God stel gesagsfigure oor ons aan
In hierdie artikel kyk ons hoe God Israel se koningskap gevestig het, en ook ons Koning, Jesus Christus. Lees ook hier hoekom jy daarom in die verkiesing moet stem.

deur ds Philip Wepener
Volgende maand is verkiesing! Op Woensdag, 29 Mei 2024, gaan Suid-Afrikaanse burgers weer die geleentheid kry om kruisies te trek. Elke geregistreerde kieser gaan stem watter politieke party hulle wil hê moet regeer.
Statistieke toon dat deelname aan ’n verkiesing geweldig afgeneem het. Baie Suid-Afrikaanse burgers wil nie stem nie. Alhoewel baie burgers nie wil stem nie, stel hulle nog steeds intens belang watter party verkies word. Die rede is voor-die-hand-liggend: die verkiesde party regeer oor ons! Die gesag wat hulle uitoefen het ’n direkte invloed op ons lewens. Geen wonder dat so baie burgers moed opgegee het om te stem nie.
Vir die kerk daarteenoor is dit nie die volle prentjie nie. Die enigste rede hoekom ’n politieke party of mense in gesagsposisies, regeer, is omdat God – die Een wat werklik regeer – aan hulle die gesag gegee het om dit te doen.
God het die gesag oor alles en almal
In 1 Samuel 8:4 versoek Israel aan Samuel ’n koning. Op hierdie tydstip het God priesters, profete en rigters gebruik om sy volk te regeer, maar Israel wil ook soos die ander volke hulle eie koning hê (vers 5, 20; vergelyk Rigters 8:22, 9:2). Is hierdie versoek verkeerd? Ja, want God sê vir Samuel in vers 7:
Die Here het vir Samuel gesê: “Luister na die volk in alles wat hulle vir jou sê, want dit is nie jou wat hulle verwerp het nie, maar My het hulle verwerp om oor hulle koning te wees.”
In God se woorde erken Israel nie sy gesag nie. Die allerbeste, dié enigste Koning wil hulle nie as koning hê nie. God het Israel sedert hulle uittog uit Egipte gelei, beskerm en oorwinning oor ander volke gegee (vers 8). Israel het vergeet dat as dit nie vir hulle Koning en sy gesag was nie, sou hulle nog steeds in Egipte, onder die farao se gesag, swaarkry en slawerny gely het.
Israel het vergeet van hulle unieke posisie as verbondsvolk. God het hulle afgesonder vir Hom (Eksodus 19:5-6). Hulle moes nie soos die ander volke wees nie. By ander volke was die koning ’n god en hulle het afgode gedien, maar in Israel moes God, die HERE van die verbond, hulle Koning wees en hulle moes Hom dien. Hy alleen regeer, soos die hele Skrif, in besonder die Psalms, deurgans openbaar! Hy het die gesag oor almal.
God is die Een wat gesag gee
Ondanks Israel se versoek, gee God vir hulle ’n koning (1 Samuel 8:7, 9, 22). Alhoewel Israel God as koning verwerp, stel Hý ’n gesagsfiguur oor hulle aan. God is en bly die Koning. Hy sal nooit van sy troon afklim nie. Hy sal nooit sy kroon afhaal nie. En, Hy sal nooit sy septer oorgee nie.
Israel se versoek was wel nie buite God se soewereiniteit nie. Interessant genoeg, God het reeds geweet dat Israel eendag ’n koning sou vra (Deuteronomium 17:14-20, 28:36; vgl. Genesis 35:11, 49:10). Hy het voorsiening gemaak vir konings om sy volk te regeer.
Israel kry “hulle” koning
Deur die tyd van die konings was daar ’n mengsel van goeie en slegte konings. ’n Minderheid van konings was aan God gehoorsaam, terwyl die meerderheid Hom verwerp en afgode aanbid het, soos God presies gesê het (1 Samuel 8:8b).
God het vir Israel “hulle koning” gegee soos hulle versoek het, naamlik Saul. Later, nadat “hulle koning” misluk het, het God self weer vir hulle ’n koning gegee, naamlik Dawid. Met Dawid het God sy verbond opgerig, sodat uit hom die Koning wat God nog altyd bestem het om te stuur, oor Israel, ja, oor die ganse wêreld te regeer. Hierdie Koning het gekom in die gestalte van ’n dienskneg. Dit is die Here Jesus Christus!
God gee Jesus Christus as Koning
God het Jesus Christus deur die Heilige Gees gesalf en aangestel om as profeet, priester en ook koning te wees. Israel het ook Hom as Koning verwerp, selfs tot by sy kruisiging. Maar God het aan Hom die gesag gegee om vir almal wat aan Hom gegee is, aan die kruis te sterf, sodat hulle die gawe van die ewige lewe kan ontvang.
“Vader, die uur het aangebreek. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik – net soos U aan Hom gesag oor die hele mensdom gegee het, sodat Hy aan elkeen wat U aan Hom gegee het, die ewige lewe kan gee.”
Johannes 17:2
Ná die Here Jesus Christus se kruisiging en opstanding, behou Hy sy gesagsposissie. Alle mag in die hemel en op aarde behoort aan Hom (Matteus 28:18).
Saam met gesag kom verantwoordelikheid
Gesag word altyd met verantwoordelikheid aan ’n gesagsfiguur of gesagsfigure gegee. Volgens Deuteronomium 17:16-20 het God sekere opdragte vir konings gegee:
- Hy mag net nie baie perde aanskaf nie. ’n Koning moet op pas om nie sy vertroue in militêre mag te stel nie.
- Hy mag nie baie vroue aanskaf nie. Hoekom? Sodat sy hart nie van die HERE afwyk nie. Baie vroue kan hom verlei tot afgodery. Boonop, God se standaard vir die huwelik is slegs een vrou!
- Van silwer en goud mag hy nie te veel aanskaf nie. Te veel rykdom lei tot innerlike verwording. Oorversadiging met aardse besittings kan die koning blind maak om sy ampswerk behoorlik te doen.
- Hy moet vir homself ’n afskrif van die Wet maak. Die koning moet die Skrif ken, lees en daarvolgens regeer. Hy moet ontsag vir God hê.
- Hy moet hom nie hoër ag as sy volksgenote nie. ’n Koning moet ’n goeie voorbeeld vir sy land en mense stel. Hy moet nederig wees.
Hoe baie van Israel se konings het hierdie opdragte oortree! Hoe baie gesagsfigure oortree dit self nog steeds vandag. Nogtans, God se opdragte het nie verander nie.
Moet ons ons kruisies gaan trek?
Ja. Om te gaan stem, beteken dat ons God se gesag aanvaar en ek gehoorsaam die vyfde gebod. Daarmee saam is gebed en geduld ook noodsaaklik.
Laat elke mens onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en dié wat daar wel is, is deur God ingestel. Wie die gesag teenstaan, verset hulle dus teen die instelling van God, en diegene wat hulle verset, sal ’n oordeel oor hulleself bring.
Romeine 13:1-2
Wat moet ons doen as ons wel nie geregisteer is nie? Gaan registreer volgende keer. Intussen, bid vurig vir die regering, sodat hulle in staat sal wees om regverdig te regeer.
Heel eerste versoek ek dat smekinge, gebede, voorbidding en dankgebede vir alle mense gedoen word, vir konings en vir almal wat gesagsposisies beklee, sodat ons ’n rustige en stil lewe, in alle godvresendheid en waardigheid, kan lei.
1 Timoteus 2:1-2