Leer uit ’n gebroke Elia se verhaal

In 1 Konings lees ons hoe Elia vir God vra om sy lewe te neem. Ons lees egter ook hoe God hom bemoedig. Lees hier hoe God ook aan ons gee presies wat ons nodig het, op die regte tyd!

deur ds. Jaco Lemmer

In 1 Konings 19 vers 4 lees ons hierdie treffende woorde van Elia: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.” Dit blyk vir ons dat hierdie sterk dienaar van die Here sy einde tegemoet gaan in die woestyn. In Elia se kop is hy eintlik nie meer ’n profeet nie, maar ’n gebroke man.

Die gebeure wat tot Elia se woorde lei

In die vorige hoofstuk, 1 Konings 18, lees ons hoe God self teen die Baäl-profete veg op die berg Karmel. God het oorwin. Hy’t gewys dat Hy die lewende God van die wêreld en van Israel is, en dat Baäl ’n dooie afgod is, wat niks kan doen nie. Hy het ook gewys dat net God reën kan gee, net Hý kan uitkoms bring, en net Hý moet aanbid word.

Na hierdie ongelooflike kragtige gebeure op die berg Karmel, sien ons daar gebeur niks nie. Na Karmel en alles wat daar gebeur het, en al God se wonderwerke, is die volk net stil. Daar is geen staatsgreep wat vir Agab en Isebel (die twee bose leiers) dwing om van die troon af te klim nie. Daar is geen afbreek van die Baältempel en altaar nie. Niks.

Daarna lees ons in 1 Konings 19 dat Isebel dreig om Elia dood te maak. Dit is dan wat Elia besluit om te vlug. Hy gaan alleen die woestyn in – Hy los selfs sy slaaf agter – en vra die Here om sy lewe te neem.


Kyk hoe God met Elia te werk gaan

Die eerste groot ding wat ons moet raaksien is die manier wat God met Elia omgaan in hierdie donker tyd. Hieruit kan ons baie leer van God en wie Hy is. Elia het die groot hoogtepunt van Karmel beleef en nou sit hy vas in die groot laagtepunt van die besembos.

Maar God kom na hom toe as hy slaap onder die besembos op ’n besonderse manier: God stuur ’n engel en die engel kook vir hom (sien verse 4 en 5). En net ’n ruk later sê die engel weer dat hy moet eet, want daar lê ’n lang pad voor.

God kom nie na Elia en gee een of ander geestelike preek vir hom nie, God gee hom kos. Gewone kos. Elia is doodmoeg, uitgeput, honger. Hy kort kos. Soms kort jy net ’n goeie boek om te lees, fliek om te kyk, ’n staproete in die bos. God kom gee vir Elia presies wat hy op die oomblik nodig het.

En dan, in Elia se depressie, maak die Here hom fisies gereed om na die berg Horeb te gaan. In die teks staan Elia het geëet en toe het hy 40 dae en nagte na Horeb (ook bekend as Sinai) geloop.


God praat met Elia én luister na hom

Elia kom by Horeb en hy gaan in ’n grot in en hoor die Woord van die Here (vers 9). God vra aan hom: “Wat maak jy hier, Elia?” God vra eintlik vir Elia: “Hoekom bestaan jy? Wie is jy?”.

Weereens moet ons sien hoe sag en goed die Here met Elia werk. God weet alles wat aangaan in Elia se hart, maar tog gee God hom die kans om sy saak te stel. Ons God wil luister, wil hoor wat in ons harte aangaan.

Elia sê basies dat hy alles gegee het vir die Here, alles wat hy gehad het om te gee. Maar dit alles was ’n mislukking volgens Elia. Die volk is steeds vasgehaak aan die Baäl-godsdiens. Die profete van God is doodgemaak. En net Elia het oorgebly, net hy is oor en alles is verlore.

Die manier wat die Here nou wil werk met Elia begin by vers 11: “Maar die Here sê vir hom: ‘Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.’” God gaan verby die grot beweeg en Homself aan Elia wys. En dan begin God en Hy beweeg verby die grot, maar Elia kan nie uit die grot uitkom soos God hom beveel het nie.

Daar het eers ’n reuse wind gekom wat die rotse gebreek het. Daarna ’n aardbewing. Daarna ’n vuur, maar nie in een van hierdie drie tekens was die Here nie. Met ander woorde, die Here het die natuurwonders laat gebeur, maar Hy het Homself nie aan Elia bekend gemaak of gewys in hierdie wonders nie.


God praat met ’n fluistering

Verder in vers 12 staan: “En na die vuur was daar ’n fluistering in die windstilte.” In reuse kontras met die vuur, aardbewing en wind is daar ’n sagte kalm gefluister waarin God met Elia praat. Wat beteken hierdie fluistering in die windstilte?

Daar is twee elemente wat God waarskynlik hierdeur aan Elia en ons wil oordra. Die klem in hierdie fluistering is dat God in sy Woord is en tweedens dat God in stilte werk en is.

Elia is desperaat en depressief en wat hy nodig het, is ’n standvastige en Godvervulde woord van die Verbondsgod Jahwe. Die groot boodskap wat die sagte fluistering aan Elia moes bring is die volgende: Ja, God is soms in groot dade soos die vuur op Karmel en die aardbewing by Sinai met Moses, maar God bou eintlik sy koninkryk in stilte, in Goddelike stilte.


Elia wou op sy eie planne staatmaak

Jy sien Elia se hele probleem was dat die volk nie wou luister, en nie na God wou draai nadat God in ongelooflike vuur en wonder op Karmel gewys het dat Hý God is nie. Hoe kan die mense nie daarna luister nie? Hoe kan die volk nie tot geloof gekom het nie? Elia kan dit nie verstaan nie en dit sit hom in ’n gat van depressie. As Karmel nie werk nie wat sal?

En God kom na Elia en slaan hom tussen die oë met die sagte fluistering. Eintlik sê God vir Elia: “Elia hoekom sit jy my in ’n boksie? Hoekom dink jy so min en so eenvoudig van my? Ja ek kan die wonderbaarlike gebruik, maar ek kan in die geheim of in die stilte ook vir myself en my koninkryk laat bou. En dit is hoe ek dit doen. Ek is God, ek hoef nie volgens een of ander plan te werk wat Elia uitgedink het nie.”

Jy sien dit is Elia se groot probleem en groot rede vir depressie. Elia het ’n plan gehad hoe dit moes werk op Karmel, die plan het goed begin, maar toe draai alles skeef uit. En nou volgens Elia is God nie meer eintlik in staat om iets te doen nie. Elia se bediening is ’n mislukking en alles is ’n mislukking, want God het nie gewerk soos Elia beplan en gedink het nie.


God se planne is die beste planne

Hoe vergeet Elia en hoe vergeet ons so maklik … Hierdie God van ons is nie maar ’n ou afgodjie nie. Hy is die God van hemel en aarde en hy sien oneindig ver en oneindig diep. God word nie onkant gevang nie. Hy word nie deur menslike sonde en opstand gekeer nie. En God word ook nie deur ons planne rondgestuur nie!

Jy sien Elia het op hierdie spesifieke oomblik hierdie spesifieke perspektief nodig gehad. God kom altyd na sy kinders en dienaars met presies die regte medisyne vir ons depressie. Met sý perspektief, uit sý Woord, gee God ons wat ons nodig het.

Elia moes hier weggegaan het met die oorweldigende gevoel dat hy ’n almagtige God aanbid, wat veel groter planne het as wat sy planne ooit sal wees. Hy moes besef dat God besig is met wyer dinge as wat hy ooit sou kon dink. Terselfdertyd, moes hy raaksien hoe God liefdevol is, dat God luister na sy depressie en sy stukkend, en hom in geduld en in liefde absoluut kom red het. God het hom opgesoek en verlos.

God het aan Elia die regte dinge op die regte tyd gegee – en dit het vir Elia nuwe krag gegee. Net so, moet dit vir jou en my ook!


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui