Jesus se lewe én sterwe is vir ons
Met die viering van Jesus se geboorte, moet ons ook aan sy dood en opstanding dink. Lees hier oor die Seun as Verlosser wat God aan ons gegee het.
deur ds Jan-Louis Lee
Wanneer die vroue die Sondagoggend na Jesus se graf gaan, het hulle ’n spesifieke verwagting: hulle gaan ’n lyk in die graf aantref (Vgl. Lukas 24:1-12).
As ’n laaste eerbetoon aan hierdie Meester wat so baie vir hulle beteken het, gaan hulle sy liggaam met speserye en allerhande kruie behandel. Enersyds omdat die begrafnis die Vrydag ’n taamlike haastige affêre was (omdat die Sabbat aan die kom was) en andersyds om die effek van die dood vir ten minste die korttermyn te beperk.
Natuurlik het hulle in Hom geglo as die Verlosser, maar nes Marta en Maria by die dood van Lasarus (Johannes 11), was hulle verwagting oor die opstanding van die dooies iets wat eendag, by die voleinding sou plaasvind.
En met hierdie verwagting – om die steen van die graf geseël te vind, en Jesus se liggaam daarbinne, gaan hulle na die graf.
Jesus het vir ons opgestaan
Hulle tref egter ’n ander prentjie by die graf aan: die steen is weg en die liggaam van Jesus is nie in die graf nie.
Lukas 24:4 sê hulle was in verleentheid hieroor. Dis eintlik nogal grof om so daaroor te dink, dat die opstanding vir mense ’n verleentheid kan wees.
En tog kan daar geen ander verduideliking wees nie. As ons die ander evangelies hier met Lukas vergelyk, dan kleur dit die gebeure rondom die graf daardie dae pragtig vir ons in:
- Matteus 28 skets die haastige begrafnis wat deur vier mense bygewoon is
- Met die owerpriesters en Fariseërs wat die sabbatswette oortree en by Pilatus gaan aandring daarop dat die graf verseël en wagte buite gestasioneer word, sodat sy dissipels nie kan kom en sy liggaam steel nie. Die rede daarvoor sou natuurlik wees dat hulle dan kan ‘maak asof Hy opgestaan het’.
Die heidene en die Jode het, heel ironies, dus ’n reuse aandeel in die getuienis wat die leë graf oor Jesus se opstanding bied. Boonop het die wagte uit vrees vir die engel by die graf gewelddadig aan die bewe gegaan en soos dooies geword.
Dit is duidelik. Die leë graf, die weggerolde klip, die opgevoude doeke – dit alles is tekens vir die vroue (en ons!) om die waarheid te glo. Dit is dan ook die evangelie wat die engele aan die vroue vertel:
Waarom soek julle die Lewende by die dooies?
Lukas 24:5
En in daardie oomblikke word die inhoud van Jesus se boodskap, dit wat Hy telke male van te vore aan hulle geprofeteer het, vir hulle ontsluit.
Hy is oorgelewer, Hy is gekruisig en Hy het gesterwe.
Jesus sterf vir ons
Dit is alles die waarheid gewees. En dit alles ter wille van ons sondes. Hy is oorgegee, ja, Hy het die beker van lyding tot op die bodem toe leeggedrink. Hy het aan die kruis die ergste vervloeking ter wille van ons gedra: Godverlatenheid. En eindelik is dit volbring. Ons weet dat in daardie oomblik het die voorhangsel geskeur, en die gelowiges het in Hom nou vrye toegang tot God. Maar dan moet ons verder gaan, en nie by die verleentheid oor die dood vashaak nie, want God het daardie betaling aanvaar.
Dit is alles die wonderlike waarheid: Die dood en die graf kon Hom nie hou nie.
Jesus is gebore om te sterf
Wat ’n wonderlike boodskap om in hierdie Kerstyd te onthou!
Ja, ons vier die geboorte, ons is dankbaar oor die deurbraak van die lig daar in Betlehem, maar ons moet nooit vergeet dat die skadu van die kruis reeds dáár al oor die krip gehang het nie. Waar ons gebore word om te leef, is Hy gebore om te sterf.
Maar aan God die dank – Jesus se dood en opstanding word my toegereken! Ek is skoongewas in ’n nuwe lewe, nou al – maar gaan ook eendag uit die dood opstaan – want die Lewende God het lewende onderdane.
Die vroue haas hulle dan om die evangelie van die opstanding aan die res van die dissipels te bring. Vir die halstarrige dissipels klink dit soos onsinnige praatjies. Maar Petrus en Johannes hardloop na die graf om met hulle eie oë te gaan kyk. En dan keer hulle terug met blydskap – vol verwondering oor die waarheid van Jesus se opstanding.