek tot U.


10. Die Here is altyd by jou

Psalm 23:2-4

Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam. Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.


11. Vertrou op die Here vir krag

Jesaja 40:31

maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.


12. Kyk vorentoe

Filippense 3:13-14

… ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.