Martin Luther en die Ryksdag van Worms

Martin Luther is versoek om voor ’n amptelike vergadering van die leierskap van die Heilige Romeinse Ryk te verskyn. Hier is wat by die Ryksdag in Worms in April 1521 gebeur het.

deur prof. Rickus Fick

Martin Luther (1483-1546) het, vandat hy sy 95 stellings op 31 Oktober 1517 teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het, onverskrokke en met ywer opgestaan teen die valse leer van die kerk van sy tyd en vir die gesag en die waarheid van die Skrif. Uiteraard het dit onrus gebring in die leierskap van die kerk en die staat. Terwyl hy ’n held was in die oë van baie mense, het hy gou ’n baie ongewenste persoon in die leierskapskringe van die kerk en staat geword. Die kerk het vir eeue lank gesagstrukture ontwikkel wat, so het hulle geglo, namens Christus gepraat het. Die een was die pous wat kwansuis die opvolger van die apostel Petrus en verteenwoordiger van Christus op aarde was, die ander was ekumeniese konsilies (kerkvergaderings) wat ook, so is daar geleer, besluite met die gesag van Christus geneem het. Hierdie strukture is oor die eeue heen as gesagvol vir die lidmate van die kerk aanvaar. Dit was in hulle oë ondenkbaar dat een enkele man dit kon waag om hierdie gesag te bevraagteken.


Luther word ontbied na Worms

In Junie 1520 het Pous Leo X ’n pouslike bul (’n amptelike geskrif) uitgevaardig waarin hy 42 sogenaamde dwalings uit die geskrifte van Luther uitwys en op 3 Januarie 1521 het die pous hom amptelik uit die kerk geban. Op 29 Maart 1520 het Luther ’n brief van keiser Karel V ontvang wat hom oproep om voor ’n ryksdag (’n amptelike vergadering van die leierskap van die Heilige Romeinse Ryk) in die stad Worms te verskyn. Hy het ingewillig, op voorwaarde dat sy veiligheid na en van Worms verseker sal word. Daar was immers talle aanduidings dat sy lewe in gevaar was.

Luther het op die 2de April na Worms vertrek, maar weens al die spanning op pad siek geword. Hy het egter op 16 April veilig in Worms aangekom en het kennis gekry dat hy die volgende dag by die vergadering moet wees. Dit was ’n indrukwekkende geleentheid: behalwe die keiser self was daar meer as 200 hooggeplaastes uit verskeie prinsdomme en graafskappe asook verskeie ambassadeurs met hulle personeel. Dit word vertel dat daar meer as 10 000 besoekers in die stad was wat met hierdie geleentheid verband gehou het. Benewens Luther se saak was daar ook ander belangrike politieke kwessies op die agenda.

Die vraag na dwalinge in Luther se geskrifte

Op die 17de April is Luther die vergadering ingelei en kom hy te staan voor die magtigste leier in die wêreld. Twee vrae word aan Luther gestel en hy vra uitstel tot die volgende dag om daarop te antwoord. Die nag van 17 April het hy van sy kollegas geraadpleeg en ernstig gebid. Op 18 April het hy weer voor die keiser en die honderde hooggeplaastes gestaan. Hy moes op die volgende twee vrae antwoord: was hy die skrywer van die 25 geskrifte wat by die geleentheid uitgestal is en was hy bereid om al die valse leerstellings daarin te herroep. Luther het nie gehuiwer om te erken dat hy die skrywer was nie. Op die tweede vraag het hy probeer om in ’n gesprek te tree oor wat presies die dwalinge in sy geskrifte was. Die lede van die vergadering wou egter nie in ’n debat betrokke raak nie en het bloot vir Luther gesê dat hy as teoloog presies weet watter dwalinge hy leer.

Luther wyk nie van sy oortuigings nie

Luther het vervolgings ’n toespraak gehou wat beskou word as een van die belangrikste toesprake in die geskiedenis van die kerk. Ongelukkig bestaan daar nie ’n volledige teks van sy toespraak nie, maar uit verskeie weergawes daarvan is dit duidelik dat hy onder andere gesê het:

Tensy ek andersins deur die getuienis van die Heilige Skrif of onbetwiste redelikheid oortuig word – want ek glo nóg die pous nóg die kerkvergaderings, omdat dit duidelik is dat hulle herhaaldelik gedwaal en mekaar weerspreek het – beskou ek myself oortuig deur die getuienis van die Heilige Skrif wat my grondslag is; my gewete is gebind deur die Woord van God. Ek kan en wil dus nie herroep wat ek geskryf het nie, omdat dit nie veilig of reg is om teen jou gewete op te tree nie. Hier staan ek, ek kan nie anders nie. Mag God my help. Amen.

Hy het voor die gesaghebbers van die kerk en staat gestaan en onverskrokke by sy oortuiging gebly: wat die Bybel sê is die waarheid en ’n Christen moet dit glo en gehoorsaam, wat die gevolge ook al is. Hy het besef wat die gevare van sy optrede inhou, maar hy het ook geweet watter vreugde en vryheid die leer van die Skrif vir ’n mens bied.

Luther se lewe is in gevaar

Kort na Luther se vertrek uit Worms het die keiser hom as ’n ongewensde persoon verklaar, wat beteken het dat enigiemand hom kon doodmaak. Keurvors Frederik die Wyse het hom egter laat ontvoer en hom skuiling gegee op ’n veilige plek in die kasteel van Wartburg tot gemoedere gekalmeer het. Hy het, terwyl hy daar geskuil het, die Nuwe Testament uit die oorspronklike Grieks in Duits vertaal.


Mag God my help
Hy het sy toespraak voor die ryksdag afgesluit met die woorde: “Mag God my help”. God het hom gehelp, want ten spyte van die feit dat daar baie was wat hom dood wou sien, het hy in 1522 teruggekeer na Wittenberg en nog 25 jaar hierna die geleentheid gehad om te preek en sy werk met geloof en oortuiging te doen. ’n Gereformeerde kerkhistorikus het dit so raak gesê: “Hy het daar in Worms gestaan en God het hom gehelp en deur Luther het God ons gehelp”.


You may also like...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui