Hoe verhoor God ons gebede?

In die gedeelte waar Jesus die dissipels leer bid leer ons in watter gesindheid ons moet vra wanneer ons bid, en wat ons verwagtinge moet wees wanneer ons vra.  


deur ds. Hannes Lee

In Lukas 11:1-13 lees ons hoe Jesus die dissipels, op hul versoek, leer om te bid. Dit is die bekende “Onse Vader-gebed” wat ons ook in Matteus 6:9-13 vind. Ons sien egter dat daar spesifiek in Christus se verduideliking ná die gebed gefokus word op die volgende saak: In watter gesindheid vra ons wanneer ons bid, en wat moet ons verwagtinge wees wanneer ons vra? Wanneer ons duidelikheid oor hierdie saak het, sal ons beter verstaan hoe God ons gebede verhoor. Daarom onderrig Jesus Christus sy dissipels, en sy hele kerk, oor hierdie saak. Hy gebruik twee mini-gelykenisse om ons te laat verstaan hoe God gebede aanhoor en verhoor, en wat ons verantwoordelikheid in hierdie saak is.


Hoe ons moet vra?

In die eerste plek sien ons wat Christus ons leer oor hóé ons in ons gebede moet vra. “Gee ons elke dag ons daaglikse brood,” is hier die belangrike riglyn. God verwag dat ons daagliks ons nood en behoefte aan Hom in gebed bekend moet maak. Wanneer ons dit doen, moet ons dit altyd in afhanklikheid en geloof doen.

Vra in afhanklikheid

Om in afhanklikheid te bid, beteken dat ons sal besef dat alles wat ons het, van God af kom. Alles in die lewe word deur Hom beskik. Ons kan niks voortbring of hê as God dit nie aan ons gee nie. Hy gee aan ons wat Hy wil, volgens sy eie wil en besluit.

’n Afhanklike gesindheid in gebed beteken ook dat ons besef dat ons God nie kan dwing om vir ons te gee wat ons wil hê nie. Ons kan nie eise aan Hom stel en beveel om ons wil in ’n saak te volg nie. Ons is God se onderdane, en wanneer ons bid, moet hierdie nederigheid na vore kom. Ons mag God nie voorskryf nie, ons moet van Hom smeek.

Wat moet ons van Hom smeek? Alles wat ons nodig het in ons daaglikse lewens. Dit geld vir ons daaglikse lewensonderhoud, en die tye wanneer ons in besondere nood is. Ons moet dit deurlopend en aanhoudend doen. Hierdeur gee ons erkenning aan die almag van God, dat Hy alles in ons lewens beskik, en dit leer ons om ons behoeftes ten opsigte van die lewe so te hou dat ons met vrymoedigheid vir God daarvoor kan vra, en onsself nie daarvoor hoef te skaam nie.

Vra in geloof

Om in geloof te bid, beteken dat ons die feit dat ons kinders van God is, in gedagte sal hou wanneer ons in ons gebede dinge van God vra. Die besondere verhouding wat ons met God het, waarin Hy ons gestel het, bepaal dat Hy ons gebed op ’n sekere manier aanhoor. Ons is vir ewig sy kinders deur die verlossingswerk van ons Here Jesus Christus. Alle woede wat ons Hemelse Vader gehad het oor die sonde van sy kinders, wat vir ons ewige ellende sou beteken het, is deur Christus weggeneem toe Hy aan die kruis gesterf het. Hy het die straf daarvoor gedra, sodat niks ooit meer verwydering tussen ons en God kan bring nie.

Dit beteken nie net dat God die ewige straf wat ons verdien het, nie meer op ons sal laat neerkom nie. Dit beteken letterlik alle verwydering tussen ons en Hom is weggeneem. Daarom word ons met reg as God se huisgesin beskou, en Hy hanteer ons op dieselfde manier as wat liefdevolle aardse ouers hul kinders sal hanteer. Eintlik behandel Hy ons selfs beter, want daar is geen gebreke of foute by Hom soos daar by alle aardse ouers is nie.

Wat het dit met die verhoring van gebede te doen? Ons kan dit kortliks saamvat: Omdat God ons ewig sy kinders gemaak het, en al sy Vaderliefde oor ons uitstort, sal Hy ons alles gee wat ons nodig het.


Hoe bepaal ons wat ons nodig het in die lewe?
Ons dink baie keer ons weet wat ons alles in die lewe moet hê, en dit is waarvoor ons dan in gebed vra. Ons denke werk dan in die rigting van die volgende: “Ek het hierdie of daardie ding nodig in my lewe, en ek gaan daarvoor bid, en omdat ek dit nodig het, moet God dit vir my gee. Hy het mos gesê Hy sal dit doen!”
Dit is egter nie hoe dit werk nie. Die een wat bepaal wat ons nodig het, is die Here. Hy, wat alles van ons weet en die fynste besonderhede van ons lewens ken omdat Hy dit bepaal en daaroor regeer, weet die heel beste wat ons ten alle tye moet hê. Hy weet wat goed is vir ons om te hê, en ook wanneer ons dit nodig het. Volgens hierdie maatstawwe gee die Here dan aan sy kinders.


Wat leer ons in Lukas 11?

Alles waaroor ons tot dusver besin het, sien ons duidelik in die mini-gelykenisse in ons teks. Die eerste een, van Lukas 11:5-8, vertel ons van die persoon wat sy vriend in die middel van die nag opklop vir drie brode. Hierdie man het volle vrymoedigheid om dit van hom te vra. Hy is in nood, en volkome afhanklik van sy vriend. Op sy versoek gee die vriend hom dan alles wat hy nodig het. Daar word nie gesê dat sy vriend hom spesifiek die drie brode gegee het wat hy gevra het nie. Hy het hom gegee wat hy benodig. Dit kon minder wees, of meer. Maar dit was in elk geval genoeg om voldoende in sy behoeftes te voorsien.

Die tweede gelykenis, in vers 11-12, gaan verder in op die saak van hoe God gebede verhoor. Hier word twee voorbeelde genoem van seuns wat kos vra. In die een geval vra die seun ’n vis, en in die ander geval ’n eier. Beide hierdie dinge is goeie, normale dinge. Hierteenoor word dinge genoem wat gevaarlik en potensieel dodelik is, naamlik ’n slang en ’n skerpioen. Die beginsel wat Christus hier stel is dat die vaders van die seuns, wanneer hulle goeie dinge vra, nooit aan hulle slegte dinge sal gee nie. Net so ook sal die Hemelse Vader sy kinders nooit slegte dinge gee nie.


Vers 9 en 10 vat die saak baie mooi saam: “Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” God gee ons die opdrag om te vra wat ons nodig het. Ons moet nie skaam wees voor Hom nie. Ons moet in afhanklikheid en geloof aanhou vra. Sonder ophou, in tye van voorspoed, en tye van nood. Ons mag nooit twyfel daarin dat God met ons is en dink Hy het ons verlaat nie.


God gee die volmaakte antwoord op gebede

Maar ons moet besef: God sal in sy liefde nie afwyk van wat Hy bepaal het die beste vir ons sal wees nie. Ons moet vra, ons moet soek, en ons moet klop. Met ander woorde, ons moet bid. God maak die belofte dat ons sal ontvang. Maar ons ontvang nie noodwendig presies waarvoor ons gevra het nie. Dit sal egter die beste vir ons wees, op die gegewe oomblik. God ignoreer nie ons gebede nie. Hy hoor dit aan in die onvolmaaktheid waarmee dit gebring word, en Hy gee die volmaakte antwoord daarvoor.