Is verslawing die vervloeking van die derde en vierde geslag?

Is verslawing aan drank of dwelms die gevolg van die tweede gebod? Lees hier wat die tweede gebod beteken en hoe die sonde nié van geslag tot geslag deur God oorgedra word nie.

deur ds. Hannes Lee

Waar kom verslawing vandaan? Wat veroorsaak dat sommige mense afhanklik raak van sekere middele en stowwe, gewoonlik skadelik, soveel so dat dit hul lewens oorneem en selfs vernietig? Ons weet dat verslawing deel is van die gebrokenheid en sonde wat die mensewêreld binnegekom het tydens die sondeval in die tuin van Eden. Dit is deel van die skade wat die skepping aangedoen is dat die mens goeie dinge wat die Here gee, begin misbruik sodat dit skadelik is.

Wat die Bybel oor wyn sê
Die Bybel is byvoorbeeld baie duidelik dat alkoholiese drank nie in oormaat gebruik mag word nie. In Efesiërs 5:18 staan: “Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (1933/53-vertaling). Dit word egter ook duidelik gestel dat alkohol in matige hoeveelhede gebruik mag word, en dat dit selfs tot voordeel van die mens kan wees. Christus self verander water in wyn by die bruilof in Kana, en Paulus skryf aan Timoteus dat die matige gebruik van wyn goed kan wees vir sy gesondheid (1 Timoteus 5:23).


Die tweede gebod en drankmisbruik

As ons dan nou spesifiek praat oor drankmisbruik, bly die vraag staan: Waar kom dit vandaan? Is dit bloot aangeleerde gedrag tussen mense, of is daar dalk ’n ander oorsprong? Daar is spesifiek die vraag wat by sommige ontstaan of die tweede gebod nie hier ’n rol speel nie. Ons vind die tweede gebod in Eksodus 20:4-6. In die 1983-vertaling staan daar:

Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.  

Daar is sommige mense wat bang is dat die vervloeking wat in hierdie gebod genoem word (die toerekening van sondes) beteken dat die geneigdheid tot sonde van geslag tot geslag oorgedra word. Dat God die nageslagte van ’n sondaar straf vir die sonde van daardie persoon, en dat dieselfde sonde dan deur die nageslagte gepleeg word. Die gedagte is dus: God bind die nageslagte van ’n sondaar in vervloeking. As oupagrootjie ’n alkoholis was, dan sal oupa, pa en seun ook alkoholiste wees.

As ’n mens na die wyse kyk waarop die ander Afrikaanse vertalings hierdie frase stel (“Ek, die Here jou God is ’n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, tot aan die derde en vierde geslag van die wat my haat” in die 1933/53-vertaling en “Ek, die Here jou God, is ’n besitlike God, wat kinders laat boet vir die sondeskuld van ouers” in die 2020-vertaling), kan ons verstaan dat hierdie gedagte kan ontstaan.


Wat mense in die Bybelse tyd daaroor geglo het

In die tyd van die Ou en Nuwe Testament was daar ook baie mense wat so gedink het, soveel so dat dit algemeen aanvaar is as die waarheid onder die Israeliete, en later ook die Jode. In Esegiël 18:2 en Jeremia 31:29-30 word daar verwys na ’n spreekwoord wat die Israeliete gehad het, naamlik: “Die vaders het die groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword.”

Hierdie spreekwoord maak dit duidelik dat die mense geglo het dat kinders gestraf word vir hul ouers se sondes, dat hulle die gevolge dra vir dade wat hul ouers gedoen het. Telkens word aan die volk wat hierdie spreekwoord gebruik verduidelik dat dit nie so is nie. Dat die skuld vir ouers se dade nie deur kinders gedra word nie. Daarom is daar ook nie ’n vervloeking van God wat maak dat kinders ’n sonde doen outomaties omdat hul ouers dit gedoen het nie.

Die boodskap in Esegiël en Jeremia is duidelik: Die enigste sonde ter sprake in ’n mens se lewe is sy eie. Alle gevolge wat as gevolg van sonde gedra moet word is ’n persoon se eie.

Wat die Bybel sê

Die Bybel openbaar ook dan aan ons dat God se genade so groot is oor sy kinders, dat ons nie self vir die sonde van ons lewens hoef te betaal of die skuld daarvoor hoef te dra nie. Ja, ons het almal swaar voor God gesondig, maar Hy het daardie sonde op sy Seun Jesus Christus laat neerkom met sy kruisdood. Hy het daarvoor betaal sodat ons nie daarvoor hoef te betaal nie, en met sy opstanding die bewys gelewer dat God se kinders ook uit die dood sal opstaan. Die betaling vir ons sonde het reeds gebeur. Vanuit ’n ewigheidsperspektief word ons tande nie eers stomp as gevolg van ons eie sonde nie!

Wat ons in Johannes lees

Die gedagte dat die sonde van die vader juis nie outomaties oorgedra word aan die kinders nie, sien ons ook in die Nuwe Testament. In Johannes 9:2 vra Jesus se dissipels Hom, wanneer hulle ’n blinde man teëkom, of die man blind is omdat hý gesondig het, of sy ouers. Die implikasie is dat die gevolge van sonde deur die geslagte van mense kan gaan, en dat dit moontlik hier die geval is. Jesus antwoord ook hier dat dit nie so is nie, maar dat God se dade deur die man se blindheid geopenbaar gaan word. Geen vinger is te wys vir hierdie man se blindheid nie. Nie na hom nie, ook nie sy ouers nie!


