Hoe om hardop voor ander te bid

Is jy senuweeagtig om voor ander mense te bid? Volg hierdie riglyne om jou te help én kyk na Kruispad se 10 vinnige wenke om hardop te bid.


Daar is baie mense wat dit vermy om voor ’n groep mense te bid. Dis nie ’n noodsaaklikheid in jou lewe as Christen nie, maar soos met enige vorm van kommunikasie, kan jy met ’n bietjie beplanning en oefening dit aanleer.
Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie” (Romeine 8:26). Hierdie woorde in Romeine is nie net belangrik vir jou persoonlike gebedslewe nie, jy kan dit ook in gedagte hou wanneer jy voor ‘n groep moet bid.


Die doel van gebed
Gebed is belangrik vir jou persoonlike verhouding met God. Tog is daar ook ’n tyd wanneer ons as ’n groep saam ons harte voor God neerlê. Jy bid nie voor ander om hulle te beïndruk nie. Dit gaan glad nie oor jou nie, jy is die instrument wat hardop bid wat almal in hul harte het. Of jy nou saam jou gesin, vir iemand wat siek is, of saam ’n Bybelstudiegroep bid, jou taak is om die gemeenskaplike gevoel namens almal aan God uit te druk. Dit is ’n waardevolle manier om ander te dien.


Gesamentlike
gebed in die Bybel

’n Groep mense wat saam bid en iemand wat hardop voor ’n groep bid, is nie vreemd aan die Bybel nie. Ons lees onder andere daarvan in Handelinge 1:14 “Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed saam met ‘n aantal vroue, onder wie ook Maria die moeder van Jesus. Sy broers was ook by.” In die Ou Testament sien ons ook voorbeelde van groepe wat saam bid. 2 Kronieke 6:13-4 is ’n voorbeeld hiervan, waar Salomo bid terwyl die mense van Israel by hom is: “Hy het daarop gaan staan en toe kniel hy voor die hele gemeente van Israel … “(2 Kronieke 6:13).


10 Vinnige wenke

  1. Besluit vooraf dat jy hardop sal bid as die kans hom voordoen. So sal jy nie onkant gevang word nie.
  2. Bid vooraf en vra God om jou te help dat jy sal weet wat en hoe om te bid. Hý is die een wat jou sal leer bid.
  3. Bid hardop in jou stiltetyd. Só word jy gewoond aan jou eie stem en dit leer jou om jou gedagtes te formuleer.
  4. Onthou die doel is om saam te bid en met God te kommunikeer, nie om vir mekaar te preek nie.
  5. Jy het definitief nie groot woorde nodig nie. Hou jou aanbidding natuurlik en kort.
  6. God luister nie net na jou woorde nie, maar na jou hart. Praat uit jou hart en jy sal die regte woorde sê.
  7. Jy kan ’n oomblik neem terwyl almal stil raak, voordat jy begin bid, om jou gedagtes agtermekaar te kry.
  8. Dink aan goed wat almal in die groep raak, soos ’n eksamen wat aan die kom is.
  9. Jy bid namens almal, so onthou om ons in plaas van ek te gebruik terwyl jy bid.
  10. ’n Gebed kan net aanbidding en danksegging ook wees. Daar is soveel waarvoor ’n mens dankie kan sê.


Almal moet ’n eerste keer hardop bid. Al struikel jy oor jou woorde, is dit belangrik dat dit jou nie moet keer om weer in ’n groep te bid nie.