Jesus Christus vervul die drie ampte

Jesus Christus is die ware Koning, Profeet en Priester, net soos dit in die Ou Testament aangevoer word. Lees hier hoe Hy hierdie ampte kom vervul.

deur ds Ruan Steyn

In hierdie uitgawe van Kruispad is die fokus op die dienste van koning, profeet en priester. In die Ou Testament sien ons hoe hierdie dienste ’n heenwysing na Jesus Christus is, wat die ware Koning, Profeet en Priester is. Hoe is hierdie drie dienste in Jesus Christus vervul?


In die begin

Ons moet kortliks eers by die begin stilstaan. God het die hemel en die aarde geskape, en op die sesde dag het Hy die mens geskape. Adam, die eerste mens, was ’n goeie man, wat gelukkig, gesond en heilig was. Die Here het gesê dat dit nie goed vir Adam is om alleen te wees nie. En daarom het die Here vir hom ’n helper geskape. Die vrou het vir Adam in sy roeping in die tuin van Eden gehelp.

Die Here het vir Adam aangestel as koning

In Genesis 1:26 lees ons die Here se woorde: “Kom ons maak die mens ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.” God is Koning, maar Hy het vir Adam as ’n onderkoning aangestel om die Koninkryk uit te brei.

Die Here het vir Adam aangestel as profeet

In Genesis 2:15-17 lees ons dat die Here vir Adam ’n duidelike opdrag gegee het om nie van die vrugte van die Boom van Kennis van goed en kwaad te eet nie. God het hierdie opdrag aan Adam gegee nog voordat Hy die vrou geskape het. Hoe het die vrou geweet om nie van die vrugte van Boom van Kennis te eet nie? Adam, as profeet, was veronderstel om God se Woord en opdrag aan die vrou te verkondig en haar te waarsku. Dit is immers wat ’n profeet in die Ou Testament gedoen het — die Woord verkondig en die volk gewaarsku.

Die Here het vir Adam aangestel as priester

In Genesis 2:15 lees ons dat Adam die opdrag gekry het om die tuin te bewerk en op te pas. Hierdie opdrag het nie net te make met die “tuinwerk” wat Adam verrig het nie. In ander dele van die Pentateug word die woorde “bewerk” en “oppas” gebruik om na die dienswerk van die priesters in die tabernakel/tempel te verwys (vgl. Numeri 3:7-8).

Die idee dat die tuin van Eden die eerste tempel was, word versterk deur die feit dat die tabernakel/tempel die tuin van Eden simboliseer. Die ingang van die tuin was aan die oostekant, net soos die ingang van die tabernakel; en die kandelaar in die tabernakel het die Boom van die Lewe gesimboliseer. Die gerubs het die tuin van Eden bewaar, en in die tabernakel is gerubs op die voorhangsel geborduur. Adam, as die eerste priester, se taak was om die heiligheid van die tempel en van sy vrou te bewaar.

Ongelukkig was Adam nie getrou aan sy roeping nie. Die slang het die vrou “aangeval”, maar Adam het nie die slang se kop vermorsel soos ’n koning nie. Adam het nie sy vrou se heiligheid bewaar soos ʼn priester nie. Adam het nie sy vrou gewaarsku soos ʼn profeet nie. Daardeur het die sonde in die wêreld gekom.


God gryp in

God is egter regverdig en genadig. In God se reaksie teenoor die sonde en sy straf teenoor Adam, Eva en die slang, sien ons hoe Hy as koning, profeet en priester optree. As koning het God gewys dat Hy absolute mag en gesag oor die slang het en daarom het Hy die slang gestraf (Genesis 3:14); as profeet het God ’n belofte gemaak dat die nageslag van die vrou die slang se kop gaan vermorsel (Genesis 3:15); en as priester het God vir Adam en Eva met klere beklee wat van dierevel gemaak is – ʼn teken dat bloed vergiet is om hulle skaamte weg te steek (Genesis 3:21).

In die Ou Testament lees ons van verskeie konings, profete en priesters. Dink aan Dawid en Salomo; Moses en Elia; Aäron en Eli. Ongelukkig kon nie een koning, profeet of priester die sondige mens met God versoen en die slang se kop vermorsel nie. Elke koning, profeet en priester was op die ou einde slegs ’n heenwysing na die ware Messias, die Verlosser, die Een wat finaal die slang se kop gaan vermorsel.


Jesus is die Christus

Wie is hierdie Messias wat die sondaar mens met God gaan versoen? Dit is Jesus Christus, die Seun van God. Johannes die Doper het na Jesus verwys en gesê:

Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

Ek het duidelik die Gees soos ’n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly. Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God

Johannes 1:29, 32-34

In Matteus 3:13-16 lees ons dat Jesus gedoop is en dat die Gees soos ’n duif op Hom gekom en gebly het. God het uit die hemel gepraat en gesê: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”

Met Jesus se doop is Hy as die Messias, die Christus, die Gesalfde gedoop. Dit beteken dat Jesus die ware Koning, Profeet en Priester is.


Jesus is die ware Koning

Die Evangelie volgens Matteus begin met die geslagsregister van Jesus om onder andere aan te dui dat Hy uit die geslag van Dawid gebore is. Dieselfde Evangelie sluit af met Jesus se bekende woorde: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde” (Matteus 28:16).

Die Evangelie van Lukas beklemtoon dat Jesus die Seun van die Allerhoogste genoem word en dat die Here “sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee” (Lukas 1:32). Jesus self verwys na Homself as die Koning (Johannes 18:36-37). As Koning regeer Jesus vandag sy Kerk deur sy Woord en sy Gees (vgl. Psalm 103:19; Efesiërs 1:22). Ons bely in Heidelbergse Kategismus Sondag 12: “Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en… gesalf is… tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar.”

Jesus is die ware Profeet

Een van die belangrikste take van ’n profeet was om die Here se Woord te verkondig. Jesus verkondig nie net die Here se Woord nie, maar is self die Here se Woord (Johannes 1) wat mens geword het. Hy is nie net die Woord nie, maar is ook die hart van die Woord: “Dit is juis die Skrif wat oor My getuig” (Johannes 5:39).

Jesus is die ware Priester

Die priesters het namens die volk aan God offers gebring. Hulle het namens God die volk geseën en vir hulle gebid. Jesus is die ware Priester wat Homself finaal vir sy volk geoffer het. Ons het nie meer nodig om jaarliks offers vir die Here te bring nie, want Jesus se kruisoffer was genoegsaam. Jesus is ook die ware Priester, want Hy seën sy kinders en bid vir hulle (vgl. Johannes 17).


Jesus is die ware Koning wat die slang se kop vermorsel het, en sy Kerk deur sy Woord en Gees regeer en bewaar. Hy is die ware Profeet wat die verlossing en vergewing van sonde bewerk en verkondig. En, Jesus is die ware Priester wat ons vir eens en vir altyd met God versoen het en vir sy kinders by die Vader intree. Ons kan van harte bely en getuig: Jesus is die Christus, ons ware Koning, Profeet en Priester.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui