Die sewe kruiswoorde

Rondom Paasfees dink ons weer aan die sewe kruiswoorde wat Jesus Christus in sy laaste ure aan die kruis gesê het. In die kruiswoorde vind ons die volle vervulling van God se offer en die volle uitdrukking van sy liefde.

Die kruiswoorde is versprei deur die Evangelies. Drie elk is in Lukas en Johannes opgeteken, terwyl een in Markus en Matteus is. Hierdie sewe kruiswoorde is tussen Jesus se kruisiging en sy sterwe opgeneem. In die woorde sien ons Jesus se menslikheid en sy Goddelikheid raak.

Die eerste drie kruiswoorde het Jesus tussen nege-uur en twaalfuur uitgespreek. In dié drie praat Jesus met die mense rondom Hom. Hierin druk Jesus sy liefde op ’n besondere wyse uit vir mense wat in nood verkeer.

Die eerste kruiswoord: Lukas 23:34

Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant. Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

Die tweede kruiswoord: Lukas 23:39-43

Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!” Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Die derde kruiswoord: Johannes 19:25-27

By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun
.” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.” Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

Tussen twaalf en drie-uur toe dit donker geword het, het daar geen kruiswoorde opgeklink nie. Na drie ure duisternis het Jesus teen drie-uur sy eie nood beklaag en hoor ons sy geestelike en fisiese worsteling. Dié vier laaste kruiswoorde is aanhalings uit die Ou Testament. Deur hierdie tekste op Homself van toepassing te maak, wou Jesus tot op die laaste oomblik die ongelowige Jode oortuig dat Hy die Messias is wat sou kom. Met sy laaste woore sien ons Jesus se absolute vertrou in sy Vader. Jesus het gesterf soos hy gelewe het, deur homself in God se hande te plaas.

Die vierde kruiswoord

Die vierde kruiswoord: Matteus 27:45-46

Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

Die vyfde kruiswoord: Johannes 19:28-29

Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.” Daar het ’n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou.

Die sesde kruiswoord: Johannes 19:30

Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!” Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.

Die sewende kruiswoord: Lukas 23:44-46

Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur; die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur. Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.”

Jy sal ook hou van ...

3 Responses

  1. Fransie Collings sê:

    Met verwysing na bostaande.
    Ek het die volledige Die sewe Kruiswoorde ‘n tydgelede geprint. Dit het Geestelik geweldig tot my gespreek. Ek het werklik toten voor by Jesus se Kruis gekom en onbedaarlik gehuil. U preek het my my absolute skuld en aandeel laat ondervind en sien in my Redder en Verlosser se dood.
    Ek wou dit nou met my man deel, maar kon net bogenoemde gedeelte vind, nie nie geheel stuk wat uit 6 bladsye bestaan nie.

    Dit is as volg:

    Rondom Paasfees dink ons weer aan die sewe kruiswoorde wat Jesus hristus in sy laatst………………………………

    Die Kruiswoorde is versprei deur die Evangelies…………………….

    Die eerste drie kruiswoorde het Jesus tussen nege uur………………..
    1.

  2. Fransie Collings sê:

    Ek het ‘n tydgelede bogenoemde preek geprint en deurgewerk. Dit het my geruk en tot by die Kruis van Jesus gebring op daardie dag. Ekk het my totale skuld besef. Ek was gebroke……….
    My man wil ook graag bogenoemde preek deurwerk…. maar ongelukkig is dit nie volledig soos die 6 bladsye wat ek deurgewerk het nie.
    Dit is soos volg gewees:
    Bogenoemde. Dan daarna volg….
    LEES HOE cHRISTUS SY LAASTE WEEK VOOR pAASFEES DEURGEBRING HET
    Saterdag en Sondag —- dan volg beskrywing met bybeltekste
    Maandag —— met bybeltekste
    Tot Sondag met bybeltekste
    Dan:
    Gebruik ‘ week se stiltetyd om te lees en te oordink wat Christus se kruisiging vir jou beteken
    (Deur Karin Bain (Verwerkuit YouVersion se leesplanne)
    Dag 1 ——————-Lees vandag Johannes 13 en 14
    Beskkrywing volg van
    Jesus dien sy dissipels tot die einde
    Dan volg Dag 2 met beskrywing tot Dag7.

    Ek sal dit hoog op prys stel indien u aan my die volledige preek kan aanstuur na bogenoemde e-mail address.
    Dit was vir my tot GROOT SEEN en REDDING. My man gaan op die oomblik ‘n groot stryd deur en ek WEET hierdie sal
    hom ook tot Jesus se voete bring.
    My grootste dank aan u. Geseende liefde en groete in Jesus se kosbare NAAM.
    Fransie Collings

  1. 2nd April 2019

    […] Lees meer oor die sewe kruiswoorde hier. […]

Laat 'n boodskap na Fransie Collings Kanselleer die opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui