Glo in die ware leer van die verlossing

In Handelinge 15 sien ons dat die Jode toevoegings tot die evangelie wou maak. Leer uit Petrus se woorde aan hulle wat ons van verlossing moet glo.
deur ds Coenraad Vrey
Die Reformasie word gebruiklik in dankbaarheid aan die einde van Oktober gevier. Die begrip reformasie het in kerklike konteks altyd die betekenis dat ons teruggaan na die Skrif toe. Ons wil in ons lewens as gelowiges en as kerk van Jesus Christus so getrou as moontlik aan die Woord van die Here bly. Die een kernbelangrike saak waaraan ’n mens kan agterkom of ’n gelowige en ’n kerk aan die Woord van die Here getrou is, is om te luister wat hulle in verband met die verlossing aan jou vertel.
Ons is oortuig daarvan dat ’n sondaar slegs deur die genade van God verlos word. God verlos niemand op grond van iets wat die mens bereik het of besit nie. Uit genade skenk God aan die sondaar verlossing – én Hy skenk hierdie verlossing slegs deur Christus. Die goeie nuus is dat ’n sondaar aan hierdie verlossing deel kry deur geloof. Niemand moet eers ’n standaard van heiligheid bereik voordat hy of sy verlos word nie.
Hier sien ons drie van die vyf beginsels van die Reformasie: ’n Sondaar word slegs deur die genade van God verlos. ’n Sondaar word slegs deur Jesus Christus verlos. En, ’n sondaar kry slegs deur die geloof deel aan hierdie verlossing. Ons lees egter in Handelinge dat selfs die eerste Christene hiermee gestruikel het, en ander vereistes vir verlossing wou byvoeg.
’n Argument oor verlossing ontstaan
In Handelinge 15 lees ons van ’n argument wat ontstaan het – met Paulus en Barnabas aan die een kant en die mense uit Judea aan die ander kant. Dié mense uit Judea het geglo dat Christene uit die heidendom volgens die gebruik van Moses besny moet word, anders kan hulle nie gered word nie. Die gevolg van hierdie argument is die vergadering van die apostels en ouderlinge in Jerusalem. Ons lees dan hier van die eerste keer wat ’n kerklike vergadering gehou is. Dit is nie maar net ’n kerkraad wat vergader het nie, maar twee kerke, om saam te besin oor ’n saak wat nie net hierdie twee gemeentes raak nie, maar die hele kerk van Jesus Christus.
Die Christelike geloof is nie vas aan een kultuur nie
Toe Paulus en Barnabas na afloop van die sendingreis in Antiochië gekom het, het hulle juis vir die gemeente vertel dat God ’n deur van geloof vir die heidene geopen het. Tot en met die eerste sendingreis was die meeste gemeentes hoofsaaklik Joodse Christene met Joodse gebruike. Op hierdie sendingreis het die Heilige Gees gemeentes tot stand gebring sonder enige Joodse gebruike. Dit wil sê, die Christelike geloof is ’n unieke geloof en is nie vas een kultuur nie. Wanneer hierdie mense uit Judea vir die gelowiges in Antiochië kom vertel dat hulle eers besny moes word volgens die gebruike van Moses voordat hulle regtig gered is, is hulle besig om die Christelike geloof en die Joodse kultuur met mekaar te verwar.
Die jammerte is dat ons steeds met hierdie saak sukkel. Ons vereenselwig baie maklik ons kultuur en die Christelike geloof met mekaar. ’n Man met langerige hare en tatoeëermerke wat tot bekering gebring is deur die Heilige Gees word maar traag in ’n Afrikaanse middelklas-gemeente aanvaar! So iemand moet eers soos ons word voordat ons hom heeltemal as ’n broer in Christus sal aanvaar. Dit is wat die mense uit Judea ook probeer doen het. Die mense wat uit die heidendom tot bekering en geloof in Jesus Christus gekom het, moet eers die Joodse lewenstyl hê voordat hulle aanvaar sal word. Dit is so asof die Judese manne nou kontrolebestuurders is oor wie as ’n geredde persoon kwalifiseer en wie nie.
Die Joodse gelowiges maak toevoegings tot die evangelie
Die Joodse gelowiges in Antiochië het begin om dinge by die evangelie van Jesus Christus te voeg. Sodra jy iets by die evangelie van Jesus Christus voeg, is dit nie meer die evangelie nie. Die Heilige Gees het aan Paulus en Barnabas die insig gegee om te sien dat die mense uit Judea besig is om Ou Testamentiese Joodse gebruike by die evangelie te voeg. Hulle het daarmee die Christelike geloof weer met die Joodse kultuur begin inkleur, en verder sê hulle in werklikheid dat Jesus se offer aan die kruis nie genoegsaam is om ’n mens van jou sondes en die oordeel van God te red nie. Eers wanneer jy besny is, sal jy gered wees.
Die vraag: Hoe word mense dan verlos?
Paulus, Barnabas en nog ’n paar ander van die gemeente gaan Jerusalem toe om klarigheid oor die saak te kry. Dit het duidelik geword dat die besnydenis net die begin was, want hierdie gelowiges wou hê dat die Christene uit die heidendom ook die wet van Moses moet onderhou. Die wet van Moses is nie net die Tien Gebooie nie. Dit bestaan uit oor die ses honderd goed wat gedoen en nie gedoen mag word nie. Die vraag wat ontstaan het, is: Moet gelowiges uit die heidendom ook besny word en die wet van Moses onderhou om gered te wees?
Daar word nie gesê hoe lank hulle met mekaar geredeneer en die saak bespreek het nie. Uit al die bespreking het dit duidelik geword die eintlike saak waaroor dit gaan is, hoe word mense – Jode en heidene – verlos. Die Heilige Gees het vir Petrus gelei om in die vergadering weer te vertel wat die Here in die huis van Cornelius, die Romeinse hoofman oor honderd, gedoen het.
Redding gebeur deur die genade van God
Petrus begin dadelik om op die genade van God te wys. Die verlossing van die heidene in Cornelius se huis het sy oorsprong by God gehad. God het verkies dat die heidene die woord van die evangelie deur die mond van Petrus moes hoor en gelowig word. Die genade wat God aan die heidene betoon het, is dieselfde genade wat Hy aan die Jode bewys het. God het nie onderskeid tussen die Jode en die heidene gemaak nie. Met ander woorde, God het die heidene verlos sonder dat hulle Jode geword het of enigiets anders gedoen het. Petrus sluit met hierdie woorde af (Handelinge 15:11, 1953-vertaling):
Ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook.
Dit is ’n merkwaardige stelling wat deur ’n Jood gemaak is. ’n Mens kan verwag dat Petrus sou sê dat die heidene op dieselfde manier as die Jode gered word. In plaas daarvan het die Gees hom gelei om te sê: Ons – Jode – word op dieselfde manier as die heidene gered – deur die genade van die Here Jesus Christus. Petrus en ses Joodse broeders uit Joppe het met hulle eie oë gesien dat die Joodse geloof geen duit tel wanneer dit kom by die verlossing van mense nie. Deur die wet van Moses te onderhou en die besnydenis toe te pas bring nie die Jood nader aan die verlossing as die heiden nie.
Verlossing kom dus alleen deur die genade van God – die genade wat Hy in sy Seun Jesus Christus openbaar. Die enigste manier waarop ’n sondaar aan hierdie verlossing deel kry is deur geloof in Jesus Christus. Petrus moes die evangelie aan Cornelius en sy huis verkondig sodat hulle gelowig kon word. Dan sê hy weer dat God geen onderskeid tussen die Jode en die heidene gemaak het nie. Hy het die heidene se harte deur die geloof gereinig net soos wat Hy die Jode se harte deur die geloof gereinig het. Die bewys dat die heidene in Cornelius se huis geglo en gered is, is dat God, wat die harte van mense ken, sélf aan hulle die getuienis gegee het deur aan die heidene die Heilige Gees te skenk net soos wat Hy aan die Jode gedoen het.
Alle mense het die genade van God nodig om deur die offer van Jesus Christus geregverdig te word en in genade aangeneem te word. Dit is nie nodig om enigiets daartoe by te voeg nie.