Die geestelike seëninge wat ons as ons erfenis ontvang

deur ds. Dirk Meijer
Efesiërs 1:3-14 is niks anders as ’n loflied nie. As jy dit in die oorspronklike teks sou gaan lees, sou jy agterkom dit is alles een lang sin van 202 woorde. Paulus kon letterlik nie opgesing raak oor die Here se genade nie. Hierdie loflied gaan oor die “geestelike seëninge in die hemele” wat God uit sy genade, in Christus, vir ons gee (vers 3). Hierdie geestelike seëninge gaan ook oor ’n erfdeel wat ons sal ontvang (vers 14).
Drie strofes van die loflied
In hierdie loflied hoor ons in drie strofes waaroor ons die Here loof. Die eerste strofe (vers 3 tot 6) sing oor God die Vader wat ons vir die erfenis uitverkies het. Die tweede strofe (vers 7 tot 12) jubel oor God die Seun wat die erfdeel vir ons verkry het. Die laaste strofe (vers 13 tot 14) juig oor die Heilige Gees wat ons van hierdie erfdeel verseker. Elke strofe eindig met die loflied se refrein: alles is “tot lof van God se heerlikheid” (verse 6, 12 en 14).
Die Vader verkies ons vir die erfenis
Die erfenis waaroor ons in Efesiërs 1 sing, is ’n erfenis wat geld en eiendom en enigiets anders by verre oortref in waarde. Dit is ’n geestelike en hemelse erfenis (vers 3). Ons moet egter dink aan wie is die ons wat hierdie erfenis kry. Later in die Efesiërsbrief hoor ons, ons is mense wat eens dood was (2:1), mense wat sonder God en sonder hoop in die wêreld was (2:12). Wie is ons om so ’n heerlike erfenis te ontvang?
Die antwoord lê in God se genade. Die Vader het ons vir hierdie erfenis uitgekies (vers 4). Nog voordat die wêreld geskep was, het Hy dit besluit, en wat God besluit, kan geen mens omkeer nie (Psalm 33:11).
Hieruit besef ons dat ons in Efesiërs 1 nie net sing van óns erfenis nie. Ons sing ook van Gód se erfenis wat Hy vir Homself uitverkies het. God se kinders is sy erfenis (Deuteronomium 32:9, Psalm 33:12). Hy wil deur ons as Vader geken word, en Hy wil deur ons as sy kinders verheerlik word. God self het uit sy genade alleen uitgekies wie deel sal wees van hierdie erfenis. Wie daarvan deel is, sing dan inderdaad: dit is “tot lof van die heerlikheid van sy genade” (vers 6).
Die Seun verkry vir ons die erfenis
God kies ons nie net vir die erfenis uit nie, Hy verkry ook die erfenis vir ons. Dit is wat Jesus Christus vir ons gedoen het, ons het “in Hom ’n erfdeel ontvang” (vers 11). Hierdie erfdeel is niks anders as God self nie. “Die HERE is die deel van my erfenis”, “ja, my erfenis is mooi” – so sing ons hieroor in Psalm 16:5-6 (vergelyk Numeri 18:20).
Uit ons eie is ons nie waardig om hierdie erfenis te ontvang nie. Uit ons eie is ons nie eers God se kinders nie (Efesiërs 2:2). Christus is wel waardig van hierdie erfenis, want Hy is God se eniggebore Seun.
Hierin sien ons die onmeetbare rykdom van God se genade. Christus, wat waardig was om hierdie erfdeel te besit, het Homself oorgegee tot aan die kruis. Hy het ons sondes op Hom geneem en dit gedra. Hy is in ons plek daarvoor gestraf. Die prys wat op ons rekening was, het Hy vereffen.
Nou is ons in Hom ook seuns en dogters van God. In Hom hoort ons in God se huis (Efesiërs 2:19). In Hom is ons mense wat ook nou ’n erfdeel ontvang, ’n heerlike erfdeel: God is ons God, en ons sy kinders. Dit alles het Hy gedoen “sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid” (vers 12).
Die Heilige Gees verseker ons van die erfenis
Asof dit alles nog nie oorvloedig genoeg genade is nie, gaan die loflied oor God se seëninge nog verder. God verseker ons persoonlik dat ons hierdie erfenis deur sy Seun ontvang het. Hy “verseël ons met die Heilige Gees van die belofte” (vers 13). ’n Seël is ’n merk wat getuig dat ’n besitting werklik jou eiendom is. God seël ons met Homself, met die Heilige Gees. Hy getuig in ons van die sekerheid wat ons in Christus het. Hy werk ook in ons dat ons sal leef as kinders wat deel het aan God se erfdeel.
Nie net “verseël” God ons deur sy Gees nie. Hy het die Heilige Gees ook vir ons as ’n onderpand / waarborg gegee (v. 14). Letterlik beteken dit Hy is vir ons gegee as ’n deposito – die eerste som geld wat neergesit word om te verseker dat die res kom. Hy verseker ons dat ons alles sal ontvang wat God belowe het. Hierdie erfdeel, wat ons nou al besit, sal ons ook eendag in volkomenheid besit!
Dít is genade op genade. God kies ons uit as sy erfenis, Hy verkry vir ons die erfenis, Hy verseker ons van die erfenis. En as ons erfgename van die heerlike erfdeel is, laat ons inderdaad uit hierdie loflied uit lewe “tot lof van sy heerlikheid” (vers 14).
1 Response
[…] Die geestelike seëninge wat ons as ons erfenis ontvang Lees meer oor die geestelike seëninge wat ons as ons erfenis ontvang waarvan Efesiërs 1:3-14 praat in hierdie artikel:Laai die artikel as pdf afDruk die artikel uit Share […]