Melanchthon: Die onbekende Reformator

Is Melanchthon dalk vir jou onbekend? Jy kan hier lees oor die groot rol wat hy in die Reformasie gespeel het.

Deur Victor E. d’Assonville.

Wanneer daar oor die Reformasie gepraat word, hoor mens meestal net van Luther, of dalk van Luther en Calvyn. Verkeerdelik word baie ander invloedryke mense uitgelaat. Daarby is die vestiging en uitbreiding van die Reformasie, nie net in die Duitse gebiede gewees nie, maar ook later wêreldwyd. Sonder Melanchthon se rol is dit nie voorstelbaar nie. In die galery van groot Kerkhervormers neem Melanchthon ’n reuse plek in. Tog is dit soms in Suid-Afrika minder bekend watter geweldige rol Philippus Melanchthon in die Reformasie gespeel het.

Melanchthon was ’n invloedryke man

  • In sy eie tyd was Melanchthon internasionaal baie beroemd en onder sy tydgenote was hy hoog geag en gerespekteer.
  • Sy sistematiese, gestruktureerde bydrae in vele kerke en universiteite het die uitwerking van Luther se bydraes bevorder.
  • Luther het reeds in 1518 gesê dat hulle niks meer kan hoop nie as dat hierdie briljante jong kollega vir hulle behou bly.
  • Hy het die erenaam Praeceptor Germaniae gekry. Dit beteken die Leraar of Leermeester van Duitsland. Hy staan vandag nog
    so bekend.
  • Hy het betekenisvolle teologiese én pedagogiese bydraes gelewer.
  • Hy het ‘n invloed op die hervorming van skole en universiteite gehad en lewer bydraes met handboeke wat ‘n kragtige invloed gehad het.
  • Sy dogmatiekwerk van 1521 het op teologiese gebied ‘n groot invloed gehad.
  • Veral die belydenisse wat hy geskryf het, byvoorbeeld die Augsburg Belydenis van 1530, is tot vandag toe amptelik die belydenis van Lutherse kerke wêreldwyd.

Hy was ’n wonderkind
Die jong Philippus het as twaalfjarige reeds met sy studies aan die Universiteit Heidelberg begin. Op 14 verwerf hy sy BA, wat destyds beslis hoër standaarde as ’n hedendaagse BA gehad het. Op 16 volg sy MA aan die Universiteit Tübingen. Hy het van toe af klas gegee, onder meer oor Vergilius (70 – 19 v.C.) Terentius (tweede eeu v.C.) en ander klassieke skrywers soos Cicero (106 – 43 v.C.) en Livius (59 v.C. – 17 n.C.).

Hy was ’n humanis
In die tyd van die Reformasie het die woord humanis ’n ander betekenis as vandag. Dit het veral daarna verwys dat ’n mens moeite moet doen om terug te gaan na die oorspronklike bronne. Ad fontes, terug na die bronne, is ‘n leuse wat aan Melanchthon toegedig word.
Dit behels om die Ou Testament in Hebreeus, die Nuwe Testament in Grieks, die kerkvaders in hul oorspronklike tale en die werke van die antieke skrywers in die brontale te lees. Hiervoor was kennis van die antieke tale natuurlik noodsaaklik: Grieks, Hebreeus en ook klassieke Latyn. Melanchthon beklemtoon deurlopend dat die Bybel, as Woord van God en enigste bron vir ons geloof, in die oorspronklike tale gelees en bestudeer moet word. ’n Goeie begrip van Latyn was daarmee saam vanselfsprekend. Op 20 het hy ’n belangrike handboek oor die Griekse grammatika, wat telkens daarna weer uitgegee is, gepubliseer.

Melanchthon leer by Luther die evangelie

Weens sy buitengewone bekwaamheid word die 21-jarige Melanchthon in 1518 beroep om die eerste professor vir Grieks aan die jong universiteit in Wittenberg te word. Dit was ’n wonderlike beskikking dat hy minder as ’n jaar ná die 95 Stellings van 31 Oktober 1517 vir Luther leer ken. Hy word sy kollega, vriend en steunpilaar vir die Reformasie.
Melanchthon sou later met groot dankbaarheid verwys na Luther se rol in sy lewe. Veral ’n preek van Luther in 1519 het hom van die Reformasie oortuig. In sekere opsigte het hy Luther selfs verbygesteek. In 1519 is hy die eerste persoon uit Wittenberg wat die gesag van die Skrif alleen, ook bó konsilies (sinodes) bevestig.
Sy rol as brugbouer was baie groot: om die brûe tussen kerk en universiteit, tussen geesteswetenskappe en teologie, tussen klassieke tale en die geskiedenis, tussen prediking en kategese te bou.

Melanchthon en Luther het ’n hegte vriendskap
Terwyl baie kenners dikwels na verskille tussen Luther en Melanchthon wys, sou hulle verhouding die beste uitgedruk kon word met die uitdrukking: Verskille in karakter, eenheid in die geloof. Luther het gesê dat iemand wat Melanchthon nie as leraar erken nie, ’n regte esel en ’n dom student is. Lewenslank het beide mekaar gerespekteer.
Luther se kragtige prediking en bevordering van die evangelie is deur Melanchthon bewonder. Melanchthon se begaafdheid, sy kennis van tale sowel as sy beheersing van vele wetenskappe en vakgebiede het Luther beïndruk.
Sonder Melanchthon se hulp, advies en ondersteuning sou die Bybelvertaling deur Luther nie die geweldige impak gehad het nie. Dít weer was vir die uitdra van die evangelie van enorme, onberekenbare betekenis.

Ons kan leer uit die vriendskap
Daar was egter ook verskille tussen hulle. Hulle het, veral later van tyd, temas soos die regverdigmaking, nagmaal, vrye wil en ander vrae nie presies dieselfde gesien en verstaan nie. Nogtans het hulle tussen 1518, toe hulle mekaar leer ken het, en 1546, toe Luther oorlede is, ten spyte van verskille altyd uit hulle pad gegaan om die eenheid in die geloof te handhaaf. Verskille het hulle op ’n saaklike en broederlike manier met mekaar hanteer.
Vir beide het dit oor die evangelie van Jesus Christus gegaan, nie oor hulle eie leer nie. Melanchthon het homself as medewerker saam met Luther gesien. Hy het soms onder Luther se koppigheid gely en selfs oorweeg om aan ander universiteite sy werk voort te sit, maar dan tog elke keer weer ter wille van die evangelie gebly. Luther weer het ook gesê dat daar verskille is, maar dit was nie vir hom enigsins genoegsaam om die eenheid tussen hulle aan te tas nie. Beide was bewus van hulle roeping en het mekaar ondersteun.
Hoe Luther en Melanchthon persoonlike verskille hanteer het, word mooi uitgedruk op die monument vir Melanchthon in Wittenberg, ’n klompie meter van die Luthermonument af: Strewe ernstig om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede (Efesiërs 4.3).