Mense sterf vir die belydenis van wie Christus is

Oor die eeue heen
het die kerk baie tyd spandeer aan wie Jesus is. Kom ons kyk na wié Jesus is vir
wie martelare sterf en hoe Hy mens én God kan wees.

Deur Victor E.
d’Assonville

Deur die loop van die afgelope 2000 jaar was daar baie geloofshelde wat ’n marteldood weens hul geloof gesterf het. Maar ook vroeër, in die Ou-Testamentiese tyd, het die geloof dikwels sy tol geëis. In Hebreërs 11 lees ons onder andere van talle mans en vrouens wat gedood is weens hul geloof. Só ook het Johannes die Doper as belangrikste profeet van die Ou-Testamentiese tyd (Matteus 11:11) ’n martelaarsdood gesterf. Maar in die Nuwe-Testamentiese kerk, die tyd ná die uitstorting van die Heilige Gees, is Stéfanus die eerste Christen van wie ons lees wat as martelaar gesterf het (Handelinge 6 en 7). Op Stéfanus se marteldood sou nog vele martelare volg.

Jesus self vra in Matteus 16:15 die vraag af: “… Wie sê julle is Ek?” Nou kan ons vra: Wie is Christus? Wie is die Christus in wie al hierdie martelare tot die dood toe glo? Wat bedoel Stéfanus wanneer hy in Handelinge 7:59, toe hy doodgemaak word, sê: “Here Jesus, ontvang my gees”?

Wie is hierdie Christus?

Voordat ons dink dat die antwoord vinnig en maklik gegee kan word, moet ons teruggaan. Die vrae agter die geloof in Christus het die kerk etlike eeue besig gehou. Is die Seun van God, deur God die Vader geskep, weliswaar belangriker as ander skepsels maar nogtans geskape met ’n begin? Of is Hy, die Seun van God, Self God, van ewigheid af, één in wese met die Vader? Of is Hy, die Seun van God Self God, van ewigheid af, één in wese met die Vader? Dit was dus ’n vraag oor die verhouding tussen God die Vader en die Seun van God.

Die ekumeniese konsilies se soeke na antwoorde

Die woord ekumenies kom van Grieks en verwys na “die bewoonde wêreld”. In die tyd toe die ekumeniese konsilies gehou is (vanaf die vierde eeu), het dit meer na die Romeinse Ryk verwys as oral waar daar mense was. Hierdie was dus ‘n samekoms waar Christene regoor die Ryk verteenwoordig is. Die samekomste het begin sodat die kerk saam kon besluit oor hoe om God te aanbid. Veral weens die dwaalleraar Arius (260 – 336) het dit vroeg in die vierde eeu dringend geword vir die kerk om enigheid en uitsluitsel te hê van wat die Here ons in sy Woord leer.

Die konsilies het baie vrae ondersoek, maar ons kyk hier na die eerste vier ekumeniese konsilies se soeke na antwoorde rondom die vraag wie Jesus Christus is, en hoe Hy mens én God kan wees.

Jesus van Nasaret is self God

Met groot
worsteling is daar by die eerste ekumeniese konsilie, die Konsilie van Nicéa
(325 n.C. ) tot die gemeenskaplike belydenis gekom dat Jesus van Nasaret God
is, wesenseen met die Vader. Met ander woorde, Jesus Self is God, van ewigheid
af. Daarmee was die worsteling nog nie verby nie.

Jesus is een in wese met die Vader

Byna 60 jaar lank
sou die stryd voortduur totdat dit in 381 n.C. by die Konsilie van Konstantinopel
(tweede ekumeniese konsilie) tot finale duidelikheid gekom het: Die Seun van
God ís God, één in wese met die Vader. Só bely ons dit ook in ons
Geloofsbelydenis van Nicéa (wat sy finale formulering by hierdie tweede konsilie
in 381 gekry het). Hier is ook vasgestel dat die Heilige Gees volgens die Woord
volkome God is, soos die Vader en die Seun.

Jesus is God én mens

Toe die kerk van
die Here duidelikheid gehad het oor die Godheid van Jesus Christus en die
Heilige Gees, verskyn die volgende vrae op die horison. Hoe moet ons die
verhouding tussen sy Godheid en sy mensheid bely en begryp? Wat is die
verhouding tussen die Godwees en die menswees by die Seun van God? Hoe bely ons
die verhouding wat ons ken uit Johannes 1:14, “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon”?
Die worsteling oor hierdie vrae het die grootste deel van ’n eeu in die
geskiedenis van die Vroeë Kerk ingeneem. In 451 is daar finale duidelikheid uit
die Woord van God. Dit was by die Konsilie van Chalcedon, die vierde ekumeniese
konsilie. In die kerkgeskiedenis staan dit as die grootste sinode of konsilie
van die Vroeë Kerk bekend. Die Here het deur sy Gees en sy Woord die kerk gelei
tot ’n belydenis wat vandag nog geld, ook in die gereformeerde belydenis.

Vier begrippe wat Godwees en menswees verduidelik

Die verhouding tussen Jesus Christus se Godwees (dat Hy ware God is) en sy menswees (dat Hy ware mens is) word deur vier begrippe tot uitdrukking gebring. Die Godheid en die menswees van die Seun van God is onvermengd, onveranderd, ongedeeld en ongeskei. Wat die resultaat van Chalcedon betref, wou dit niks anders bely as dít wat reeds by Nicéa (325) bely is nie.
Met dié belydenis sê ons dat ons hierdie misterie van Jesus Christus as God en as mens nie in menslike woorde kan uitdruk nie. Ons kan wel, in navolging van die Skrif as Woord, met hierdie vier begrippe bely hoe die verhouding níé is nie:

  • Dit is onvermengd, onveranderd: Die dwaalleer word hiermee afgewys dat die Seun se mensheid en Godheid vermeng.
  • Dit is ongedeeld, ongeskei: Hier word afgewys dat sy mensheid en Godheid geskei kan word.

Hiermee bely ons dan dat Jesus Christus, terselfdertyd ware God en ware regverdige mens is.