Here, leer ons bid

deur Rassie Smit & Maureen van Helden

Gebed is die asemhaling van ons siel! Net soos jou liggaam dit nodig het om asem te haal, het jou siel dit ook nodig. Gebed is om met God te praat en dit veronderstel ’n geloofsverhouding tussen jou en God. Jesus het self gesê:

So moet julle bid,” (Matteus 6:9).

Die Onse Vader leer ons die volgende oor gebed:

  • Ons moet God reg aanbid as ons Vader in en deur Jesus Christus.
  • Sy eer staan eerste, Hy word telkens aangespreek as U.
  • Sy wil staan eerste.
  • Hy word smekend aangeroep – niks word afgedwing nie: dit is ‘n smekende gebed.
  • Hy word met vertroue aangeroep – die vaste vertroue dat die Here hoor en volgens sy wil verhoor, kom duidelik na vore.
  • Hy word van harte aangeroep – die hele gebed spreek daarvan.
  • Hy word met diepe verootmoediging aangeroep – sondebewustheid kom baie duidelik in die inhoud en aanslag van die Onse Vader na vore.
  • Hy word volhardend aangeroep – hierin het Jesus self die voorbeeld gestel wanneer Hy tot die Vader gebid het.
  • Hy word dankend aangeroep – ook lof en prys val hieronder: die hele trant van die Onse Vader is dank, lof en prys.