Hoe het die Afrikaanse Bybelvertaling ontstaan?

Kruispad kyk na die pad van die Afrikaanse Bybel: Van waar die Nederlandse Statevertaling Suid-Afrika toe gekom het, tot nou wat die 2020-vertaling die lig sien.

deur Philip Wepener

As ons die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling wil verstaan, moet ons teruggaan na die Nederlandse Statevertaling. Dit is immers die voorganger vir die ontstaan van die Bybel in Afrikaans. Lees die geskiedenis van die drie Afrikaanse vertalings hier.

Die Nederlandse Statevertaling (1637)

Tydens die nasionale Sinode van Dordrecht, het die kerke die groot behoefte aan ’n nuwe Nederlandse vertaling uit die grondtekste bespreek. Die Sinode het besluit om ’n amptelike vertaling te skep, wat dan ander bestaande vertalings sou vervang. Die vertalers se primêre opdragte was dat die nuwe vertaling ’n getroue weergawe moes wees uit die grondtekste en in eenvoudige en verstaanbare taal moes wees.
Die Sinode het min geld gehad en het die staat om finansiële hulp gevra. Die vertaalwerk was in 1635 voltooi, maar Nederland was geteister met ’n sterk pes-epidemie, wat baie mense se lewens gekos het. Die drukproses het uiteindelik twee jaar geneem en die nuwe vertaling is op 17 September 1637 uitgegee. Op ’n spesiale plegtigheid is ’n eksemplaar aan die State-generaal, wat die koste gedra het, oorhandig. Die vertaling is benoem as die Statevertaling of Statenbijbel en hierdie naam is net so voor in die Bybel gedruk. Dit is ook hoe dit bekend gestaan het toe dit saam Suid-Afrika toe gekom het.

Die Eerste Afrikaanse Bybelvertaling (1933)

Gedurende die 1870’s het die Statevertaling ’n geslote boek begin word. Die Afrikaanse volk kon dit nie meer goed lees en verstaan nie. Dit het gelei tot die eerste openbare pleidooi van dr. Arnoldus Pannevis en CP Hoogenhout. Op 7 September 1872 is ’n brief in De Zuid-Afrikaan geplaas waarin hulle op die behoefte van ’n eie Bybel in Afrikaans gewys het. Daar was heelwat pogings om die Bybel in Afrikaans te vertaal. In die 1890’s het dr. SJ du Toit met die hulp van ander kollegas Bybelboeke en -gedeeltes begin vertaal. Ongelukkig was SJ du Toit se vertalings nie populêr en aanvaar nie, omdat hy Bolands-dialektiese woorde en verkeerde spelwyses en grammatiese konstruksies gebruik het. Ander redes hoekom voorstanders van die Statevertaling teen ’n Bybel in Afrikaans gekant was, is omdat Afrikaans nog baie jonk en was en nie as ’n skryf- en kanseltaal erken was nie.

Die taalstryd het voortgegaan en teen die 1910’s het die teenstand stilweg begin afneem. Die verskyning van Jan Celliers, Totius en Louis Leipoldt se gedigte, CJ Langenhoven se prosa, die eerste Afrikaanse Kinderbybel deur WJ Conradie, en Afrikaans wat aanvaar is as voertaal in skole in die Kaap, Oranje-Vrystaat en Transvaal, het besondere bydraes gelewer tot die goedkeuring om die Bybel in Afrikaans te vertaal. Die besluit was dat die Bybel uit die Statevertaling in Afrikaans vertaal moes word. In 1922 het ’n proefvertaling verskyn, maar dit was ongunstig ontvang. In 1923 was daar besluit om uit die grondtekste te vertaal en die vertalers moes dieselfde grondtekste gebruik as wat vir die Statevertaling gebruik is. Verder moes die Afrikaanse vertaling letterlik vertaal word en so na as moontlik by die Statevertaling bly sodat dit deur die kerke aanvaar sou word. Die vertaalwerk was ’n gesamentlike poging deur die drie Afrikaanse susterkerke en die Britse- en Buitelandse Bybelgenootskap.

Ten spyte van groot droogte en ekonomiese stryd in die 1930’s, het die eerste skeepvrag van tienduisend Bybels op 29 Mei 1933 in Kaapstad aangekom en daarna was eksemplare deur die land versprei. Op Sondag, 27 Augustus 1933, was hierdie eerste volwaardige Bybel in Afrikaans amptelik in elke gemeente in ontvangs geneem, en ’n landwye fees was gehou. Daar is toe verder besluit dat die eindvertalers die vertaling moes hersien en verbeter. Hierdie proses het verloop tot Augustus 1953.

