Die Paaslam wys na Christus

Verwerk uit ‘n preek van ds. Jan-Louis Lee

In Eksodus 12 lees ons die spesifieke voorskrifte wat die
Here vir die Paaslam gee wat die Israeliete in Egipte moes slag en voorberei. Dit
is die lam wat God gee tot versoening sodat die Israeliete, wat net so vol
sonde soos die Egiptenare is, nie gestraf sou word nie. Deur genade word hulle
in geloof gered.

Elke gesin moes ’n jaaroudlammetjie slag. Hier is die voorskrifte waaraan dié lam moes voldoen:

1. Die regte grootte lam

Die hoof van elke huishouding moes toesien dat die dier wat hulle kies groot genoeg is om elke lid van die familie te voed. Indien ’n gesin dan te klein is om ’n lam self op te eet, moes hulle hul vleis met hul naaste buurman deel.


Die Here laat almal skuiling vind onder die gesprinkelde
bloed en elkeen het deel aan die gemeenskap van die geslagte lam.

2. ‘n Lam van die regte ouderdom

Hierdie lammetjie moes in die regte, perfekte toestand gewees het. ’n Jaaroudlammetjie is die toonbeeld van krag en prag.


Die lammetjie moes in die fleur van sy lewe wees, want
Jesus was self in die fleur van sy lewe toe Hy op die kruis geoffer is.

3. ‘n Perfekte lam in elke opsig

Israel mag nie ’n lammetjie gekies het wat sieklik was en daarom in elkgeval sou sterf nie. Hulle mag nie ’n lammetjie gekies het wat ’n gebrek van enige aard, of ’n beskadigde vel gehad het, of verlam was nie.


Nes die lammetjie sonder gebrek moes wees, weet ons dat
Jesus volmaak mens was, máár sonder sonde. 

4. Geen alleenloper of enkeling nie

Vierdens moes hulle ’n lammetjie gekies het wat deel was van die trop. Hierdie lammetjie moes nie ’n enkeling gewees het, wat alleen geloop het nie.


Jesus moes volledig deel van die volk wees. Hy moes in elke opsig gelyk wees aan ons (Hebreërs 2:17). Hy het plaasvervangend vir elkeen van ons gely.

Voorbereiding van die lam
Nadat die perfekte lam volgens die voorskrifte gekies is,was daar verdere voorskrifte oor die voorbereiding en gaarmaak daarvan.

1. Hou die lam eenkant

Die lam moes voorberei word om geslag te word. Dit moes vir vier dae bewaar word om seker te maak dat daar geen defek of siekte was nie. Indien so ’n probleem opgemerk word, was daar dan genoeg tyd om ’n plaasvervanger uit te keer.

2. Smeer die bloed

Die bloed van die lammetjie moes aan die deurposte en die bodrumpel van die huis waarin hulle die Pasga sou eet, gesmeer word. Die bloed verteenwoordig ’n lewe wat geneem is om vir die Israeliete ’n plaasvervanger te wees.
Eksodus 12:13 noem die bloed ’n teken vir die volk – en vir God: “… as Ek die bloed sien sal Ek by julle verbygaan …”
As hulle na die bloed op die deur kyk, herinner dit hulle aan die genadige verbygaan van die Here. As God die bloed sien, dan wend dit sy toorn weg van Israel af, want daar is versoening vir hul sondes gebring.

3. Braai die lam

Die vleis moes oor die vuur gebraai word. Dit mag nie rou
geëet word nie en dit mag nie in water gekook word nie. Dit mag nie op ‘n sagte
wyse gaargemaak word, soos wanneer dit gekook word nie. Dit mag ook nie in
stukke gedeel word – soos dikwels gebeur as ‘n mens iets kook nie. Wanneer die
vleis oor die vuur gaargemaak word, kom dit nie in aanraking met iets verontreinigends
nie.
Hierdie offer moes heilig wees, gewy aan die Here.

4. Eet alles op

God het bepaal dat die héle lam oor die vuur gebraai
word. Dit beeld gemeenskap af, dit simboliseer die eenheid van elkeen wat aan
hierdie offermaaltyd deel het. Álles moes opgeëet word. Niks mag daarvan oorbly
nie en indien iets oorbly moet dit verbrand word op die volgende dag.
Die paasoffer en maaltyd het betrekking op die een, enige, onvergeetlike nag van
die uittog en die eenmalige en voldoende offer van Christus.

5. Gebruik bitter kruie

Hulle moet bitter kruie daarmee saam eet. Dit simboliseer weer die bitterheid en pyniging van die slawerny in Egipte. 

6. Eet haastig

Eksodus 12:11 sê: “Julle moet dit haastig eet, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie in die hand. Dit is die paasfees van die Here.” Só moet ons ook haastig van die sonde vlug.

Diere se bloed is nie genoeg nie

Die bloed van die diere kon nie volledig versoening doen vir die sondes van die volk nie. Hebreërs 10:3-4 stel dit só: “Maar nou herinner die offers juis jaar na jaar aan die sondes, omdat die bloed van bulle en bokke onmoontlik die sondes kan wegneem.”
Die bloed van die Messias, die ware Verlosser, moes vloei. Daarom is in die Pasga ’n vooruitwysing na die volledige versoening van Jesus Christus, wat God lank vooruit beplan het.
Die lammetjie waarvan ons in die Ou Testament lees was ’n vooruitwysing na Christus.

Johannes die Doper sê inderdaad terwyl hy in die Jordaanrivier besig was om mense te doop: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld gaan verwyder” (Johannes 1:29).