Die verband van sonde tussen geslagte
Die gedagte dat dinge soos alkoholisme die skuld van vorige geslagte is bestaan dus tot vandag toe. Daar steek tog iets van die waarheid in hierdie gedagte. Daar is ’n verband tussen sonde van voorouers en die sonde van kinders. Nie die outomatiese oordrag van sondige gedrag of skuld nie, want die Here self maak dit duidelik dat dit nie so kan wees nie. Nee, die verband lê eerder op die vlak van voorbeeld. Dit is dan ook die bedoeling van die tweede gebod.


Wat die tweede gebod beteken

Kom ons kyk mooi na hoe die stellings van Eksodus 20:4-6 op mekaar volg. Die Here kondig eerste af dat ’n mens, kortliks gestel, niks in die skepping mag afbeeld om dit te aanbid nie. In die Ou Testamentiese tyd het hierdie die maak van afgodsbeelde behels, maar ook die maak van dinge in die skepping om God voor te stel en dit te aanbid. God verbied dit ten sterkste! ’n Baie duidelike voorbeeld van ’n oortreding hiervan was toe die volk in die woestyn, onder leiding van Aäron, ’n beeld van ’n goue kalf gemaak het om God voor te stel sodat hulle dit kon aanbid.

Die beginsel agter hierdie verbod is dat ’n mens, wanneer hy homself die vryheid toe-eien om God af te beeld om te aanbid, hy God baie keer volgens sy eie voorkeure voorstel, eerder as wat God Homself aan ons openbaar. Ons moet ook raaksien hoe hier nie noodwendig net van fisiese afbeeldings gepraat word nie, maar ook die “beeld” of “idee” of “prentjie” van God wat ons in ons koppe het wanneer ons aan Hom dink. As ons idee oor God nie volgens die Bybel is nie, is dit ’n valse afbeelding van Hom, en gaan ons Hom nie reg aanbid nie.

Wat dié regte betekenis van die tweede gebod prakties beteken

As ons verkeerd oor God dink, oortree ons hierdie gebod, en aanbid ons Hom verkeerd. As ons dan nou voortgaan om God moedswillig verkeerd te aanbid, kom daar groot probleme. Dan begin dit gewoonte word om God volgens my voorkeure te dien, en nie volgens sy voorskrifte nie. Dan begin ek vir myself sê: “Ek kan hierdie en daardie sondes doen (byvoorbeeld om drank gereeld te misbruik), en dit is maar reg so; dit sal God nie pla nie.” So dink ons ons kan as kinders van die Here moedswillig sondig, en Hy moet dit maar aanvaar.

Wanneer hierdie gedrag gevestig word, begin ons kinders en ons kleinkinders dit raaksien. Dan word hulle gesindheid maklik ’n geval van: “As pa en oupa dit doen is dit reg, daarom gaan ek dit ook doen.” My verkeerde voorbeeld leer dan aan my kinders dat dit reg is om God verkeerd te dien. Op hierdie manier vind die vervloeking van die tweede gebod plaas. Dit gaan nie daaroor dat die kinders die ouers se sondes of gewoontes outomaties ontvang nie, maar hul leer dit regdeur hul lewens aan. Die invloed van voorbeeld kan, inderdaad, tot in die derde en vierde geslag gaan van diegene wat God doelbewus verkeerd dien.

Op hierdie manier, en geen ander, sou iets soos alkoholisme dan “in die familie loop.” Nie outomatiese vervloeking nie, nie bonatuurlike binding nie; dit is doodgewone aangeleerde gedrag.


Sien die liefde en genade in die tweede gebod raak
In die afkondiging van die tweede gebod, ook in hierdie saak, moet ons God se liefde en genade raaksien. Die duisende, of duisendste geslagte (afhangende van vertaling) aan wie God sy liefde betoon ten opsigte van hierdie gebod, dui op die onbegrensde en oorvloedige wyse waarop Hy sy liefde uitdeel aan sy kinders, juis sodat hulle nie hierin vasgevang word en volhard tot aan die einde van hul lewens nie. God sorg dat daar in sy kerk verbondsgeslagte is wat mekaar opvolg in die regte diens aan die Here, wat nie ’n verkeerde beeld van God aanhang nie en wat Hom volgens sy wil dien.


Die goeie nuus vir ons elkeen!

As ek besef dat daar iets in my lewe verkeerd is, dat ek dinge doen wat verkeerd is in die oë van die Here, wat dalk aan my geleer is as iets wat reg is; en dit pla my, sodat ek dit tot eer van die Here wil verander, gee Hy my ook nie oor aan die sonde nie! Dan is ek nie die einde van ’n geslag van moedswillige sondaars en Godshaters nie, maar die begin van ’n nuwe geslag Godvresendes en gehoorsames! Want dan het Hy deur sy Gees in my gewerk om sondebesef voort te bring, waarop bekering en gehoorsaamheid volg.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui