Ander name wat gelowiges beskryf
deur Kruispad-redaksie
Dit is interessant om te sien watter woorde regdeur die Ou en Nuwe Testament gebruik word in plaas van die woord gelowige. As jy van jouself as ’n gelowige praat, het jy dadelik in jou kop ’n seker konnotasie van wat dit vir jou beteken. Kyk na hierdie woorde om te sien hoe dit by jou identiteit as Christen inpas. Dit is nie alles woorde wat nog gebruik word nie, en ook nie ’n lys van al die woorde wat gebruik word nie. Dit kan dalk net jou help om te verstaan wie jý in Christus is.
Christen
Hoewel ons die woord Christen grootliks gebruik, word dit net drie keer in die Nuwe Testament gebruik (Handelinge 11:26, 26:29 en 1 Petrus 4:16). Dit is in Antiogië die eerste keer gebruik. Die heidene het die mense wat tot bekering gekom het dié naam gegee om daarmee aan te dui dat dit mense is wat Christus volg. Dit was oorspronklik ’n tipe spotnaam, maar in die eerste eeu is dit deur gelowiges self aanvaar. Wanneer ons dit in 1 Petrus lees word dit as ’n eretitel gebruik: “Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik.”
Dissipel
Wanneer ons die woord dissipel hoor dink ons dalk eerstens aan die kleiner groep, “die twaalf” (Matteus 10:5). Tog het Jesus ons almal geroep om sy dissipels te word. Die woord dissipel kom 24 keer in in die 1983-Afrikaanse vertaling van die Bybel voor. Dit kom van die Latyn discipulus, wat in Grieks mathetes (leerling) is. Die Griekse woord kom 261 keer in die Nuwe Testament voor. Al Jesus se volgelinge word dissipels genoem: “Toe Hy al naby die afdraande teen die Olyfberg kom, het die hele skare dissipels God vol vreugde hardop begin prys oor al die kragtige dade wat hulle gesien het” (Lukas 19:37, 2020-vertaling). In die 1983-vertaling word die woord “volgelinge” gebruik. Ons lees ook in Matteus 28:19 dat Jesus aan die elf dissipels hierdie opdrag gee: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels …”
Broer
In Handelinge 18:27 (2020-vertaling) kry ons ’n goeie voorbeeld hoe die woord broers gebruik word: “Toe hy na Agaje wou afreis, het die broers hom aangemoedig en vir die dissipels geskryf om hom gasvry te ontvang.” Hierdie selfde vers in die 1983-vertaling gebruik die woord gelowiges in plaas van broers. Gelowiges word ook kinders van God genoem en daarom word gelowiges as mekaar se broers, en susters, beskou. So lees on in Galasiërs 4:28, “En julle, my broers, is net soos Isak kragtens die belofte kinders van God.” Dié woord word gewoonlik binne die kerkverband gebruik.
Kind van God
Ons lees dikwels in die Bybel hoe die beeld van vader en kinders gebruik word om die verhouding tussen God, ons Vader, en ons, sy kinders, te beskryf. Hierdie beeld sien ons byvoorbeeld in Romeine 9:4, “Hulle is tog Israeliete; vir hulle het God as sy kinders aangeneem en in sy heerlikheid was Hy by hulle”. Jesus Christus is die Seun van God, en gelowiges is God se aangenome seuns. God neem ons in sy genade as sy kinders aan, dis nie iets wat ons verdien nie.
Volgelinge van die Weg
In Handelinge word die woord weg gebruik om na die Christene se leer en lewe te verwys. “Dit erken ek egter voor u: dat ek die God van ons voorvaders dien ooreenkomstig die Weg, waarna hulle as ‘n sekte verwys” (Handelinge 24:14). Hierdie is nie ’n woord wat behoue gebly het nie, maar jy kan aan jouself dink as ’n volgeling van die Here.
Nasarener
Volgens die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE) kom twee Griekse vorms van Nasarener net in die Evangelies en Handelinge voor. In Handelinge 24:5 dui dit Jesus se volgelinge aan: “Ons beskou hierdie man as ’n gevaar vir die samelewing. Hy bring skeuring in die Joodse geledere dwarsdeur die wêreld. Hy is ‘n leier van die dwaalrigting van die Nasareners.” Behalwe in Handelinge 245 en Matteus 2:23 kom dit altyd voor in “Jesus van Nasaret”, en identifiseer Jesus dus as afkomstig van Nasaret.
Die uitverkorenes
In Kolossense 3:12 noem Paulus Christene die uitverkore volk: “Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet.” Ons lees in Efesiërs 1:4 ’n goeie beskrywing van predestinasie oftewel uitverkiesing. Dit beklemtoon dat God gelowiges uitverkies het in Christus om “heilig en onberispelik voor Hom te wees” en sy kinders te wees.
Erfgenaam van God
In die Ou Testament lees ons van israel as God se erfdeel. So ook word die volk Israel God se erfdeel genoem (Deuteronomium 32:9). In die Nuwe Testament lees ons steeds van erfgename van God, waar dié woorde vergeestelik word. In Romeine 8:17 word ons erfgename saam met Christus genoem: “Maar as ons kinders is, is ons ook erfgename – erfgename van God en mede-erfgename met Christus mits ons inderdaad saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” Ons kan nie verdien om erfgename van God te word nie, God gee dit onverdiend uit sy genade aan ons. In Galasiërs 3:18 lees ons dat ons erfenis op die belofte wat God aan Abraham gemaak het berus: “Immers, as die erfenis op die wet berus, berus dit nie meer op die belofte nie. Maar God het dit uit genade vir Abraham deur ‘n belofte geskenk.” Dié belofte is in Christus vervul en daarom is almal wat glo, kinders en erfgename van God (Galasiërs 4:7). Hulle is ook erfgename van die beloftes wat God aan Israel gemaak het (Hebreërs 6:17).
Dié lys is saamgestel met behulp van die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE). Besoek hul webwerf hier.