God se beloftes behoort aan die gelowige gesin

In Markus lees ons dat Jesus sy dissipels vermaan as hulle kinders van hom weghou. Kruispad kyk na God se beloftes aan verbondsgesinne – van sy verbond met Abraham tot hoe dit vandag vir ons geldig is.

deur ds. Coenraad
Vrey

Ons lees in Markus 10:14-16 dat mense hul kinders na Jesus toe gebring het dat Hy hulle kan aanraak. Ouers sou toe al van Jesus se wonderwerke gehoor het – hoe Hy mense gesond maak aan wie Hy raak; blindes kan sien en kreupeles kan loop. Die dissipels het egter die mense bestraf wat die kindertjies gebring het.

Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig

Jesus het hulle
gestop en dadelik vermaan. Dadelik wonder mens hoekom Jesus so kwaad geword het
vir die dissipels. Jesus antwoord dié vraag self: “want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle”.
Baie mense verduidelik hier dat dit na die onskuld van die kinders verwys, en
dat ons so onskuldig en leeg en ontvanklik soos ’n kind moet word om die
koninkryk van God in te gaan. Dit is inderdaad so dat ’n mens nie verlossing
kry omdat jy iets daarvoor gedoen het nie. God skenk die verlossing en die
geloof in Jesus uit genade aan mense wat dit nie verdien nie. En daar is
niemand wat verdien om gered te word nie. Maar regverdig dié verduideliking
Jesus se verontwaardiging?

want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle

Die koninkryk van
God is nie net vir grootmense bedoel nie. Dit behoort ook nie net aan hulle wat
eers belydenis van hulle geloof gedoen het nie. Die koninkryk van God behoort
ook aan kindertjies.
Moenie ’n verkeerde afleiding hier maak nie: Jesus, sê nie dat die koninkryk
van God aan alle kindertjies oor die ganse wêreld behoort nie. Hy praat van
daardie kindertjies voor Hom en kindertjies soos hulle. Hulle was kindertjies
van Israel – kinders van verbondsouers.


Kinders van die verbond

Toe Jesus vir sy dissipels gesê het dat die koninkryk van God aan sulke kindertjies soos dié voor Hom behoort, het Hy dit gesê op grond van wat sy Vader vroeër aan Abraham openbaar het. God het die gelowiges lief. Gelowiges is mense wat hulle vertroue in God alleen stel. God het egter nie net die gelowiges lief nie. Hy het ook hulle gesinne lief. Tydens die sondvloed het God nie net die gelowige Noag gered nie, maar ook sy vrou en sy drie seuns en hulle vrouens. Hierdie liefde wat God vir verbondsgesinne het – ouers en kinders – word duidelik uitgespel in die belofte wat die Here aan Abraham maak wanneer Hy sy verbond met hom sluit: “Ek bring ’n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ’n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag.” (Genesis 17:7). Die belofte word nie net aan Abraham gemaak nie, maar ook aan Abraham se nageslag.

Laat die kindertjies na My toe kom …

In die lig hiervan is dit te verstane dat Jesus verontwaardig was oor die optrede van die dissipels. Hulle mag nie die kinders wat in die verbond gebore is, verhinder om by Jesus die Verlosser te kom nie. Die kinders wat die Here uit genade aan gelowige ouers toevertrou, is vir die Here kosbaar. Daarom het die Vader sy Seun na hierdie wêreld gestuur. Die belofte van verlossing en vergifnis op grond van Christus se versoeningswerk, is ’n belofte wat nie net bedoel is vir grootmense nie, maar ook vir die kinders van die gelowiges.


Verbondskinders in die Nuwe Testament

Dié beloftes
verander nie in die Nuwe Testament nie. Wanneer Petrus, Jesus Christus aan die
skare mense verkondig, word hulle diep in die hart getref met die evangelie.
Wanneer hulle dan nederig vra wat hulle moet doen, antwoord Petrus: “‘Bekeer julle en laat elkeen van julle
gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en
julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en
vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God
na Hom toe sal roep
’” (Handelinge 2:38-39).
Petrus kon met sekerheid sê dat daardie sondaars voor hom vergifnis van sondes
en die Heilige Gees sou ontvang, want die belofte kom hulle toe. Dit is die
belofte wat die Here aan Abraham gemaak het om sy God te wees. Dié belofte kom
nie net die grootmense toe nie, dit is ook vir hulle kinders.


Verbondskinders vandag

Op grond van
hierdie beloftes van die Here kan ons vandag bely dat die Woord van God,
waaruit ons die wil van God leer ken, daarvan getuig dat die kinders van die gelowiges
heilig is. Niemand is van nature heilig nie, maar alleen uit die genade. Ouers
hoef dus nie te twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van hulle kinders wat
God in hulle kinderjare uit hierdie lewe wegneem nie. Elke kind wat in die
skoot van ’n gelowige verwek word, behoort aan die Here. Daarom kan ’n miskraam
of doodgeboorte of ’n gestremdheid of ’n siekte of selfs die dood nie die
gelowige se kind van God skei nie. Jesus belowe dat die koninkryk van God aan sulkes
behoort.

Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën.

As die
kindertjies by Jesus kom, neem Hy hulle in sy arms en seën hulle. Die ouers het
hulle kinders gebring sodat Jesus hulle moes aanraak, maar die kinders kry meer
as wat die ouers verwag het. Hulle ontvang die seën van die Here. Met dié
omhelsing wys Jesus konkreet dat die belofte vir hierdie kinders eg is. Hierdie
verbondskinders behoort aan God, daarom neem die Seun van God hulle in sy
omhelsing. Hy seën hulle. Met sy seën gee Hy plegtig die belofte dat die
koninkryk aan hulle behoort. Die belofte geld ook vandag.