Hoe ontvang jy die saad van die Woord?

Die gelykenis van die saaier in Lukas 8:4-15
leer ons dat ons ontvanklik moet wees vir God se Woord en hoe ons daarna moet
luister.

deur ds. Danie de Kock

Die
gelykenis van die saaier laat ons dink aan Woordverkondiging as saad wat gesaai
word. As jy Sondae na die preek luister, is dit die predikant wat preek wat die
Woord saai. Dit gaan egter nie hier oor hoe effektief die saad is nie, maar oor
hoe ontvanklik die grond is. Dink nou: Hoeveel jare lank word die saad van die
Woord al in jou lewe gesaai? Hoe ontvanklik is jy vir die prediking? Doen jy
iets met die preek nadat jy dit Sondag in die erediens gehoor het?


Die vier soorte grond waarop die saad val

In die gelykenis (Lukas 8:4-15) verduidelik Jesus
dat daar vier soorte grond is waarop die saad van die Woord val. Elkeen van
hierdie grondsoorte ontvang die saad op ’n bepaalde manier. Volgens die Here
het dit alles te doen met die manier waarop ’n mens na die prediking luister.

1. Die saad wat op die pad val

Hierdie saad is vertrap en word deur die voëls
opgepik. In vers 12 verduidelik Jesus: “Dié
wat op die pad val, dui op mense wat die woord hoor, maar dan kom die duiwel en
neem dit uit hulle harte weg sodat hulle nie tot geloof kom en gered word nie
.”

2. Die saad wat op ’n klipbank val

Dié saad kom op, maar verdroog omdat dit geen
vogtigheid gehad het nie. Jesus verduidelik in vers 13: “Dié wat op die klipbank val, dui op hulle wat die woord met blydskap
aanneem wanneer hulle dit hoor, maar dit skiet nie wortel nie. Hulle geloof hou
net ‘n tydjie. Die oomblik dat dit op die proef gestel word, gee hulle moed op
.”

3. Die saad wat tussen die onkruid val

Hierdie saad kom saam die onkruid op en word
daardeur verstik. In vers 14 verduidelik Jesus: “Die saad wat tussen die onkruid val, dui op dié wat die woord hoor,
maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit
gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie
.”

4. Die saad wat in goeie grond val

Dié saad kom op en lewer ’n honderdvoudige oes. In vers 15 kom dié verduideliking: “Die deel wat in goeie grond val, dui op dié wat die woord met ’n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra.”


Hoe goed luister jy?
Die Here wil seker maak dat elkeen goed verstaan waaroor die gelykenis gaan. Daarom roep Hy uit: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!” (Lukas 8:8). Die erns van luister word beklemtoon in die volgende twee verse as Jesus oor die doel van gelykenisse praat: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van God te ken, maar vir die ander bly dit gelykenisse sodat hulle kyk sonder om te sien en hoor sonder om te verstaan.”
Dit beteken dat die wat die Here uitverkies het die ore kry om te hoor. Aan hulle word die geheime van die koninkryk geopenbaar en hulle kry, deur die werking van die Heilige Gees, die gawe om dit te verstaan. Hulle hoor en hulle groei in geloof en in diensbaarheid in die Here se koninkryk. Gelykenisse word verder gebruik sodat die wat nie uitverkies is nie, glad nie sal kan sien of verstaan nie. Die Woord van die Here kom tot verlossing en tot oordeel.


Pas op hoe jy luister!

Daar is in hierdie gelykenis niks oor die
effektiwiteit van die preek nie. Dit gaan nie oor die saad nie, maar oor die
plek waar die saad val en hoe daardie saad ontvang word. Dit gaan oor hoe
effektief ons luister! In Lukas 8:18
lees ons: “Pas dus op hoe julle luister, want wie het, vir hom sal
daar nog meer gegee word, maar wie nie het nie, van hom sal ook wat hy dink hy
het, weggeneem word.”

… wie het, vir hom sal daar nog meer gegee
word ….

Die woorde verwys terug na vers 8 waar die Here Jesus uitroep: “Wie ore het, en kan hoor, moet luister!” As jy deur die werking van die Heilige Gees geestelike ore gekry het om die woord te kan hoor, moet jy luister. Hierdie uitverkore kinders van God het reeds ’n goeie en opregte hart. Hulle sal nou meer ontvang: hulle bewaar die Woord en deur volharding dra hulle nou vrugte.

“… maar wie nie het nie, van hom sal ook wat
hy dink hy het, weggevat word
.”

Hierdie woorde van die Here verwys terug na die ander drie oppervlaktes waar die saad geval het asook die gebrek aan ’n goeie hart en geestelike ore. Dit wat hierdie mense dink hulle het as die saad gesaai word, dit word ook van hulle weggeneem.


Wat leer jy uit hierdie gelykenis?

Jesus verduidelik dat dit baie keer gebeur – drie uit die vier keer – dat mense dink hulle het geloof, maar dan word dit van hulle weggeneem. Net een keer, in die vierde geval, gebeur die teenoorgestelde: “die wat die woord met ’n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrugte dra.”

Hoe ons na die Here se Woord luister, is dus baie belangrik. Wie met ’n goeie en opregte hart luister en met geestelike ore hoor, sal in die geloof groei en ’n uitstekende oes lewer. Die wie se lewe vol van eie dinge is en wat toelaat dat persoonlike omstandighede in die pad kom, sal sien hoe dit wat hy of sy gedink het hulle het, ook weggeneem word. Dan bly daar niks oor nie. Daarom: Pas op hoe julle luister!