Beskerm jou hart met God se borsharnas

In hierdie artikel leer ons wat bedoel word met die vryspraak deur God as borsharnas. Wat is dit, en hoe gebruik ons dit? Lees hier.

deur ds. Janré van Jaarsveld

Die Romeinse ryk het op sy dag baie vyande gehad en hulle was gereeld in konflik gewees met die volke en nasies rondom hulle. Rome se soldate, die legioene was baie goed toegerus vir elke situasie waarin hulle hulself sou bevind. Hierdie professionele soldate was van kop tot tone goed gepantser en bewapen om hul vyande gas te gee en ore aan te sit. Een van die belangrikste stukke pantser wat hulle gedra het, was ’n borsharnas.  


Wat doen ’n borsharnas?

’n Romeinse Soldaat het in Paulus se tyd ’n borsplaat of borsharnas gedra om sy hart, longe en belangrike organe teen swaarde, spiese en pyle te beskerm. ’n Soldaat is dan van sy nek tot sy bobene beskerm. So ’n borsharnas is gewoonlik gemaak van brons, ysterringetjies of ysterplate. Die borsharnas waarna Paulus in Efesiërs 6 verwys kan vandag vergelyk word met iets soos ’n koeëlvaste baadjie wat soldate, sekuriteitswagte en polisiemanne aantrek. Hierdie koeëlvaste baadjies is noodsaaklik om die belangrike organe teen dodelike wapens te beskerm en dit maak dat die soldaat gereed is om sy vyande aan te pak.  


Die vyande waarteen die Christen beskerming benodig

Ons as Christene het ook vyande. Die Heidelbergse Kategismus leer ons ons vyand is die ou mens wat ons was, die wêreld en die Satan. Elke dag baklei ek en jy teen hierdie vyand en ons weerstaan hierdie vyand, veral die satan.

Wanneer ons hierdie stryd teen die satan stry, dan weet ons, die Here is by ons en Hy gee ook vir ons die wapenrusting om hierdie stryd te stry. Een van hierdie wapenrustings wat God ons gee is die vryspraak as borsharnas.

Die duiwel se aanslae is baie seer en gemeen. Hierdie aanslae kan maak dat ek en jy heeltemal wil moed opgee. Ons elkeen het maar soms baie seer en spanning en depressie. Daardie gevoel van mislukking raak dalk net te veel. Ons is dalk baie teleurgesteld in onsself as ons in sonde beland en nie ons versoekings weerstaan nie. Daarom het ons hierdie tweede deel van die wapenrusting, die borsharnas baie nodig!


Wat is die vryspraak deur God as borsharnas?

Net soos ’n Romeinse borsharnas beskerm hierdie borsharnas ons belangrike organe wanneer ons teen die satan stry. Onthou, ons stryd is nie teen vlees en bloed nie. Die satan sal poog om ons kwesbare plekke seer te maak. Hy wil ’n skeiding bring tussen ons en God. Die satan wil ons in die versoeking lei dat ons nie vir God sal lewe nie, maar vir hom. Juis daarom rus God ons toe met die vryspraak deur God as borsharnas om te keer en te verhoed dat die Satan ons tydens die geveg ’n bloedneus of ’n uitklophou gee.

Ons ontvang die vryspraak deur Jesus

Hierdie vryspraak word vir ons deur God gegee en toegereken deur Jesus se kruisdood en opstanding. Jesus lewe in ons plek die lewe wat ons veronderstel was om te lewe. ’n Lewe 100% gehoorsaam aan God se wil en wet. Hy sterf ook in ons plek die dood en Hy ontvang in ons plek die straf wat ons moes ontvang het en Hy spreek ons vry! Efesiërs 2: 8–10 verduidelik dit vir ons baie mooi:

Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Ons ontvang die vryspraak uit genade

Ons is uit genade alleen vrygespreek en verlos! Die geregtigheid en vryspraak wat Jesus vir ons verdien het en wat deur God uit genade alleen vir ons gegee word, is ons borsharnas. Dit beskerm ons harte en siele teen die satan se aanslae en aanvalle. Hierdie borsharnas spoor ons aan om báie tyd saam met God in sy woord te spandeer dat ons God al beter kan leer ken en in ons geloof kan groei.

