Die vuur wat aanhoudend brand
Lees hier watter belangrike beginsels ons vandag kan leer uit die vuur van die brandofferaltaar in die Ou Testament.
deur ds Ruan Steyn
In die Ou-Testament het vuur ’n belangrike rol in die verlossingsgeskiedenis van Israel gespeel. In hierdie artikel fokus ons op die vuur van die brandofferaltaar. Voordat ons meer oor die vuur van die brandofferaltaar gaan leer, gaan ons eers kortliks agtergrond gee oor die gebruik van vuur in die Ou Testament.
Vuur in die Ou Testament simboliseer God se oordeel en genade
Die eerste keer wanneer ons van vuur in die Bybel lees, is in Genesis 3:24. Nadat Adam en Eva gesondig het, het die Here hulle uit die tuin van Eden verban. Ons lees dan:
Die Here God het die mens uitgedryf, en om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak, het Hy oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook ʼn vlammende swaard wat heen en weer beweeg.
Die vlammende swaard simboliseer God se oordeel. Ons sien ook dat God se oordeel deur middel van vuur uitgebeeld word wanneer Hy die stede van Sodom en Gomorra met vuur en swael verwoes (Genesis 19) en wanneer Hy vir Nadab en Abihu gestraf en met vuur verteer het (Levitikus 10:2).
Vuur simboliseer ook God se teenwoordigheid. Voordat die Israeliete die Here se wet ontvang het, het die Here vuur gebruik om sy teenwoordigheid uit te beeld. Ons sien God se teenwoordigheid in die “oond wat rook en ’n fakkel wat brand” terwyl Hy sy verbond met Abraham gesluit het (Genesis 15). In Eksodus 3 openbaar God Homself aan Moses deur middel van ’n brandende bos.
Die Here se teenwoordigheid was deur die vuurkolom in die lewe van die Israeliete sigbaar nadat Hy hulle uit Egipte verlos het en deur die woestyn na die beloofde land gelei het (Eksodus 13:21-22).
Die vuur van die brandofferaltaar
Nadat die Here sy wet aan die Israeliete gegee het, het God se teenwoordigheid deur die tabernakel sigbaar geword. ’n Belangrike element van die tabernakel-kompleks was die brandofferaltaar. Die brandofferaltaar het naby die ingang van die voorhof gestaan. Voordat die priesters en die volk die tabernakel kon nader, moes hulle eers ’n offer aan die Here gebring het (Levitikus 4).
Die vuur was belangrik gewees, want daardeur kon die Israeliete iets van God se karakter gesien het. In die eerste plek het die vuur gewys dat God regverdig is. In Deuteronomium 4:24 sê Moses vir die Israeliete: “die Here julle God is ’n verterende vuur...” Elke keer wanneer die Israeliete verby die brandofferaltaar gestap en die vuur gesien het, is hulle herinner dat God ’n regverdige, almagtige en heilige God is.
In die tweede plek wys die vuur vir die Israeliete dat God ook ’n genadige God is. In Levitikus 9:24 lees ons dat God die vuur vir die brandofferaltaar gestuur het. Die Here het vir sy volk geleer dat Hy nie net regverdig is nie, maar Hy is ook genadig. Die vuur op die brandofferaltaar moes eintlik al die Israeliete verteer het, maar die Here het dit gestuur met die doel om sy volk te red – die Here het die vuur gegee sodat sy volk hulle sondes voor Hom kon bely deur die verskillende brandoffers aan Hom te bring (Lev.4-7).
Laat die vuur aanhoudend brand
Die Here het daarom die belangrike opdrag vir die priesters gegee dat die vuur op die altaar aanhoudend moet brand (Levitikus 6:12-13). Die rede daarvoor is dat die volk aanhoudend bewus moet wees van hulle sonde, gebrokenheid en kleinheid voor die Almagtige God. Hulle moet besef dat hulle eintlik deur die vuur verteer moet word as gevolg van al hulle menigvuldige sonde. Die volk moet ook aanhoudend herinner word van God se teenwoordigheid en dat hulle van Hom afhanklik is.
Elke keer wanneer hulle die altaar en vuur sien, kan die Israeliete weet dat God genadig is. Aangesien die vuur aanhoudend gebrand het, kon die Israeliete enige tyd van die dag ’n offer aan die Here gebring het. Die enigste manier hoe die sondige Israeliete die heilige God kon nader, is deur ’n offer wat die vergewing van hulle sonde simboliseer.
Wat beteken die vuur van die altaar vir ons?
Die vuur van die brandofferaltaar leer vir ons ’n paar belangrike beginsels:
1. Ons het nie vandag nodig om ’n offer op die brandofferaltaar vir die Here te bring nie, want die tabernakel en die brandofferaltaar was ’n heenwysing na Jesus Christus en sy verlossingswerk (vgl. Hebreërs 9). Die diere wat op die altaar geoffer is, was slegs ’n plaasvervanger. Jesus Christus is die enigste en volkome offer wat in ons plek geoffer is met die doel om ons met God te versoen. Dit was nie nodig vir Jesus om met vuur verteer te word nie, want Hy het God se toorn en oordeel ervaar deur godsverlate te wees.
2. Dit is nodig dat ons aanhoudend bewus is van ons eie sonde en gebrokenheid. Jesus Christus het vir ons sondes gesterf, maar dit beteken nie dat ons kan aanhou om sonde te doen nie. Net soos die vuur aanhoudend gebrand het, so moet ons aanhoudend ons sondes voor die Here bely en glo dat God ons op grond van Christus se verlossingswerk daarvan verlos en vergewe het.
3. Net soos die vuur aanhoudend gebrand het, so moet ons aanhoudend vir die Here “brand”. God reinig ons van ons sonde en Hy stap ’n pad van heiligmaking met ons. Ons geloofspad gaan nie altyd maklik wees nie, want soos goud met vuur gelouter word, gaan ons geloof ook gelouter word (vgl. 1 Petrus 1). Ons kan uit dankbaarheid onsself aan die Here as lewende en heilige offers gee (vgl. Rom.12:1).
Net soos die vuur aanhouend gebrand het, net so gaan God altyd by ons wees. Die Heilige Gees bevestig dat God elke oomblik in ons lewe teenwoordig is.