Die Tweede Afrikaanse Bybelvertaling (1983)

Die Afrikaanse taal het geweldig ontwikkel en verander ná 1933. So ook het die vertaalwetenskap en teksnavorsing nuwe insigte gegee. In die 1960’s het daar ’n behoefte aan ’n nuwe Afrikaanse vertaling, uit die nuutste en betroubaarste grondtekste, ontstaan. Terselfdertyd was daar ook ’n behoefte aan ’n vars vertalingsmetode wat poog om die Bybel duideliker te maak. Dit is ’n dinamies-ekwivalente vertaling genoem. Dié vertaalprojek het spoedig in 1965 begin en was weer in die hande van die drie susterkerke en die Bybelgenootskap. Oor die jare was proefuitgawes uitgegee, onder andere die Blye Boodskap in 1975 en die Nuwe Testament en Psalms in 1979. Op 2 Desember 1983, was Die Bybel: Nuwe Vertaling bekendgestel. Daar was innige dankbaarheid aan die vloeiende taal en die helderheid van begrippe en uitsprake, maar, soos met die 1933-vertaling, was daar ook besware en ongelukkigheid. Die Nuwe Vertaling is tot en met 1992 herformuleer.

Die Derde Afrikaanse Bybelvertaling (2020)

Ná die verskyning van die Nuwe Afrikaanse vertaling in 1983, het daar een na die ander beswaar op die GKSA Sinodetafels gekom. Die Sinode het gevolg gegee aan twee besware: die Verbondsnaam van die Here en die vertalingsmetode. Die Sinode het in 1994 die Bybelgenootskap versoek vir ’n nuwe vertaling vir die kerke. Die versoek was ’n vertaling in hedendaagse Afrikaans wat meer brontaalgerig is en wat so na as moontlik aan die oorspronklike teks hou. Verder dat die Verbondsnaam van die HERE, in die Ou Testament, met hoofletters moet wees.

Die Bybelgenootskap het in 2004/2005 met die derde Afrikaanse vertaling se proses begin. Navorsing het aangetoon dat daar positiewe reaksies was vir ’n brontaalgerigte vertaling wat sterk aansluit by die grondtale (soos die 1933/1953-vertaling), maar in goeie hedendaagse Afrikaans (soos die 1983/1992-vertaling) geskryf is. Dit is duidelik dat die vertalingsmetode van die Nuwe Vertaling verouder het. Die Afrikaans van 1983 is ook nie meer die Afrikaans van die 21ste eeu nie. Verder het die vertaalwetenskap en die kennis van die grondtale die afgelope jare uitgebrei.

In 2006 het die vertaalprojek begin en vir die eerste keer is al die kerke in Suid-Afrika betrek. Ongeveer 140 vertalers en 179 medewerkers het aan hierdie projek gewerk. Wat uniek is van hierdie nuwe vertaling is dat die Verbondsnaam van die Here weer met hoofletters gedruk word en baie voetnotas gebruik word. Voetnotas word gebruik om verborge verwysings van Christus in die Ou Testament aan te dui (soos in die Statevertaling).

Die Bybelgenootskap het besluit dat die nuwe vertaling bekend sal staan as Die Bybel: ‘n Direkte Vertaling. Op 12 Maart 2014 het die eerste proefuitgawe van die Nuwe Testament en Psalms verskyn. Proefuitgawes van die Ou Testamentiese-boeke is deur die jare op hul webtuiste vir kommentaar gepubliseer. Die Bybelgenootskap het positiewe kommentare, voorstelle en waarderings ontvang, maar ook ’n klein hoeveelheid negatiewe kritiek en petisies. Die meerderheid kritiek en petisies was oor die gebruik van klein- en hoofletters van Christus se Naam in die Ou Testament.

Dié vertaling sou in 2016 verskyn het, maar die vertaling van die Ou Testament het langer geneem. Einde 2019 het die Bybelgenootskap aangekondig dat die Nuwe Direkte Vertaling of die 2020-vertaling DV op 29 November 2020 sal verskyn. Daar gaan drie uitgawes wees: een met die Ou en Nuwe Testament, een met hoofletters in sekere gedeeltes van die Ou Testament en een met die Deuterokanonieke boeke (Apokriewe boeke) by.

Hierdie 2020-vertaling word op 29 November 2020 vrygestel, en is nou reeds beskikbaar. Lees meer oor dié vertaling op dié webwerf.

As jy jou Bybel in jou taal lees, dink aan die ver pad waarmee dit gevorder het om tot in jou hande te kom!