Die verlore seun leer ons van God se genade
In die gelykenis van die verlore seun in Lukas 15 leer ons van God se wonderlike genade en sy onvoorwaardelike liefde vir ons.
deur Philip Hattingh
Die gelykenis van die verlore seun
’n Jong seun gaan na sy pa om te vra vir sy erfporsie. Die seun sê as ’t ware vir sy pa dat hy wens hy is al dood. Dan spandeer die seun alles deur die vreugdes van die wêreld te geniet. Sy erfdeel raak vinnig op en hy werk as ‘n arbeider om varke op te pas wat selfs beter as hy eet. Om varke te versorg was vir ’n Jood een van die grootste skandes aangesien varke as onrein beskou was. In hierdie situasie het hy sy pa se huis onthou en hoe die slawe selfs beter as hy versorg word. Met sy terugkeer het sy pa hom van ver af gesien en na hom gehardloop, hom omhels en hom weer as seun in sy huis verwelkom.
Die gelowige soos die jongste seun
Die jongste seun verteenwoordig almal wat deur God geroep is. Ons leef in ons Vader se huis met alle rykdom en seën en word in liefde versorg. Soos ’n liefdevolle pa neem die Here ons op in sy arms, Hy dra ons en het ons lief, hy leer ons loop sodat ons in sy lig en waarheid kan wandel. Tog draai ons so maklik ons rug op God. In plaas daarvan om in sy Huis te bly waar ons oorvloedig versorg word, wil ons na die wêreld en sy vreugdes draai. Ons wil inpas sodat ons kan voel die wêreld aanvaar ons. Die wêreld met sy losbandigheid, goddeloosheid en verkeerde identiteite wink vir ons en ons val so maklik vir hierdie verleiding.
Die Pa wys op ons Vader
God is net soos die pa in hierdie gelykenis. Wanneer ons, ons bekeer en na Hom terugkeer, ontvang die Vader ons onvoorwaardelik met ope arms. Vir die seun was dit juis moontlik om hom te bekeer omdat sy pa goed en genadig is. Die seun keer terug en bely en erken sy sondes. Hy bring niks met hom saam wat hy sy vader kan bied nie. Tog ontvang die vader sy seun met vreugde en liefde. God wys dat sy liefde onvoorwaardelik is en dat ons deur genade gered is sodat ons met vreugde weer in ons Vader se huis ontvang kan word. In die gelykenis hardloop die pa na sy seun. Ons Vader trek ons na Hom toe en ons ontvang lewe in oorvloed. Omdat ons dan ook nuwe en veranderde mense is, sal alles in ons lewens nuut word.
Die gelowige soos die oudste seun
Die oudste seun was ontsteld en kwaad toe hy sien hoe die jongste verwelkom is en die fees wat vir hom voorgesit word. Hy het gevoel dat hy, met alles wat hy doen, eintlik geregtig is op beloning. Hy kan nie verstaan nie, want sy broer het tog absoluut niks gedoen om hierdie redding te verdien nie.
Ons kan niks doen om God se genade te verdien nie. Deur Jesus se offer vir ons aan die kruis het Hy ons losgekoop en het ons nou die genade om in ’n herstelde verhouding met God te kan staan.
Dink aan hierdie waarhede oor genade wat dié gelykenis ons leer
- Sonde kan ons nooit van God se liefdevolle genade skei nie. “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Romeine 8:38,39).
- Dit is ’n genade dat God ons met liefde na Hom toe terugtrek en ons kan dit nie verdien nie. “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God” (Efesiërs 2:9).
- Ons lewens moet van hierdie genade getuig. “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Matteus 5:16).
- Jesus se offer het ons losgekoop sodat ons in genade kan leef: “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Efesiërs 2:10).
- Ons lewens moet verander omdat ons hierdie genade ontvang het. “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig” (Efesiërs 5:8).