Christus gee die gawe van die ampte

deur ds. Jan-Louis Lee
Efesiërs 4 leer ons oor die roeping van die kerk – dit is letterlik wat die woord ‘kerk’ in die Grieks beteken: uitgeroeptes, uit die donkerte, na die lig van Christus.
Ongeag jou stand of status – die Here het jou met die Blye Boodskap van Christus na die lig geroep en deelgemaak van ’n gemeente.
Daarom wandel ’n gemeente as eenheid gesamentlik in hul roeping tot die Almagtige op die spesifieke plek waar Hy hulle geplaas het, met die pragtige gawes wat God tot nut en saligheid van die gemeente gegee het (vers 7).
Christus het opgevaar en gawes gegee
Paulus maak dan van Psalm 68 gebruik in verse 8 en verder om Jesus Christus se algehele oorwinning te beskryf. Hy het oor sy vyande geseëvier en die kerk vrygekoop.
Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee. Maar dít: Hy het opgevaar—wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde? Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring. En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars…
Efesiërs 4:8-11
Die beeld wat in hierdie verse gebruik word, is ontleen van die gebruik in die antieke tye waar ’n koning ’n land verower het en die vyande wat hy gevange geneem het, saam met al die buit wat hy verower het, in ’n triomftog uitgestal het. Mense het van oraloor in die strate saamgedrom soos die optog voor hulle verby sou gaan.
Die koning sou dan ook, volgens die gebruik, van die buitgoedere aan die publiek gee sodat hulle aan die oorwinning kan deelhê.
Paulus verduidelik dan dat hierdie psalm Christus as Oorwinnaar proklameer en met groot sorg as Koning gawes oor die kerk uitgiet.
Die gawes wat Christus gee
En dit is konkrete en tasbare gawes: Jesus, die Oorwinnaar oor die bose, deel skatte en gawes aan sy kerk uit:
- Die apostels en die profete, ampte wat ingestel is om die vestiging van die kerk tot uitvoering te bring.
- Gehoorsame ampsdraers wat die kerk vanuit die Woord regeer.
Elkeen het ’n besondere klem, maar in die breë gaan dit daaroor dat die Here die kerk regeer, dat Hy besondere dienste daarstel en mense roep om vanuit die besondere dienste kerkeenheid, groei en volwassenheid te bewerk.
Die ouderling is ’n geskenk van Christus; so ook die diaken; so ook die predikant. Maar die kerke sukkel gewoonlik by die volgende hekkie – die vraag na wat die ampte moet doen.
Wat is die werk van die ampte?
Watter nut het hulle? Wat is die doel waarmee die Here die ampte ingestel het en manne van geloof roep om sy dienaars te wees?
Efesiërs 4:12 gee die antwoord:
om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk …
Ampsdraers moet die gelowiges, die uitgeroepenes van God, die kerklidmate, die broers en susters in die banke toerus.
Wat beteken toerus?
Die woord “toerus” beteken:
- Om geskik te maak
- Te korrigeer
- Te orden of voor te berei.
Dit is dieselfde woord wat destyds gebruik is om te verwys na ’n Romeinse Generaal wat sy manskappe vir oorlog voorberei:
- Om hulle te voorsien van gereedskap – die swaard, spies, skild;
- Om hulle op te lei om dit reg te gebruik;
- En belangrik, om dit by hulle in te dril dat hulle as ’n eenheid sal veg.
Die ampsdraers moet gelowiges toerus
Ampsdraers is hierdie ‘generaals’ wat by wyse van spreke die gelowiges voorberei en toerus. Dit is hulle werk om die gelowiges die nodige toerusting te gee sodat hulle voorberei sal wees vir hulle werk. Nou moet ons nie die gedagte van generaals hier optel en daarmee hardloop nie!
Ons ampsdraers moet nie uit die hoogte regeer en hiet en gebied soos daardie generaals van ouds gemaak het nie. Die punt van vergelyking is hier met die gedagte van toerusting:
En die belangrikste stukkie toerusting van ’n ouderling, diaken of predikant is om die kudde te leer om – in die woorde van Paulus aan die Korintiërs ‘my te volg, soos ek Christus volg …’
- Hulle is herders wat voor loop, lei en leer.
