Hoe lyk ’n gelowige se begrafnis?

Dit is belangrik dat ’n begrafnis op Christus as opgestane Heer moet fokus, en nie op die afgestorwene nie. Lees hier hoe ’n gelowige se begrafnis moet lyk.

deur ds. Jan-Louis Lee

Dit is nooit maklik om ’n geliefde aan die dood af te staan nie. Veral nie wanneer die dood onverwags en selfs op ’n skokkende wyse ingetree het nie. Niks herinner ons aan ons vlietende bestaan, ons swakheid en kwesbaarheid soos die dood nie.


Ons sing dit in Psalm 89:17 (berymd): “Gedenk, O HEER, hoe swak ek is, hoe kort van duur, hoe nietig my bestaan, die dood wink iederuur …”


Die verlange aan die afgestorwene, die liefde vir daardie persoon en die emosie rondom al die dinge wat plaasvind kan oorweldigend wees soos wat ’n mens die rouproses aanpak. Omdat dit dikwels so ’n besondere moeilike tydperk is, is dit baie belangrik dat gelowiges hul troos en versterking op die regte plek gaan soek.

Hoewel dit ’n moeilike, ja soms besondere moeilike tyd is, is dit ontsaglik belangrik om te onthou dat gelowiges ook (eintlik veral) met hulle hartseer oor geliefdes wat ontslaap het, na die Here toe moet vlug. Al verstaan ons nie, al pyn ons harte, al is dit ondenkbaar om vorentoe te beweeg, moet ons gesindheid dié van Dawid in Psalm 62:2 wees:

Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil …

Die manier waarop ons die dood hanteer wys uiteindelik of ons op die een groot ankerpunt van ons geloof bou: die opstanding van Christus. Hierby staan of val ons geloof. 

Paulus stel dit uitdruklik: “… as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore …” (1 Korintiërs 15:17-18). Vreemd as wat dit klink: die manier waarop ons rou, begrawe, mekaar troos, ensovoorts, wys uiteindelik of ons glo dat Jesus Christus uit die dood opgestaan het.


Begrafnis is eintlik ’n belydenis van geloof

Wanneer ons daarom iemand begrawe, is dit, soos Paulus dit in 1 Korintiërs 15 vir ons verduidelik, soos ’n boer wat saad plant met die wete dat daardie saadjie gaan ontkiem en groei. ’n Begrafnis is ’n verkondiging van die opstanding, want “daar word gesaai in verganklikheid [en] daar word opgewek in onverganklikheid …” (1 Korintiërs 15:42). Of jy dus dit wil weet of nie: met ’n begrafnis is jy eintlik besig met ’n belangrike belydenis van geloof en dit is hierdie belydenis – van Christus se opstanding wat óns opstanding is – wat die gelowige in sy hartseer troos.


’n Begrafnis moet om Christus draai

Daarom is enige begrafnis Christusgesentreerd. Ja, dit is ’n familieaangeleentheid, maar dit gee nie die familie ’n vrypas om allerhande nie-Bybelse rituele en seremonies uit te voer nie. ’n Gelowige familie wil met die begrafnis van ’n geliefde bely dat hierdie afgestorwene – en elke lid van die familie wat nog lewe – in lewe en sterwe aan Christus behoort. Die familie wil vir elke persoon wat in rou verkeer en hartseer is oor die geliefde se heengaan, troos met die bediening van die Woord. Elkeen wat die begrafnis bywoon wil hoor van die geregtigheid in Christus wat ons onverdiend ontvang.

Gelowiges weet dat die dood verskriklik is, dat dit soms gepaard gaan met baie fisiese pyn en dat jy in jou rouproses ’n tyd lank gaan moet worstel om tot verhaal te kom. Baie mense beskryf die verlange na ’n geliefde as ’n ledemaat wat afgesny is. Wanneer ’n mens egter met paai-antwoordjies of seremonies of allerhande rituele buite Christus om die seer probeer hanteer, kan dit die verlange verdiep en die troos uitstel.


Wat gebeur wanneer die begrafnis op die afgestorwene fokus?

Dit het ongelukkig die praktyk geword dat mense by begrafnisse die lof van hul geliefde besing, lang huldeblyke saamstel en foto’s en allerhande tierlantyntjies by die begrafnis byvoeg. Heel dikwels word hierdie slideshows en huldeblyke na die bediening van die Woord uitgevoer en dan is daar nie ’n droë oog in die kerkgebou nie. 

Wanneer die fokus op die afgestorwene geplaas word, wanneer ons die begrafnis inrig as ’n eerbetoon aan hulle wat reeds by die Here is, dan kan ons nie die Here se stem reg hoor nie. Wanneer daar boonop ’n oormaat van emosionele inhoud aan die geleentheid gegee word, maak dit so ’n dag ondraaglik. 


Die enigste troos is dat die afgestorwene by Christus is

Geen huldeblyk kan troos soos die wete dat die afgestorwene voor die troon van die Here sy lof besing nie. Geen slideshow kan jou afgematte siel verkwik soos die verkondiging van Christus as opgestane Heer nie. Geen blom, hoe pragtig of goed gerangskik dit ook al mag vertoon, kan die leemte vul wat deur ’n geliefde se heengaan gelaat word nie. Net die wete dat die Lewende nie by die dooies te vinde is nie (Lukas 24:5) maak hierdie hartseer draaglik.

Wanneer ons dus ’n geliefde begrawe moet ons psalmsing tot eer van Christus – laat die Woord spreek! Laat die soberheid van die dag – die dood wat ingetree het, maar vernietig is – nie verbloem word deur allerhande kwasi-geestelike nonsens wat mens soms kwytraak nie. Dink aan sulke leë woorde soos: “sy kyk nou af na ons” of “hy kuier nou met die een of daai een”.
Laat die begrafnis beheers word deur die wete dat ons geliefde se geloof nou oorgegaan het in aanskouing (Hebreërs 12:2), en dat Christus deur die dood van ons geliefde verheerlik is (Filippense 1:20).