Jou sondige natuur is in jou hart

Die sonde kom van binne, maar ons redding kan nooit uit onsself kom nie. Daarom moet ons saam met Dawid smeek dat God in ons ’n rein hart sal skep.

deur ds. Danie de Kock

Sommige mense probeer vir die sonde wegkruip, terwyl ander dit met wette en reëls inperk. Maar dit sal nooit werk nie! Ons dra die sonde saam met ons. Elke mens is reeds van voor sy geboorte af ’n sondaar. In Psalm 51 bely Dawid: “Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.”


Handewas kan nie jou hart reinig nie

Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het probeer om met reëls die sonde te beheer. Dis juis waarom hulle so ’n groot probleem met Jesus gehad het. Hy en sy dissipels het gedurig hulle oorgelewerde gebruike, reëls en wette oortree. Blykbaar het daar selfs Skrifgeleerdes en Fariseërs spesiaal op die Here Jesus en sy dissipels gespioeneer. Só het hulle op ’n stadium Jesus aangeval omdat party van sy dissipels eet sonder dat hulle vooraf hulle hande op ’n bepaalde seremoniële manier gewas het. Omdat higiëne belangrik is, was ons ook ons hande voor ete, maar hierdie was om godsdienstige redes.

Die Fariseërs en Skrifgeleerdes was baie begaan oor hul reinigingsgebruike. Hulle het gedink jou hande is onrein omdat jy gedurig aan besoedelde en onrein voorwerpe vat. As jy byvoorbeeld van die markplein af in jou huis inkom, moes jy eers jou hande en voete was. Voor ete moes jy weereens volgens ’n bepaalde seremonie jou hande was. As jy dit nie doen nie, so het hulle geglo, kom die sonde in jou liggaam in.


Jesus reageer op hul aanval deur te sê: “Niks wat van buite af in ’n mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit ’n mens uitkom, dit maak hom onrein” (Markus 7:15). In vers 20 gaan hy verder om te sê:

Wat van binne af uit ’n mens kom, dit maak ’n mens onrein. Van binne af, uit die hart van die mens kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak ’n mens onrein.


Sonde kom van binne af

Die Bybel maak dit duidelik dat die sonde van binne af kom. Jakobus 1:14-15 beskryf dit só: “… ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort.”

In Kolossense 2:20-23 lees ons dat Paulus aan die gemeente in Kolosse verduidelik dat hoewel reëls “’n skyn van wysheid” het, dit jou nie van die sonde gaan bevry nie. Sonde ontstaan diep binne-in jou hart. In jou wese. Dit het te doen met die manier waarop jy dink, jou gesindheid, jou begeertes, en jou drange. Daar is net een manier om van die sonde af weg te kom, en dit is om van jouself af weg te kom!


Redding kom van buite af

Ek en jy moet van ons eie innerlike menswees, ons diepste wese, daardie deel waar die sonde woon, ontslae raak. Dit is egter nie menslik moontlik nie, net God kan ons van die sonde red. Toe Adam en Eva se gedagtes en begeertes hulle laat sondig het, het hulle uit skaamte vir God weggekruip. God kom dan na hulle toe, en ontferm Hom oor hulle.
Dieselfde sien ons wanneer ons in Psalm 51 oor Dawid lees. Na Dawid se owerspel met Batseba en die moord op haar man Uria, is dit nie Dawid wat na God toe gaan en by Hom vergiffenis gaan soek nie. Hy gaan voort met sy lewe asof daar niks fout is nie, maar die Here stuur sy profeet Natan na Dawid toe om hom tot ’n sondebelydenis te bring.


In die Bybel is dit nooit die sondige mens wat vir God opsoek nie. Keer op keer is dit die Here wat die mens opsoek. Dit is God wat sy Seun na die aarde toe stuur om ons te verlos. Ons redding, ons verlossing, kom nooit vanuit onsself nie. Selfs ware bekering en ’n nuwe lewe begin nooit by die mens nie. Dit is God wat ingryp. Dit is ook God wat sy Heilige Gees uitstort. Dit is Hy wat Woordverkondigers uitstuur om ons te roep, soos Hy daar in die tuin van Eden na Adam en Eva geroep het.


Hoe kan ons dan van die sonde ontslae raak?
Jy kan net deel word van God se koninkryk as Hy van buite af kom en jou sondige hart, deur die lewewekkende krag van sy Gees, kom verander. Dit is wedergeboorte. Wanneer God jou ’n nuwe hart gegee het, kan jy as ’n nuwe mens in Christus begin lewe. Daarom moet ’n mens saam met Dawid bid: “Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees” (Psalm 51:12). Dan kan jy Jesus volg, soos wat ons in Lukas 9:23 lees: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis dra en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.” 

Lees die volledige preek hier.


Doen ’n Bybelstudie oor Psalm 51.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui