1

Begin ’n groep wat saam bid

Die geleentheid om saam te bid is ’n heerlike geskenk wat die Here vir sy kinders gee. Só behoort ’n gebedsgroep te lyk.

Wou jy nog altyd ’n gebedsgroep begin, maar jy is nie seker of jy moet en waar jy moet begin nie? Ook dit is ’n saak van gebed. Dink maar net aan dié woorde van Filippense 4:6 wat sê: “maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”


As jy motivering soek om ’n gebedsgroep te begin, dink hieraan:

  • Onthou dat daar net een rede is waarom jy bestaan: Nie om soveel werk moontlik in ’n dag gedoen te kry nie, en nie om iewers te kom in die lewe nie, maar om God met jou hele wese te verheerlik.
  • Erken dat alle mag en gesag aan die Here behoort. Hy alleen, en nie ons beplanning of werk nie, kan dinge laat gebeur. Lees Eksodus 33:12-18, 34:8-9 en Psalm 127:1.
  • Sien raak dat die Here aan die gebede van sy kinders ’n sentrale plek gee in die manier waarop Hy op aarde dinge laat gebeur. Sien byvoorbeeld 2 Konings 20:1-6; Handelinge 13:2-3 en Openbaring 8:3-5.
  • Weet dat God nie wil hê dat jy die geloofspad alleen moet stap nie, en dat Hy juis mense soek wat Hom dien in verbondenheid met mekaar. Lees Matteus 18:20 en Johannes 17:20-23.
  • Onthou dat Kaïn verkeerd was: ons is ons broers se oppassers en moet gedurig vir hulle bid, ook vir hulle wat ver is. Lees Genesis 4:9; 2 Tessalonisense 3:5-13 en Hebreërs 13:3.
  • Sien raak dat ons in ‘n geestelike stryd gewikkel is, ‘n stryd tot die dood. In Efesiërs 6:12 en 1 Petrus 5:8 lees ons van dié stryd.

Paaie om te volg om ’n gebedsgroep te begin

  • Kry mede-gebedsreisigers: Nooi vriende, kennisse en/of gemeentelede.
  • Besluit saam op ’n weeklikse tyd en ’n lekker stil plek.
  • Gebruik e-posse, ’n Whatsapp-groep of Facebook om deur die week kontak te behou en om gebedsversoeke of getuienisse met mekaar te deel.
  • Laat weet die res van die lidmate waaroor julle bid, sodat die gemeentes saam met julle kan bid. ’n Paar gebedspunte kan byvoorbeeld in die gemeente se nuusbrief geplaas word.

’n Gebedsgroep is altyd op reis
’n Gebedsgroep groei saam in hul gebedslewe en wys mekaar op die wonderlike maniere waarop God gebede verhoor. Onderweg sluit daar dikwels nog reisigers aan!


Só kan ’n gebedsbyeenkoms prakties werk

  • Begin deur ’n Psalm of ’n ander gebed in die Bybel te lees.
  • Gooi die vloer oop vir gebedsversoeke. Skryf neer wat elkeen sê – of dit nou op ’n groot witbord of karton is waarna almal kan kyk, of op ’n stuk papier wat in die rondte gestuur kan word soos wat julle bid.
  • Begin om te bid. Bid óf oor een saak op ’n slag, óf wag dat die witbord of papier vol is en begin dan om te bid. Beweeg in die kring om, of gewilliges kan in gebed voorgaan. ’n Groter groep kan in twee of drie groepies deel.
  • Ondersoek die Skrif. Wees wakker vir wat in jou gemeente en in jou omgewing gebeur. Wees ook wakker vir wat in jou eie lewe aan die gang is en hoe jou geloofslewe lyk. Lees die nuus, ook oor die vervolgde kerk. Lees oor “wakker wees” in Markus 13:33-37, Efesiërs 6:18 en 1 Petrus 4:7.

Roetes om te vermy met ’n gebedsgroep

’n Gebedsgroep mag nie …

  • … ’n skinder- of propaganda-klub wees nie. Praat eerder minder met mekaar.
  • … ’n weeklikse kla-geleentheid word nie. Soveel dinge as wat daar is om van die Here te vra, soveel is daar om Hom voor te dank – doen beide!
  • … ’n woordeskat-kompetisie wees nie. Stel self die voorbeeld deur in opregte, eenvoudige taal te bid en langdradigheid te vermy. Lang tye van stilte is ook heeltemal aanvaarbaar en soms wonderlik.
  • … moedeloos raak met klein getalle of sukkelende gebede nie. Lees maar net Matteus 18:20; Romeine 8:26-27 en Hebreërs 4:14-16 en onthou: julle is op reis!
  • … in blote roetine verval nie. Die leier van die gebedsgroep of van die week se byeenkoms behoort vooraf biddend te beplan. Die vraag moet elke week wees: Hoe kan ons die Here hierdie keer die meeste verheerlik?

Hou boek van vorige gebede, sodat julle kan sien hoedat die Here julle gebede beantwoord – lees maar Psalm 116:1-2: “Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede. Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het.”