Hoop vir die nuwe jaar

God wil saam met jou die toekoms tegemoetloop. Wil jy Hom by jou hê op jou lewensreis?

Deur ds. Hentie Krüger

Daar is iets betowerends‚ byna misterieus in die wisseling van die jare. Nie dat ’n blote datum ’n mens se lewe handomkeer kan verander nie, maar dit laat jou dink aan die tyd. Jare, geleenthede en drome wat kom en gaan. Dis wanneer ’n mens so vir ’n paar oomblikke tot stilstand kom en vorentoe kyk dat jy na hoop soek. En daarom is dit nodig om ’n visie vir die toekoms te hê. As ’n mens visie het‚ het jy hoop. Want ’n visie dring jou altyd vorentoe. Die toekoms in. Met verwagting. Met doelwitte.


Toe het die Here gevra: ‘Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?Toe het Moses vir Hom gesê: ‘As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie’”  (Eksodus 33:14-15).


In Eksodus 33 lees ons die gesprek tussen God en Moses. Dit volg op die verskriklike geskiedenis van die goue kalf. Moses kyk hier na hoe die pad vorentoe gaan lyk. Alles tussen God en Israel het in skerwe gelê. Van daardie oomblik af het Moses ook nie meer gemoedsrus gehad nie. Hy was onrustig, hy en die volk was alleen in die onherbergsame woestyn, en hy was nugter en vroom genoeg om te weet dat hy dit nie alleen kan doen nie. As God dan vir Moses vra of Hy saam moet gaan en vir hom vrede gee, is Moses se antwoord aangrypend. Daar is vir hom geen kwessie nie, óf die Here gaan saam, óf hulle bly net waar hulle is. God neem die angs en kommer wat Moses vir die toekoms het van hom af.

Is jou antwoord dieselfde as Moses s’n?

Vir ons is hierdie ook ’n wonderlike gedagte! Daar is niks in hierdie wêreld‚ geen vreugde en blydskap‚ geen arbeid en geen taak‚ geen teleurstelling en mislukking‚ geen droefheid of dood nie‚ of God gaan daar met ons saam. Mense gaan miskien ’n entjie van die pad saam‚ en dié wat vir ons baie liefhet‚ gaan nóg ‘n entjie saam. Maar iewers hou dit op‚ iewers bereik hulle ’n punt waar hulle nie verder saam kan kom nie. Dan moet jy alleen verder. Maar dis dan wanneer God daar is en jy in Hom gerus kan wees. Selfs in hierdie onrustige wêreld maak God ons met sy teenwoordigheid‚ sy vrede‚ sy versoening en sy troos gerus.

God se teenwoordigheid maak ’n verskil aan ’n mens se lewe. Dit is waarop Moses se getuienis neerkom: Dit is die teenwoordigheid van die Here wat maak dat ons nie hopelose mense is nie. Ons het ’n visie vir die toekoms. Want in ons toekomsdroom is God reeds teenwoordig. Wil jy die Here by jou hê op jou lewensreis? Nie net as die Beskermer God nie‚ maar ook en veral as jou Koning en Heer? God wil graag met jou saamloop. Gee jou toekomspad aan die Here oor, bely dat jy nie wil maak of jy in beheer is nie, dat jy nie self argitek oor jou lewe wil speel nie. Vra vir God om voor te loop en vestig jou hoop op Hom.

Hierdie artikel is verwerk uit ‘n preek van Ds Hentie Krüger. As jy die volledige preek wil lees, klik hier.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui