Hoe lees ek Bybel vir my kinders?

Ds. Werner Brotherton
kyk na drie opsies en praat oor die beste manier om die Bybel aan ons kinders
oor te dra.


Ons almal weet hoe belangrik dit is om ons kinders in die Here se weë op te voed. Hoe doen ek dit? Waar begin ek? Dit is ’n vraag waarmee baie ouers worstel. Met watter tipe Bybel moet ek begin? ’n Kinderbybel? ’n Gewone Bybel? Hoe weet ek wat om te kies? Of is dit dalk selfs beter om in die begin net die Bybelverhale oor te vertel? Dit is baie goed om hieroor te wonder! Ons roeping as ouers begin trouens heel eerste om ons kinders in die geloof groot te maak. Dit begin by die Bybel. Psalm 78 leer ons baie mooi dat kennis van die Here vertroue op die Here kweek.

Ons gaan hier kyk na
dié drie opsies: ’n gewone Bybel, ’n Kinderbybel en die oorvertel van
Bybelverhale. Natuurlik is daar negatiewe en positiewe aan al drie opsies wat
ons genoem het.


’n Gewone Bybel

Die gewone Bybel is die
Bybel wat jy saamvat kerk toe. Dit is dieselfde Bybel wat jy gebruik vir
Huisgodsdiens. Die positiewe aan hierdie Bybel is dat jy jou kind gewoond maak
aan die taal van die Bybel en dat jou kind dadelik leer dat dit die Woord van
God is. Dit is vir hierdie Boek waarvoor ons ontsag moet hê.
Die negatiewe is dat die Bybel moeilik kan wees om te verstaan. Soms kan ’n
kind net nie deur die hele hoofstuk wat gelees word deursit nie. Tog kan ons
nog nie hierdie opsie weggooi nie.


’n Kinderbybel

Die positiewe van ’n Kinderbybel is dat kinders se aandag sommer vinnig getrek word. Die prentjies is mooi en interessant. Verhale word op kinders se vlak geskryf. Dit maak dit sommer vir jou as ouer ook lekker om daaruit te lees.
Die negatiewe is wel dat ons die kans staan om saam met ons kinders die tweede gebod te oortree. In die meeste Kinderbybels is daar afbeeldings van Jesus in. Ons leer tog in die tweede gebod dat ons nie enige afbeeldings mag maak van dinge bo in die hemel (waar Christus op die stadium is) nie. Tweedens gaan ’n groot deel van die Bybel verlore. Kinderbybels vertel net sommige gebeure van die Bybel en romantiseer dit soms. Dit kan ook maak dat ons kinders sukkel om aan te pas met die gewone Bybel wanneer hulle skielik te oud vir Kinderbybels is.


Die oorvertel van Bybelverhale

Die positiewe van Bybelverhale oorvertel is dat ons dit op ’n opgewonde manier vir ons kinders kan vertel en dadelik hulle aandag kan trek. Ons kan bepaal hoe lank ons die verhaal moet vertel afhangende van ons kind se verstaan en luistervermoëns. Wanneer Bybelverhale oorvertel word is ons ook nie beperk tot net sekere verhale nie.
Die negatiewe daarvan om Bybelverhale net oor te vertel is dat ons kinders weereens nie daaraan gewoond raak om uit die Bybel te lees nie. Weereens sal die taal van die Bybel vir hulle onbekend bly. Hulle leer nie so vinnig ontsag vir die Woord nie.


Wat is die beste om te doen?
Natuurlik is daar nie net een regte antwoord nie. ’n Manier wat wel baie positief kan wees is om ’n Bybelverhaal te vertel met die Bybel wat oop op die tafel lê. Vertel die verhaal aan jou kind, en lees dan die kernverse van die gedeeltes direk vanuit die Bybel. Hieruit leer die kind dat die Bybel belangrik is en dat dít is waar die verhaal vandaan kom. Dit is belangrik om te onthou om die kinders se ouderdom in ag te neem. Laat jou manier van Bybel lees groei, soos jou kinders grootword.


Neem erns met die Woord van God

Ons moet self as volwassenes soms weer besef dit is die Woord van God waarmee ons besig is. In 2 Timoteus 3:14 en 15 lees ons: “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.”
Die Griekse woord vir “klein” is baba, pasgeborene. Die Woord Skrifte dui op die Ou Testament. Dit was hulle Bybel omdat die Nuwe Testament nog besig was om geskryf te word.
Jy kan jou kind in die geloof begin onderrig die dag wanneer jy met jou pasgebore baba die huis instap. Daardie eerste dag lees jy met die babatjie Bybel en bid. Soos wat ’n kind ouer word gaan jy meer uit die Bybel lees as wat jy vertel. Kweek daardie gewoonte. Waaruit? Uit die Bybel. Timoteus is uit die Bybel (Ou Testament) in die geloof groot gemaak.


Dink net aan ons eie geskiedenis. Met die Groot Trek het die kinders uit die Nederlandse State Vertaling leer lees en skryf. Wat ’n wonderlike manier om die Bybel te leer ken!