Christus red, nie jou werke nie

Honderde jare gelede het die Reformasie ontstaan omdat die kerk ’n verkeerde verstaan van redding gevorm het. Die Bybel leer ons egter dat God se genade genoegsaam is.

deur ds. Jan-Louis Lee

Honderde jare gelede het die Reformasie ontstaan omdat die kerk ’n verkeerde verstaan van redding gevorm het. Ons kan daarvan praat as “Christus plus”. Christus plus bieg plus goeie werke is gelyk aan verlossing. Dit is egter nie die enigste wanbegrip rakende redding wat in daardie tyd na vore gekom het nie.

Die kerk se donker tyd voor die Reformasie
Selfs al het jy net bolangs kennis van die geskiedenis van die Hervorming, sal jy weet dat dit ’n tyd van groot donkerte vir die kerk was. Die Bybel is deur allerhande tierlantyntjies verplaas en selfs van die gemiddelde lidmaat weggehou, sodat die inhoud daarvan naderhand net vaagweg aan hulle bekend was.
Die pous, as ‘hoof’ van die kerk, het amper onbetwisbare mag gehad en afgestorwenes wat as heiliges verklaar is, is aanbid en verheerlik in die plek van Christus. So ook is die leer van die sakramente drasties misvorm sodat daar in plaas van die twee – Nagmaal en Doop – soos dit deur Christus ingestel is, skielik sewe te voorskyn gekom het. Boonop is daar van die gelowiges verwag om tot in die fynste besonderhede hul sondes te bely (te bieg). Een van die mees tragiese vergrype van die kerk van die dag was egter die aflaatstelsel – waarvolgens jy kon betaal (met geld!) vir jou sondes of die sondes van geliefdes wat in die vagevuur verkeer. Die Rooms-Katolieke Kerk glo daar is ’n tipe van halfweghuis tussen die hemel en die hel, bekend as die vagevuur.
Kortom het die kerk hierdie hartseer en lasterlike belydenis geleef: Christus se aardse lyding en offer aan die kruis was nuttig, maar nie genoegsaam nie. Ek moet nog ietsie bydoen om verlos te word. Verder het die gedagte posgevat dat ’n mens se lewe min of meer soos ’n skaal voor God is: jou goeie werke aan die een kant, wat gebalanseer word met jou slegte dade. Indien jou goeie werke meer is as die slegtes – kan jy op een of ander manier met God onderhandel en Hom oortuig dat jy die moeite werd is om gered te word.

Hierdie verkeerde siening oor redding is nie uniek nie

Die Bybel is deurspek van gelowiges wat hierdie leer gehuldig het, en deur die werk van die apostels tot nugterheid geroep is – gaan kyk maar na Galasiërs waar die leer van Christus plus die besnydenis en ou Joodse gebruike posgevat het, gaan kyk na hoe die Skrifgeleerdes en Fariseërs ekstra dinge by die wet van Moses gedoen het. Tot vandag toe nog glo baie mense dat ons dinge kan of moet doen om gered te word. Vandaar dat die Heidelbergse Kategismus in Sondag 24 vra:

Maar waarom kan ons goeie werke nie die geregtigheid voor God of ’n deel daarvan wees nie?

Verlossing kom nooit uit jouself nie

  • Dit is asof die mens dink Christus se verlossingswerk is te goed om waar te wees en dat hy self ’n deel aan sy verlossing moet volbring.
  • Vir een of ander rede is Christus vir die mens nie goed genoeg nie en laat sy trots hom nie toe om in oorgawe bloot God te dank en te loof en te eer vir die verlossing nie.
  • Vir een of ander rede staan die mens van nature ondankbaar voor God en kan hy nie aanvaar dat daar geen manier is waarop hy selfs ’n deel van sy verlossing kan verdien nie.


Hoekom kan ons nie op grond van goeie werke vrygespreek word nie?

Dis belangrik om te verstaan dat die Hervormers nie teen goeie werke was nie, maar dat hulle, soos ons, verstaan dat dit nie ons verlossing kan volbring nie. Die rede daarvoor is dat as ons op grond van ons werke vrygespreek sou wou word, dit in alle opsigte volmaak moet wees. Ons werke moet in alles met die wet van God ooreenstem. Elke gedagte, elke woord wat ons praat, elke daad wat ons doen moet presies volgens die wet van die Here wees – sonder dat daar ’n enkele sweempie van die sonde daaraan kleef. God eis nie 50% en Hy gee dan ook 50% nie. Hy verwag 100% gehoorsaamheid.

Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes

Die Skrif leer ons immers in Efesiërs 2:1 dat ons dood was in ons sonde en ellende. Iemand wat dood is kan tog niks bied nie. Ons beste dade is dan glad met sonde bevlek. Daarom sal dit ook nie eens help om te sê ek het darem vyf van die tien gebooie 100% gehoorsaam nie, want nie eens 99% is goed genoeg nie. ’n Mens kan nooit sê dat jy die hele wet van God nagekom het … behalwe ’n paar klein dingetjies nie. 

Al die gebooie word immers in die twee gebooie saamgevat: “Jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.   Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 22:27,29). As ek dan; met my gehoorsaamheid – oftewel my werke – op vryspraak wil aanspraak maak moet ek in alle eerlikheid kan sê dat ek nooit iets gedoen het wat teen die wil van die Here is nie. Ek moet dan nooit iets verkeerd gedoen het nie, nooit gesondig het nie, God altyd bo alles liefgehad het, en elke dag ten volle my naaste se belange bo my eie geplaas het. Geen mens kan hierop aanspraak maak nie.

Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie …

Romeine 3:10 leer ons dit mos duidelik. Niemand is volmaak aan die wet van God gehoorsaam nie. Daarom kan ons nie op grond van werke vrygespreek word nie. 


Ons word vrygespreek deur God se liefde en genade
Ons kan vasklou aan die Woord van die Here en die inhoud van die evangelie, wat ’n mens kan saamvat in twee woorde in Efesiërs 2:4: “Maar God … ” Dié teksvers sê: “Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief.” In sy barmhartigheid het God ons uit die dood opgewek. Uit sy groot genade het hy ons lewend gemaak toe ons dood was en in sonde teen Hom gerebelleer het.
Goeie werke vloei uit hierdie wete voor. Dit is hierdie wete van verlossing en vryspraak wat maak dat my lewe ’n lofoffer aan die Here is. Ons leef dankbaar en gehoorsaam in goeie werke, nie sodat ons gered sal word nie, maar omdat ons gered is. Dit is bloot die vrug van ware geloof.