Ons lewe elke dag vir die Here en tot eer van die Here. Ons hou ons oë gevestig op Hom! Die satan wil met alle mag en krag ons keer om vir God te lewe. Wanneer ons gelei deur die Heilige Gees hierdie borsharnas aantrek, deur saam met God in sy woord te wandel en nader aan Hom te lewe, dan is ons toegerus vir ons stryd teen ons vyand.


Hoe gebruik ons hierdie borsharnas wat God vir ons gee?

Wanneer ons hierdie borsharnas gebruik moet ek en jy weet dat ons nie onsself red nie, ons is net uit genade alleen gered soos wat ons in Efesiërs 2 geleer het. Die Here gee ook vir ons sy Gees wat in ons woon en wat ons nou ’n nuwe lewe laat leef. Die Heilige Gees lei ons op God se pad weg van die pad van sonde en versoeking.

Ons gebruik die borsharnas deur:

1. Na God toe te vlug wanneer ons versoekings in die gesig staar

In Jakobus 4:7–8 leer ons “Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” So wanneer die satan met sy aanvalle poog om ons in die versoeking te lei, dan vlug ons na God toe. Ons nader na Hom! Ons wandel saam met God in sy Woord en ons bid dat die Here ons sterk sal laat staan en dat ons ons vreugde en vrede in Jesus ons Koning sal kry.

2. Ons harte te beskerm teen die satan se planne en aanslae

Die borsharnas beskerm jou hart – wat seker ons belangrikste orgaan is. Die Bybel leer ons hieroor in Spreuke 4:23:

Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.

Ons hart is bitter belangrik dat ons kan lewe! Die pad wat die satan ons wil laat stap lei tot die dood. Wanneer ons die borsharnas aantrek, keer dit die uitklophoue en aanslae van die satan, wat lei tot die dood wat kom as gevolg van sonde.  

3. Vermy alles wat jou kan laat struikel

Ek en jy is diep bewus van al die struikelblokke in ons lewens wat ons vatbaar maak vir sonde. Ons moet dit ten alle koste vermy. Dalk is dit ’n sekere plek wat jou laat struikel, of ’n sekere persoon of aktiwiteit of webtuiste wat jou laat struikel. Maak nie saak wat dit is nie, ons moet dit vermy en na God toe vlug!

Ons moet sovêr moontlik alles vermy wat ons in ons sonde wil aanhelp. Dit gaan dalk maak dat mense jou sien as ’n buitestander, ’n “loser” of klikkie-bek, maar ons geestelike lewenswandel en lewe is op die spel. Dit is by verre beter en van groter vreugde om alles te vermy wat ons van God kan weerhou.


Wees dankbaar vir die vryspraak deur God as borsharnas

Daardie vryspraak wat ons net in Jesus kry het Paulus se hart beskerm. Hy kon breek met sy ou lewe en teen die sonde en die satan stry.

Dit is die grootste geskenk wat ons by God kry. Dit is juis wanneer ons hierdie vryspraak in ons harte koester dat ons uit die sonde sal wil opstaan en as ’n nuwe mens vir die Here lewe. Ons is oorwinnaars! Ons hoef nie moedeloos in ons sonde te bly lê nie. Daar wag nie vir ons ’n hopelose einde nie, maar ’n eindelose hoop! Ons ontvang die geskenk van die ewige lewe, want God het ons in Jesus Christus vrygespreek.

Dié vryspraak wat ons by God kry gee ook vir ons ’n groot verantwoordelikheid. Ons moet hierdie borsharnas elke dag aantrek. Dit doen ons deur vas te glo dat ons kinders van God is. Ons trek dit aan deur ons harte vol te maak met die evangelie. Ons moet hierdie vryspraak elke dag in ons harte bewaar.

Wees dan ’n toegewyde en toegeruste soldaat vir jou Koning! Lewe elke dag met die wete dat jou hart beskerm is deur hierdie kosbare borsharnas wat God vir jou gee!  


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui