Hoekom verskil die vier evangelies?

Die verhaal van Jesus Christus word vir ons uit vier oogpunte vertel – só kan ons beter verstaan wat dié goeie nuus vir ons beteken.

Deur Marco le Roux

Het jy al ooit gewonder hoekom God vir ons vier Evangelies gegee het? Dit is opvallend dat Matteus, Markus en Lukas se verhale baie ooreenstem, terwyl Johannes dieselfde verhaal vertel, maar dit in ‘n ander styl doen. Hoekom het ons dan die verskillende Evangelies nodig?
Dink so daaraan: Wanneer daar ‘n paar ooggetuies in die hof getuig weet die landdros dis die waarheid wanneer elkeen die gebeure vanuit ‘n ander hoek beskryf, maar die slotsom dieselfde is. As hulle woord vir woord dieselfde sê weet hy dat hulle vooraf saam besluit het wat hulle moet sê. Elke getuie sal iets anders noem wat hom of haar opgeval het. Dit is soos die Here al vir sy volk in die Ou Testament gesê het: “… op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal ‘n saak van krag wees” (Deuteronomium 19:15). So is dit ook met die vier Evangelies: Die verskillende oogpunte oor die verhaal van Jesus Christus en sy aardse bediening maak dit vir ons moontlik om te bepaal hoe akkuraat die inligting is.

Die woord evangelie kom van die Griekse woord wat goeie nuus of blye boodskap beteken. Só vertel Matteus, Markus, Lukas én Johannes die goeie nuus van die koms en werk van Jesus Christus.

Die skrywers van die Evangelies

In al vier Evangelies bly die boodskap diesefde, hoewel die boodskappers verskil. Omdat elkeen dit in sy eie woorde en deur sy eie ervarings beskryf kry ons ‘n vollediger beeld van Jesus Christus. Matteus, Markus en Lukas se verhale stem baie ooreen, maar elkeen het dit met sy eie beklemtonings beskryf. Die ooreenkomste maak dat hulle Evangelies die Sinoptiese Evangelies genoem word. Die woord sinopties kom van die Griekse woord wat saam-kyk beteken. Die Johannes-Evangelie is treffend anders as die eerste drie Evangelies. Dit is waarskynlik dekades ná die vorige drie geskryf (±85 n.C.) en gaan van die standpunt uit dat lesers die eerste drie Evangelies ken. Aangesien die Bybel as geheel deur God geïnspireer is (2 Timoteus 3:16), het Hy mense van verskillende agtergronde en persoonlikhede as skrywers gebruik.
Elke Evangelie-skrywer het ‘n spesifieke doel agter sy Evangelie gehad en om daardie doelstellings te behaal, het elkeen verskillende aspekte van die Persoon en bediening van Jesus Christus beklemtoon.

  1. Matteus, die tollenaar wat ‘n dissipel geword het

Die Matteus-Evangelie is deur die Joodse tollenaar, Matteus, wat een van Jesus se dissipels geword het, geskryf. Hy het hoofsaaklik vir die Jode geskryf en probeer om aan hulle te bewys dat Jesus die langverwagte Messias is waarvan daar in die Ou Testament geprofeteer word. Matteus haal verskeie kere uit die Ou Testament aan om dié doel te bereik.

  1. Markus, vriend van die dissipels

Daar word algemeen aanvaar dat dié Evangelie die een is wat eerste geskryf is (±58-62 n.C.). Dit is ook die kortste een van die vier, bykans die helfte korter as die ander Evangelies. Dié Evangelie is waarskynlik aan die kerk in Rome gerig, of ten minste aan Christene wat ’n heidense agtergrond het. Baie van die Joodse gebruike word aan lesers verduidelik. Markus was nie self een van Jesus se dissipels nie, maar hy was bevriend met onder andere Barnabas, Paulus en Petrus. Hy het veral ‘n nabye verhouding met Petrus gehad, en Petrus het waarskynlik die meeste van die inligting wat Markus geskryf het, aan hom weergegee.

  1. Lukas, die noukeurige dokter

Die Evangelie van Lukas is waarskynlik deur die mediese dokter Lukas geskryf. Lukas plaas baie klem op hoe Jesus mense jammer gekry en genees het, en gekom het om hulle te verlos. Hy was nie ‘n dissipel of ‘n Jood nie, maar ‘n reisgenoot van Paulus. In Lukas 1:3 lees ons dat hy “alles stap vir stap van voor af” ondersoek en in die regte volgorde neergeskryf het. Die Lukas-Evangelie is die langste van al vier Evanglies en ongeveer die helfte daarvan bevat gegewens wat nie elders beskryf word nie. Dié Evangelie is ook vir mense met ‘n heidense agtergrond geskryf.

  1. Johannes, die geliefde dissipel

Een van die Here se apostels, Johannes noem homself nie by die naam nie, maar sê dat die skrywer die dissipel is vir wie Jesus baie lief was (Johannes 13:23). Aangesien Johannes net soos Matteus ’n dissipel van die Here was, kon hy as getuie ’n betroubare weergawe van die blye boodskap neerskryf. Hy fokus baie meer op Jesus se woorde as sy dade, en bevat byvoorbeeld nie een van Jesus se gelykenisse nie. Johannes verduidelik die doel van sy Evangelie in Johannes 20:30-31: “Jesus het nog baie ander wondertekens … voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in syNaam die lewe kan hê”. Die boodskap wat Johannes verkondig is dus: Glo in Jesus as die Christus, en julle het die ewige lewe!

Blydskap van die getuienis

Hier is wat Johannes in een van sy briewe in die Nuwe Testament sê: “ … Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan… Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. Dit skyf ons sodat ons blydskapvolkome kan wees” (1 Johannes 1:7).

Hieruit sien ons duidelik dat ooggetuies van Jesus Christus se lewe op aarde nie onaangeraak kon wees nie. Jy kan dit nie vir jouself hou nie. In die vier evangelies maak die Here Homself duidelik aan ons bekend. Sy Woord is volmaak. Wat Hy vir ons wil sê is vasgelê en op skrif gestel. Ons glo en bely dat die Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat ons vir ons saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Die ooggetuies, die dissipels wil hê dat ons deel moet hê aan die volkome blydskap wat hulle ervaar.