God se eerste verbond met die mens
Die eerste verbond waarvan ons in die Bybel lees is die een wat God met Adam in die paradys maak. Lees hier meer oor dié verbond en hoe dit ’n verbond van genade word.
deur ds. Dirk Meijer
As ons sou probeer om die hele Bybel in een woord saam te vat, dan sou die woord “verbond” sekerlik ’n goeie kandidaat daarvoor wees. ’n Verbond is baie eenvoudig ‘n verbintenis tussen twee partye. In die Bybel hoor ons hoe God Homself aan ons verbind; hoe Hy sy verbond met ons oprig.
Die eerste keer waar ons die woord “verbond” in die Bybel raaklees, is in Genesis 6 wanneer God sy verbond met Noag oprig. Tog hoor ons al op die Bybel se eerste bladsye van God se verbond met die mens, al word dit nie uitdruklik so genoem nie. Reeds voor die sondeval mag ons sien hoe God sy verbond met Adam oprig.

Die verbond in die paradys
Enige verbond bestaan tussen ten minste twee partye. In die paradys sien ons die verbond tussen God en Adam. Anders as al die ander skepsels, mag Adam en Eva in ’n besonderse verhouding met die Here lewe. God blaas self die asem van die lewe in die mens se neus in. Adam en Eva word gemaak na God se beeld. Hulle kry die opdrag om te regeer oor die res van die skepping. Die verbintenis (verbond) tussen God en die mens is uniek en besonders. Die manier waarop God die Skepper met ons as skepsel omgaan is reeds ’n rede om God te loof.
Soos in alle verbonde, bevat die verbond met Adam ’n sekere belofte, eis en oordeel as die verbond nie onderhou word nie.
- Belofte: Die belofte van die verbond met Adam is dat hy en sy nageslag ewig voor God sal lewe.
- Eis: Die eis is dat Adam nie mag sondig deur te eet van die boom van kennis van goed en kwaad nie.
- Oordeel: Die oordeel of gevolg van ongehoorsaamheid sal wees dat Adam en Eva sekerlik sal sterf.
Teken van die verbond
Soos die doop vandag ’n teken van God se verbond met ons is, was daar reeds in die tuin van Eden ook ’n verbondsteken vir Adam en Eva. Die boom in die middel van die tuin moes dien as ’n herinnering daaraan dat hulle op die pad van gehoorsaamheid die belofte van ewige lewe sou kon verkry.
Omdat Adam op die pad van gehoorsaamheid deur sy werke die belofte van die ewige lewe kon verkry, word hierdie verbond ook dikwels die “werkverbond” genoem. Anders as ons wat in sonde gebore is, was Adam en Eva voor die sondeval in staat om volkome gehoorsaam aan God te wees. Hulle was in staat om hulle werk in die tuin van Eden volkome reg en tot eer van God te doen. Tog het hulle nie.
Adam en Eva verbreek die verbond
Tog het hulle nie. Deur te eet van die boom van kennis van goed en kwaad het Adam en Eva die verbond met God verbreek. In plaas daarvan om die verbondsbelofte van ewige lewe te ontvang, moet hulle nou die verbondsoordeel van ewige dood ontvang. Omdat ons almal Adam se nageslag is, was ons almal ingesluit by sy verbondsbreuk. Daarom verdien ons elkeen ook die gevolge daarvan.

’n Nuwe verbond word gemaak
Genadiglik het God vir Adam en Eva nie in hulle sonde gelaat nie. Deur die sondeval was die verbond daarmee heen, en tog het God die mens opgesoek om wéér sy verbond met ons op te rig. Nou moet die “werkverbond” egter plek maak vir God se “genadeverbond”, omdat ons nie in staat is om deur ons eie gehoorsaamheid God se beloftes te ontvang nie.
Terwyl die werkverbond verbreek is, hoor ons in Genesis 3:15 hoe rig God sy genadeverbond met ons op, ten spyte van ons sonde. God sê aan die slang: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal Hom in die hakskeen byt”.
Met reg word hierdie woorde die “moederbelofte” genoem. Hierdie belofte van Een wat sal kom om die bose te oorwin, trek soos ’n lyn deur elke verbond wat later in die Bybel kom. Dit vorm die basis vir die verbond met Noag, Abraham, Moses en Dawid, totdat dit in die Nuwe Testament uitloop op Christus.
Jesus Christus vervul die verbond
Toe die volheid van die tyd gekom het, was Jesus Christus die Een wat die kop van die slang vermorsel het. Hy het ook die werkverbond met Adam in vervulling gebring. Waar Adam nie in staat was om op die pad van gehoorsaamheid God se beloftes te verkry nie, was Christus wel. In Romeine 5:19 hoor ons: “soos deur die ongehoorsaamheid van een mens (Adam) baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Een (Christus) baie tot regverdiges gestel word”.
Terwyl die verbond met Adam berus het op sy gehoorsaamheid aan God se eis, berus die genadeverbond op Christus se gehoorsaamheid aan God se eis. Daarom dat ons dit ’n genadeverbond kan noem – want Christus het genadiglik herstel wat ons gebreek het. Hy het volbring wat Adam nie kon nie. Deur Hom is ons opnuut beeld van God om in hierdie noue verbintenis, verbond, met Hom te lewe.