God se liefde kring al verder uit
Al ons verhoudings begin by die liefde van God. Omdat God ons eerste liefgehad het, kring ons liefde uit na altyd wyer kringe. Lees hier hoe die Bybel dit beskryf.
deur ds Dirk Meijer
Ons Here Jesus het die hele wet van God in twee gebooie saamgevat toe Hy gesê het: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand”, en “jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” (Matteus 22:37, 39). Omdat God ons eerste liefgehad het, kring ons liefde uit na altyd wyer kringe: van liefde vir God tot broederliefde en van broederliefde tot naasteliefde. Die Bybel beskryf hoe hierdie liefde daadwerklik in die altyd wyer kringe uitgeleef moet word:
Liefde vir God
Sonder liefde vir God sou ons onmoontlik mekaar kon liefhê. Hierdie liefde vir God kom egter nie uit onsself nie. Ons kan God liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het (1 Johannes 4:10). Dié liefde vir God word duidelik in ons gehoorsaamheid aan sy wil (1 Johannes 5:3). Ons verheerlik God deur Christus in alles wat ons doen uit dankbaarheid vir wat ons ontvang het. Dit is ons liefde vir God wat moet oorspoel tot al die ander kringe.
Liefde vir jou gesin
Die eerste plek waar ons leer om ons naaste lief te hê, is binne ons eie gesinne. Daar behoort harmonie te wees tussen ouers en kinders en kinders onder mekaar. Die liefde moet baie daadwerklik sigbaar word soos Psalm 133 daarvan sing: “hoe goed en hoe lieflik is dat as broers ook saamwoon!” As ons nie vir ons eie gesin lief is nie, gaan ons sukkel om die liefde uit te leef teenoor ander buite die gesin. Die liefde binne ’n gesin is van besonderse belang. Paulus skryf aan Timoteus:
iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige.
1 Timoteus 5:8
Liefde vir jou familie
In die bogenoemde aanhaling (1 Timoteus 5:8) maak Paulus ’n onderskeid tussen twee familiekringe. Daar is jou “eie mense” en dan ook jou “huisgenote”. Jou “huisgenote” wys op jou ouers en broers en susters. Jou “eie mense” wys op jou breër familie. In die Skrif sien ons voorbeelde van dié liefde. Die twaalf stamme in Israel het opdrag gehad om na mekaar om te sien. Alhoewel elke stam sy eie grondgebied gehad het, was hulle opgeroep om steeds mekaar se belange op die hart te dra.
Dieselfde geld in die Nuwe Testament as ons byvoorbeeld lees van Paulus se diep besorgdheid oor baie van sy mede-Israeliete wat nie geglo het in Christus nie (Romeine 9:1-5). Ons liefde kring uit na ons breër familie – ooms en tannies, neefs en niggies – en van daar af selfs nog verder.
Liefde vir jou Familie
Terwyl ons opgeroep word tot liefde vir ons gesinne en families, is die kerk ’n familie wat ons met ’n hoofletter “F” kan skryf. Die Here leer ons immers dat ons mekaar as broers en susters moet ontvang omdat ons Hom as Vader het. Alhoewel daar baie gebrokenheid in gesinne en families is, mag ons op ’n baie besonderse manier die liefde binne die kerk beleef. Dit word “broederliefde” genoem. Hierdie liefde oorskry die grense van familiebande en sprei uit tot elke mens wat vir Christus as Here en Verlosser bely. Johannes skryf: “hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê” (1 Johannes 4:21).
Liefde vir jou naaste
Die heel wydste kring waartoe die liefde sy hande uitstrek, is die liefde tot ons naaste. “Broederliefde” is liefde tot ons medegelowiges. “Naasteliefde” is ons liefde tot alle mense. In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan wys Christus dat ons naasteliefde tot almal moet strek – afgesien van ons persoonlike voorkeure en afkeure. Aan almal verkondig ons die liefde wat God tot ons gehad het: vanaf die liefde in ons gesinne naby aan ons, tot by die liefde vir ons naaste ver van ons.