- Nie skaaphonde wat van agter kom en die skape se pote elke nou en dan hap nie.
Want vers 12 gaan verder, as die heiliges – die gemeente – hulle dienswerk doen; hulle lewenswandel ooreenkomstig die roeping van God leef dan volg dit: “dat die liggaam opgebou word.”
Die ampte moet die gemeente tot eenheid lei
’n Ouderling se werk, ’n diaken se werk is om toe te sien dat die gelowiges sal groei in eenheid, volwassenheid en volheid. En eindelik is dit nie eintlik die ampsdraers wat die kerk toerus nie; dit is die Here wat dit deur sy Woord en Gees doen.
En as ons mooi verstaan hoe die Here roep en stuur en bekwaam maak – dan behoort ons tou te staan om bevestig te word!
- As ek werklik verstaan hoe die Here sy kerk met die ampte seën; dat Hy my gebruik en dat dit ’n voortreflike werk is – dan behoort ek my hand op te steek en te sê “HERE, stuur my!”
- Hier is ek Vader, gebruik my!
Want ongelukkig skram meeste van die roeping weg. Dis soms soos tande trek om ampsdraers te kry. Tog moet ons vul volgens gawes en nie gapings nie – die Bybel het tog duidelike riglyne daarvoor.
Die ampte moet die gemeente lei om hul dienswerk te verrig
Dit is die werk van die ampte om ’n klimaat binne-in die gemeente te skep waar die Woord en Gees die harte en denke en lewens van die lidmate kan deursuur en sodat die gelowiges hulle dienswerk kan verrig.
Dit is dalk die moeite werd om ’n ander beeld te gebruik om die punt te maak:
Soos in ’n huisgesin waar ma en pa leer en lei en help; maar nooit die rolle van die kinders oorneem nie; is dit nie die diakens, predikant of ouderlinge se werk om die dankbaarheid van die lidmate namens hulle te doen nie.
Daarom sorg die ouderlinge dat hulle deurdrenk is van die Woord om toe te sien dat dit suiwer verkondig word elke Sondag, dat die sakramente gereeld en reg bedien word; dat die afgedwaaldes tot verwantwoording aan God en sy Woord geroep word; en dat die gemeente bemoedig en versterk word.
Die ampte moet die gemeente bemoedig en versterk
Die ampsdraers is die herders, wat die gemeente besoek uit sorg vir hulle welstand. Hulle is nie amptenare van ’n munisipale raad wat kom inspeksie doen of wêrelds regeer nie. Hulle gaan ontvang nie klagtes en eskaleer dit na hoofkantoor nie.
Herders soek die kudde op met deernis en liefde. Vermaan en bemoedig soos die geval vereis.
En daarom sorg die diakens dat hulle deurdrenk is van die Woord om die voortreflikheid van die gemeenskap van gelowiges te sien! Daarom sorg die diakens dat hulle die lidmate ken en hulle nood raaksien en die gelowiges onderling aanspoor om mekaar te dien met hulle gawes. Sodat hulle lidmate bymekaar kan bring. Sodat hulle die verskil wat elkeen se besondere gawes moet bring; kan raaksien!
Die kerk bestaan nie net uit ampte nie
Dit is nie Bybels of wenslik vir die predikant, die ouderling of die diakens om die werk in die kerk alleen te behartig nie. Die sogenaamde ‘domineeskerk’, of ‘kerkraadskerk’ is ’n simptoom van ’n siek en onvolwasse gemeente.
Dit is ons roeping en taak om die Here te dien, deur mekaar te dien. Die ampsdraers moet die eenheid en volwassenheid en volheid van die Here dien, deur geleenthede te skep vir die heiliges om mekaar te dien.
- Almal kan dit in hul gemeentes doen deur sensitief te wees vir die uitdagings van ons naastes
- Deur Bybelstudiegroepe
- Wyksbyeenkomste
- Huisbesoeke
- Gemeente-etes
- Katkisasie-aksies
Ons bedien mekaar ook in die gemeenskap van gelowiges: om vir mekaar te bid, om saam te kom in die erediens, saam tee te drink na die tyd. Saam te groei en te ontwikkel in ons begrip van die genade wat die Here oor ons uitgiet.
En hierin speel die ampsdraers ’n leidende rol; maar nie ’n oornemende rol nie.