Jou tye is in God se hand – leef dit!

Net soos Dawid in Psalm 31 sê, is ons tye in God se hand. Kyk na hiérdie 10 dinge wat ons in Psalm 31 leer, sodat jy net soos Dawid doelbewus jou vertroue in God stel.

deur ds. Coen Vrey

Die nuwe jaar lê onbekend voor ons en niemand van ons weet wat op ons wag nie. Ons wil dan so graag kan sê dat dit moeiliker met ons gaan, as met mense van die ou tyd. Vir ons lyk dit of die lewe vir hulle baie eenvoudiger en makliker was as wat ons dit het. Daarteenoor voel ons lewens gejaagd en vol spanning. As ons egter aandagtig Dawid se woorde in Psalm 31 lees, kom ons baie gou agter dat die mense van die ou tyd dit nie noodwendig makliker gehad het nie. Die lewe was miskien nie so gejaagd soos nou nie, maar dit beteken nie dat daar nie spanning was nie.

Dawid praat van mense wat daarop uit was om hom te beskinder, en met hulle praatjies het hulle veroorsaak dat ander mense eerder wye draaie om hom geloop het. Jy kan dalk sê dat dit met jou ook al gebeur het, maar die mense wat die skinderpraatjies oor Dawid versprei het, het ook saamgesweer om Dawid om die lewe te bring!  

Ons kan uit Dawid se lewe, en spesifiek Psalm 31, leer. Die geheim om spanning jou nie te laat onder kry nie, is in Psalm 31:15-16a opgesluit:

Maar ek vertrou op U, o HERE! Ek sê: U is my God. My tye is in u hand.


10 dinge wat ons in Psalm 31 by Dawid leer

  1. Ons dink ons is in beheer van die tye van ons lewe, maar ons is nie. Dawid het dit baie goed geken. Die een dag was hy nog koning en die volgende dag moes hy op die vlug slaan vir sy lewe.
  2. Mens moet voorbereid wees vóórdat ’n krisis toeslaan. Uit Psalm 31 word dit duidelik dat Dawid die Here al op ’n baie persoonlike vlak geken het voordat die krisis hom getref het. Dawid het die Here as toevlug en skuilplek gehad.
  3. Wat as jy reeds in die krisis is? Die Here is naby die wat gebroke van hart is (Psalm 34:19). Soek in jou spanning na die Here soos jy Hom nog nooit gesoek het nie. Hy is genadig en barmhartig en Hy kan jou lei om Hom as jou persoonlike skuilplek en bergvesting te ken.  
  4. Dawid het deur die genade van die Heilige Gees raakgesien dat sy eie sonde bygedra het tot die spanning wat hy in die krisis beleef het (Psalm 31:11). Al is dit ons eie sonde wat tot spanning lei, mag ons steeds in die krisistyd na God toe vlug.  
  5. Om Christus te volg beteken nie dat ’n mens nooit spanning en krisisse sal beleef nie. Maar om Christus te volg en aanhoudend naby die Here te lewe, gee vir ons ’n groot rustigheid en kalmte, want ons tye is in sy hand.
  6. Alhoewel spanning in hierdie lewe ’n werklikheid is, wys die Heilige Gees ons ook op die werklikheid van die soewereine en persoonlike God wie se Naam HERE is. Ons lewens is wel veranderlik en onstabiel, maar ons het ’n God wat onveranderlik is.
  7. In Dawid se woorde sien ons dat hierdie soewereine God ook sy persoonlike God is. Hy noem Hom “my God”, want God ken sy benoudhede en ellende. Die Here is persoonlik teenwoordig, Hy is die Een wat ons dra en versorg, want Hy bly getrou.
  8. Vertroue neem nie die spanning weg en laat die krisis verdwyn nie. Vertroue in God gee ons ’n innerlike stabiliteit terwyl alles rondom jou in ’n warboel is. Dawid het daardie innerlike vrede van die Here gekry en kon deur sy vertroue in God hierdie Psalm skryf.
  9. Ons moet doelbewus ons vertroue in die Here stel. Dit is wat Dawid gedoen het. Ondanks alles het hy by sy besluit gebly om die Here te vertrou.
  10. In Psalm 31:3-4, sê Dawid “vir my”. Dit is wat persoonlike vertroue in die Here is. Dawid vra dat die Here vir Hom die God sal wees wat Hy regtig is.

Stel jou vertroue in die Here

Dis belangrik dat jy moet onthou dat vertroue aktief is, dit maak mens nie passief nie. Aanhoudend omhels ’n mens God in die geloof. Jy doen dit deur te lees en te oordink wat die Here van Homself openbaar, en jy smeek dat God ook vir jou só ’n God sal wees. Verdiep jouself in die Here en in sy Woord. Dán sal jy weet na wie toe om te vlug wanneer die krisis opduik, en in Wie se hande ons in vertroue ons tye kan laat.


Wees vir my ‘n rots om na toe te vlug, ‘n bergvesting om my te red. Ja, U is my rots en my bergvesting, ter wille van u Naam sal U my voorgaan en my lei” (Psalm 31:3-4).


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui