God belowe sy rus vir ons elkeen

Net soos die Israeliete word
ons ook gewaarsku: Moenie agterbly nie, hou vol tot die einde toe!

deur ds. MJ du Plessis

Die Here belowe dat as jy glo
sal jy die ewige rus kry (Hebreërs 4:3). Hy waarsku ook dat al gee Hy hierdie
belofte, kan dit gebeur dat jy agterbly as jy nie luister en glo nie. “Terwyl die belofte om in sy rus in te gaan
nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van
julle agtergebly het nie”
(Hebreërs 4:1). Die brief aan die Hebreërs is
destyds aangestuur na ander gemeentes en vir gelowiges die wêreld vol in kerke
voorgelees. Vandag is hierdie brief ook aan jou geskryf. Niemand het ’n
verskoning nie. Hebreërs 4:2 sê duidelik: “Ons het die blye boodskap ontvang
net soos hulle
.” Die evangelie is aan almal verkondig – aan ons soos aan
die Israeliete in die woestyn en aan die Christene aan wie die brief oorspronklik
gerig is.


Leer uit die verlede

Die Here het aan die Israeliete in die woestyn belowe dat
hulle die rus sal ingaan. Hulle sal tot in Palestina die beloofde land trek.
In Psalm 95:11 het die Here gesê: “Daarom
het Ek in my toorn ‘n eed afgelê dat hulle nooit sou uitkom by die rusplek wat
Ek hulle wou gee nie
.” Die Israeliete word gewaarsku want hulle het
afvallig geword. Die volk het aanhoudend geëis dat God aan hulle tevredenheid moet
gee, terwyl hulle nie hul deel teenoor God nagekom het nie. God se heerlikheid
is nie onder hulle in ere gehou nie. Daarom het die Here toornig geword en
gesweer dat daar van daardie geslag nie een in die beloofde land sou ingaan
nie. Hulle het veertig jaar rondgeswerf in die woestyn totdat hulle almal daar
gesterf het. Wanneer die skrywer van Hebreërs sê dat hulle agtergebly het,
bedoel hy hulle lyke het in die woestyn bly lê.
Ons word herinner aan die geskiedenis van Numeri 14 sodat ons nie afvallig sal
word en ons verhouding met God nie sal verflou nie. Ons moet leer uit die foute
van die wederstrewige Israeliete.

Numeri 14:22-23
nie een van die manne wat my mag en die wonders wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, gesien het, en wat My nou oor en oor getart het en nie na my woorde geluister het nie, sal die land wat Ek met ‘n eed aan hulle voorvaders beloof het, sien nie. Nie een van hulle wat My geminag het, sal die land sien nie.”


Lewe in hoop vir die ewige rus

Christus daarenteen is as Seun getrou oor die huis
van God. En ons is sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou
aan wat ons hoop
” (Hebreërs 3:6). In hierdie vers word die Hebreërs reeds daarop
gewys dat hulle aan die hoop moet vashou. ’n Christen moet so deur die aardse
tyd lewe dat hy voortdurend uitsien na die lewe hierna. Op die nuwe aarde sal
daar ewige rus en vrede by God wees – dis waarop ons hoop.
Net soos die Israeliete word ons in Hebreërs 3:8-11 gewaarsku om nie te kyk hoe
ver ons God kan versoek en tart voordat Hy ons straf nie. Moenie soos die Jode
in die woestyn alewig jou eise teen God s’n hou en dan joune as die
belangrikste ag nie.


Glo en wees gehoorsaam

Israel se ongehoorsaamheid was die oorsaak dat hulle die
rus van Kanaän verbeur het en in die dorre woestyn geval het. Ongehoorsaamheid
word uit ongeloof gebore. Daarom sê die Here in Psalm 95 dat hulle sy werke
gesien het maar sy weë tog nie geken het nie. Hulle het ondanks alles wat vir
hulle gedoen is, tog nie geglo nie. Hierdie mense het met die geweld van God se
oordeel kennis gemaak. Pasop dat jy nie een van hulle is wat in die woestyn
moet sterwe nie – en dit terwyl die rus van God so aanloklik naby is nie. Die
belofte van God se rus staan nog vir jou ook – en as jy dit nie glo nie, gaan
jy onder die verskriklike oordeel van God deurloop.


Verander jou lewe

Die Israeliete het nie
geglo het“wat hulle gehoor het nie” (Hebreërs 4:2). Ons kry
nóg meer as hulle. Ons het die bewys van God se guns en die bevestiging van sy
belofte in die Here Jesus Christus. Hy het juis gesterf sodat die belofte om in
die rus van God te kan ingaan ’n werklikheid is. Dit is nou genadetyd. Die
belofte en sy vervulling word nog gepreek. Daarom moet ons ernstig kyk na ons
lewens. In Psalm 95 staan daar in die eerste gedeelte dat die Israeliete wat
die veertig jaar oorleef het, nou ’n bepaalde leefwyse het. Lees vers 6: “Kom
ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die Here
ons Skepper!
” Moet jy ook jou lewe verander? Verwag jy die belofte van God
elke dag?


Moenie moedeloos raak nie

Soms raak mens moedeloos en dan dink ons, ons kan nie die
sonde afskud nie. Moenie dat daardie soort twyfel jou aanval en onderkry nie.
Die Heilige Gees word aan elkeen van ons gegee sodat ons deur ’n ware geloof
deel kry aan Christus en alles wat Hy gedoen het. Verder troos en herinner die
Heilige Gees ons aan die belofte van God.


Wees elke dag gereed om in die rus van God in te gaan. Veg
teen enige vorm van ongehoorsaamheid aan die Here. Moenie moedeloos wees en
dink dat jy nie kan wen nie. Veg met moed, want ons veg nie alleen nie – die
Gees van God veg saam met ons. Die belofte van God dat ons in sy rus sal
ingaan, staan. God verander nie – sy beloftes hou stand tot in ewigheid.