Luther: Die mens en Kerkhervormer

Deur Victor E. d’Assonville.

Martin Luther het 500 jaar gelede ’n groot impak op die kerk gehad. Lees hier van sy invloed op die Reformasie.

Die Ryksdag in Worms was die destydse sitting van die parlement. In 1521 is Luther hier opgeroep om voor Keiser Karl die Vyfde alles wat hy geskryf het te herroep. Luther het egter moedig verklaar: “My gewete is gebind aan die Woord van God … Behalwe as ek deur die Skrif (Bybel) self … oortuig word dat dit dit verkeerd is, … kan ek en wil ek daarom niks herroep nie, omdat dit nie seker en ook nie reg is nie …” Dit was baie dapper van hom, want daarop is hy deur die keiser self vir voëlvry verklaar. Vriende het hom deur ’n skynontvoering na veiligheid by die Wartburg-kasteel gebring. Hier sou hy met een van sy belangrikste take, die Bybelvertaling, begin.


’n Lewe wat God dien

Luther is in 1483 in die dorpie Eisleben gebore. Hy was die seun van ’n mynwerker en het 500 jaar gelede skielik en onverwags bekend geword het. Met verwysing na sy oupa en oupagrootjie het Luther homself as boereseun bestempel. Hy was die tweede van nege kinders. Luther het op 14-jarige ouderdom sy ouerhuis vir hoërskool verlaat sodat hy universiteitstoelating kon kry.
Luther het gepleit vir ’n goeie, gelowige opvoeding van kinders volgens die Woord van God. Dit het beslis met goeie herinneringe aan sy eie ouerhuis te doen gehad. Hy vermaan ouers om nie hul kinders volgens hul eie oordeel op te voed nie. Kinders moet volgens die gebooie van God opgevoed word. Christus moet gehoorsaam word, juis ook in die opvoeding van kinders.
In 1525 trou Luther met die voormalige non, Katharina von Bora. Haar rol in die huishouding en haar ondersteuning van die Woordbediening, sou beroemd word. Hulle het ses kinders gehad waarvan twee jonk oorlede is. Hulle gesinslewe was besonder gelukkig. Hulle huis het oop gestaan vir studente, vriende, besoekers van orals oor, ook van verre lande. Luther het sy vrou liefdevol en met bewondering “Herr Käthe” genoem. Sy het met groot vlytigheid en noukeurigheid dit reggekry om die huis wat permanent vol gaste is uit hul eie voorsiening (groente, diere) te versorg. Daar het rondom die reuse eettafel die beroemde “tafelgesprekke” met studente plaasgevind. Baie is opgeteken en bied tot vandag wysheid vir die nageslagte.


Luther het onvermoeid aan sy Bybelvertaling, ontsettend baie boeke, preke, sy Skrifverklaring en sy kategismusse gewerk. Alles wat hy geskryf het, ook in die dekades en eeue ná sy dood, is van onberekenbare betekenis en groot invloed. Ander jonger Reformatore soos Calvyn sou ook erkenning daarvoor gee. In alles was Luther in die navolging van Christus en sy Woord gehoorsaam.


Sy werke verkondig vir Christus

Luther het die Bybel dikwels bestudeer omdat hy dit vir sy studente in voorlesings moes verklaar en in sy preke vir die gemeente. Deur die loop van die jare het hy tot die oortuiging gekom dat sy eie verstand nie deurslaggewend is nie. Onder leiding van die Heilige Gees het professor Luther vasgestel dat Christus altyd sentraal in sy uitleg moet wees. Die hele Bybel gaan oor Christus. In sy uitleg van die Bybel het hy gewys hoe die Nuwe Testament op die Ou Testament berus. Jesus Christus en sy apostels het hulle konsekwent op die beloftes van die Ou Testament beroep. Hiermee het Luther hom direk by die Nuwe Testament self en ook by die Vroeë Kerk aangesluit.

Die verkondiging van die evangelie van Christus het geweldige aanklank by die gewone mense gevind. Luther se geskrifte en skrywes is blitsvinnig gedruk, vertaal en oor die hele Europa versprei. Die pous, die keiser en ander belangrike leiers het bedreig gevoel deur Luther se beklemtoning van Christus se onvoorwaardelike gesag.
Sy versamelde werke is meer as 125 dik boeke met sy geskrifte en publikasies. Hy oordeel dat sy Klein Kategismus van al hierdie een van die belangrikste is. Alreeds in die 16de eeu is die Klein Kategismus vinnig en wyd versprei en is tot vandag die mees invloedryke kategismus. Dit is onder andere in Latyn, Deens, Frans, Pools, Nederlands, Sloweens, Litauies, Oud-Pruisies, Italiaans en Arabies vertaal.


Teen die Roomse dwaling

Téén die sogenaamde skat van die aflaat, sê Luther in een van sy 95 Stellings: “Die ware skat van die kerk is die allerheiligste Evangelie van die heerlikheid en genade van God.”
Sonder dat hy dit so beplan het, het Luther met sy eis van onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan Christus, die enigste Verlosser, direk in konflik met baie valse kerklike praktyke van sy tyd gekom. Hy het gesien dat dit vir baie ampsdraers in die kerk meer oor geld as oor pastorale sorg gaan. Die gewone gelowiges het swaar gely onder die korrupsie en geld-eise van baie kerklike leiers en predikers. Hulle is met valse beloftes en dreigemente geforseer om soms hul laaste bietjie geld uit te gee om só sondevergifnis te koop. Hierdie praktyk het as aflate bekend gestaan.
’n Aflaat is ’n bewys wat ’n mens koop sodat jy of jou dierbare minder straf hoef te ondergaan. Jy kan selfs ’n aflaat koop vir die mense wat al gesterf het. Hierdie valse, onbybelse praktyk bestaan tot vandag amptelik in die Roomse kerk. Dit berus op die Roomse dwaalleer dat die mens tot sy eie saligheid ’n bydrae kan lewer.


Ons is afhanklik van Jesus Christus se genade

Luther se laaste woorde wat hy met ’n swak hand nog kon opskryf het bewaar gebly: “Ons is bedelaars. Dit is waar.” Daarmee beklemtoon hy die mens se totale afhanklikheid aan die genade van ons Here Jesus Christus. Hy het die besef van sy eie sonde, soos by elke mens, baie ernstig opgeneem. Luther het geworstel met die vraag oor die mens se skuld teenoor die Here omdat ons elke dag net weer aan die Woord ongehoorsaam is.
Op 18 Februarie 1546 sterf Luther. Sy laaste gebed is Psalm 31:6, dieselfde profetiese woorde wat deur Christus aan die kruis vervul is (Lukas 23:46): “In u hande gee ek my Gees oor”. Dit was ook die sterfgebed van die eerste christelike martelaar, Stefanus (Handelinge 7:59). By Luther se begrafnis het Philippus Melanchthon, sy medestryder en opvolger, beklemtoon hoe Luther ’n instrument in die hand van die Here was.


Luther wou nie ’n nuwe kerk stig nie. Hy het nie beplan om ’n Reformator of ’n kerkhervormer te word nie. Hy wou net die Here se Woord getrou uitlê en verklaar.
Reformasie word nie beplan nie. Die Here laat dit gebeur en gebruik daarvoor sy instrumente, onder meer bedienaars van die Woord. Luther self het altyd beklemtoon: Die Waarheid word met die Woord verdedig, nie met die swaard nie. Slegs die Woord, nie deur mag of geweld nie.