Leer die Heilige Gees ken

Wie is die Heilige Gees? Lees hier wat die Bybel ons van die Heilige Gees leer.

Deur ds. Albert
Coetsee

Kennis van die Heilige Gees begin by twee vrae: Wie is die Heilige Gees? En, wat doen Hy? Die antwoord vanuit die Skrif is baie eenvoudig: Hy is God self (sien onder andere Genesis 1:2; Jesaja 61:1; en Haggai 2:5). Jy kan dit nog meer spesifiek stel en sê dat Hy die derde Persoon in die goddelike Drie-eenheid is. Dit is onder andere duidelik uit verskeie Skrifgedeeltes waar die Heilige Gees in dieselfde asem genoem word as die Vader en die Seun (Matteus 3:16-17; 28:19; 1 Korintiërs 12:4-6; 2 Korintiërs 13:13; Openbaring 1:4-6). Tussen die Heilige Gees, die Vader en die Seun is daar so ’n intieme verhouding dat Hy op verskeie plekke “die Gees van God” genoem word (1 Samuel 10:10; Esegiël 11:24), en op ander plekke weer “die Gees van Christus” (Romeine 8:9; Filippense 1:19; Galasiërs 4:6).


Nog name van die Heilige Gees in die Bybel

  • Gees
    van insig (Jesaja 11:2)
  • Gees
    van kennis (Jesaja 11:2)
  • Gees
    van raad (Jesaja 11:2)
  • Gees
    van sterkte (Jesaja 11:2)
  • Gees
    van die vrees van die Here (Jesaja 11:2, Ou Vertaling)
  • Gees
    van welwillendheid en berou (Sagaria 12:10)
  • Heilige
    Gees (Matteus 1:20)
  • Gees
    van waarheid (Johannes 14:17)
  • Gees
    van heiligheid (Romeine 1:4, Ou Vertaling)
  • Gees
    van lewe (Romeine 8:2)
  • Die
    Here wat die Gees is (2 Korintiërs 3:18)
  • Een
    Gees (Efesiërs 4:4)
  • Die
    ewige Gees (Hebreërs 9:14)
  • Die
    Gees van genade (Hebreërs 10:29)
  • Gees
    van heerlikheid (1 Petrus 4:14)
  • Heilige
    Een (1 Johannes 2:20, Ou Vertaling)


Wat doen die Heilige Gees?

Daar is groot meningsverskille oor wat die Heilige Gees doen. Party groepe plaas eensydige klem op die gawes van die Heilige Gees. Dit kan byvoorbeeld praat in tale of gesondmaking wees. Die belangrikste wat jy moet weet is dat die Heilige Gees nie net een werk het nie.
Hier is ’n paar van die werke wat die Heilige Gees doen:

  • Hy skep saam met die Vader en die Seun die heelal (Genesis 1:2; Psalm 33:6; Job 33:4).
  • Hy onderhou saam met die Vader en die Seun die skepping (Psalm 104:30).
  • Hy merk ons as God se eiendom (Efesiërs 1:13).
  • Hy waarborg ons dat ons verder sal ontvang wat God belowe het (Efesiërs 1:14; 2 Korintiërs 5:5).
  • Hy bind ons as verskillende lede van die kerk tot ’n eenheid saam (Efesiërs 4:3).
  • Hy gee aan ons gawes vir die opbou van die kerk (1 Korintiërs 12).
  • Hy rus ons toe om van Christus te getuig (Lukas 12:11-12).
  • Hy versterk ons met krag om al hoe meer na die beeld van Christus te vernuwe (Efesiërs 3:16-17).

Met dit alles in gedagte, is daar tog een primêre werk wat die Heilige Gees het: Die Heilige Gees verbind ons aan Christus. Hy laat ons deel kry aan die verlossing en seëninge wat Christus vir ons verdien het. Hy doen dit deur ons wedergebore te laat word en aan ons geloof te skenk (Johannes 3:3-8; Titus 3:5). Die Heilige Gees oortuig ons van die boodskap van die kruis van Christus (1 Korintiërs 2:4), en maak ons wat dood is in ons sonde, saam met Christus lewend (1 Petrus 3:18). Hy herinner ons telkens aan dit wat Christus gedoen en geleer het (Johannes 14:26; 15:26; 16:13-14). Die Heilige Gees maak ons oë oop vir dit wat Christus gedoen het, en hou ons oë dan stip op Christus gefokus.


Wat beteken dit vir my?
As jy vandag hier lees en glo dat Christus jou Verlosser is, besef die ontsaglike genade wat aan jou bewys is: Jy glo dit alleen omdat die Heilige Gees in jou werk en jou hiervan oortuig het! Op dieselfde tyd bring hierdie troos ons ook tot die besef dat ek en jy ’n verantwoordelikheid het. Ons moet met die Heilige Gees vervul word (Efesiërs 5:18), deur die Heilige Gees leef (Galasiërs 5:16) en al hoe meer die vrug van die Gees in ons lewens vertoon (Galasiërs 5:22-23).