Mag ek vir ’n wonderwerk bid?

Wanneer jy wonder of jy vir ’n wonderwerk mag bid, bring dit dadelik die vraag by ons op of wonderwerke vandag nog gebeur. Lees meer hier.

deur ds. Daniël Myburgh

Volgens die HAT-woordeboek is die definisie van ’n wonderwerk die volgende: “’n Wonderwerk is ’n bonatuurlike ding of ’n besondere prestasie.” Maar vir ons, as gelowiges, is ’n wonderwerk tog eintlik baie méér as dit, nie waar nie? Vir ons is ’n wonderwerk nie maar nét iets waarin ons God se groot mag en vermoë kan raaksien nie. Vir ons is ’n wonderwerk iets buitengewoons wat alleen God kan regkry. ’n Wonderwerk is iets wat God in sy wysheid en almag doen sodat álle mense kan raaksien dat Hy die Énigste Ware God is. ’n Wonderwerk is dus altyd iets wat van God se kant af kom, sodat alle mense bewus is van sy heilige teenwoordigheid. God se doel met wonderwerke is dat alle mense (selfs ongelowiges) sal erken dat alléén Hy almagtig is.


Mense wat in die Bybel vir wonderwerke vra

Regdeur die Bybel sien ons hoe God Drie-Enig wonderwerke doen. Meestal doen God hierdie wonderwerke van sý kant af – Hy besluit wanneer Hy wonderwerke wil doen. Maar tog lees ons so nou en dan van mense wat vir die Here vra om ’n wonderwerk te doen. Ons gaan net na twee voorbeelde kyk van mense wat vir die Here vir ’n wonderwerk vra.

  • In Rigters 6 lees ons hoe Gideon, die rigter, geroep word om die volk, Israel, uit hul uur van nood te red. Die ongelowige Midianiete het die volk van die Here swaar onderdruk, en dit word nou van Gideon verwag om aan die Israeliete uitkoms te gee. Gideon vra egter vir ’n teken dat die Here hom regtig vir hierdie taak wil gebruik. Hy vra vir ’n wonderwerk sodat hy séker kan weet dat die Here met hom sal wees wanneer hy die kinders van die Here moet uitred. In Rigters 6:36–40 lees ons dan die volgende versoek van Gideon: “Gideon het vir God gesê: ‘Ek sal weet dat U deur my vir Israel wil red soos U beloof het, as ek ‘n stukkie vlieswol op die dorsvloer sit en daar kom dou op die wol terwyl die grond droog bly.’ En dit het toe gebeur: toe Gideon die volgende môre opstaan, het hy die stukkie wol uitgedraai en dou daaruit gedruk, ‘n hele kom vol water. Toe sê hy vir God: ‘Moet asseblief nie vir my kwaad word nie! Ek wil nog ‘n keer iets vra. Laat my tog net nog een toets met die vlieswol toe: net die wol moet droog wees, terwyl daar oral op die grond dou is.’ Daardie nag het God dit so laat gebeur: net die wol was droog en oral op die grond was daar dou.”
  • In Jakobus 5:16-18 lees ons iets soortgelyks: “Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking. Elia was ’n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.

Afgesien van al die wonderwerke wat Jesus Christus hier op aarde kom doen het, en afgesien van al die wonderwerke waarvan ons verál in die boek, Handelinge, lees, het ons hier met voorbeelde te doen van gelowiges wat vir wonderwerke gebid het (lees ook Lukas 1 en 2). Gideon en Elia het die Here gesmeek om ’n wonderwerk te doen, sodat hulle geloof in die Here versterk kon word. In die Here se liefde vir hulle, en in sy groot genade, bewys Hy dan sy almag teenoor hulle in die vorm van ’n wonderwerk aan elkeen.

Ons moet goed verstaan dat dit nie vir God nodig is om Homself aan mense, soos ek en jy, te bewys nie. Wanneer Hy sy getrouheid en besondere mag op só ’n manier aan ons bekend wil maak, dan kan ons net dankbaar wees. Wat wel vir ons duidelik is, is dat ons soms wél mag bid en vra vir ’n wonderwerk.


Kry ons vandag nog wonderwerke?

Dit gee aan ons ’n antwoord op ons tweede vraag of ons vandag nog wonderwerke kry. Ja, verseker! Die Here bewys vandag steeds sy wonderlike almag aan ons, al voel dit dalk nie meer so algemeen soos in die tyd wat Jesus op aarde geleef het nie. Die hoofrede daarvoor is omdat ons nou God se Woord tot ons beskikking het. Ons kan nou enige tyd die Bybel oopmaak om God se getrouheid en sy almag raak te sien (vergelyk Hebreërs 1:1 en 2).

Dit beteken egter nie dat wonderwerke nie meer bestaan nie. Elke keer wat daar iets gebeur wat buite ons vermoë is, dan is dit ’n wonderwerk. Elke keer wanneer iets menslik onmoontlik wél gebeur, dan is God wat ’n wonderwerk doen. Dit is ’n wonderwerk indien die dokters sê dat hulle niks meer vir jou ouma of oupa se gesondheid kan doen nie, en dan word sy/hy stééds gesond. Dit is ’n wonderwerk wanneer iemand – ná ’n baie ernstige motorongeluk – stééds oorleef.

Wonderwerke gebeur nog elke dag, ons noem dit dalk net nie meer “wonderwerke” nie. Elke baba wat gebore word, is ’n wonderwerk. Elke oggend as die son opkom, is dit ’n wonderwerk. Dink ’n bietjie aan die wonderwerke in jou lewe, en maak ’n lys van al die kere wat God sy almag aan jou bekendmaak.


Vanuit die Here se Woord is dit duidelik dat ons wél vir die Here vir ’n wonderwerk mag vra, solank ons net áltyd onthou dat dit God se wil is of Hy, op daardie stadium, ’n wonderwerk wil laat gebeur. Ons kan nie die Here voorskryf of kwalik neem in ons gebede nie, maar ons mag, met alle vrymoedigheid, tot Hom bid. Kom ons soek, met opgewonde harte, na die wonderwerke in ons lewens.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui