Moenie God se genade misbruik nie

Genade beteken nie dat ons maar net mag aanhou sondig en dan op vergifnis staatmaak nie! Ons leer uit die Ou Testament hoekom ons nie agter God se genade kan wegkruip en aanhou sondig nie.

deur dr MJ du Plessis

Die Here vergewe uit genade ons sondes, terwyl ons niks doen om dit te verdien nie. Ons moenie hierdie genade misbruik nie; dis nie ’n uitnodiging om aan te hou sondig nie. Wanneer ’n mens aanhoudend doelbewus ongehoorsaam is, reken die Here jou hierdie sondes toe, want mens mag nie agter die goedheid en liefde van God wegkruip om aan te hou sondig nie.

Ons leer dit in hierdie stuk geskiedenis in 1 Konings oor Salomo se broer Adonia wat hoogverraad wou pleeg om koning te word. Wanneer hy dan genade ontvang sien hy dit as swakheid en sondig weer.

Adonia beplan hoogverraad om koning te word

In die tyd wat hierdie gebeure afspeel was Dawid baie oud en was dit tyd dat sy opvolger aangewys moes word. Volgens die tradisies van Israel moes Adonia die nuwe koning word. Adonia was bang dat sy pa hom oor die hoof sal sien en een van sy ander broers koning maak en het ’n staatsgreep beplan. Vir sy plan om te slaag moes hy invloedryke persone aan sy kant hê. So het hy die priester Abjatar, en Joab, Dawid se leërowerste gekry om hom te help. Hulle beplan dat die staatsgreep by ’n maaltyd sal plaasvind. Die hele beplanning was agterbaks. Nie Salomo, die profeet Natan of Dawid se helde is genooi nie. Hulle moes in die donker gehou word, en dan oorval en oorrompel word. Dis hoogverraad en strafbaar met die dood.

Adonia se plan misluk

Adonia se plan het egter uitgelek en Dawid laat Salomo as koning salf voordat die staatsgreep uitgevoer kon word. Terwyl Adonia se maaltyd aan die gang is, het die boodskappers die tyding kom vertel dat Salomo gesalf is as koning. Dit het beteken dat Adonia en sy twee samesweerders die doodstraf sou kry as daar nie begenadiging was nie.

Adonia smeek om genade

Adonia hardloop na die altaar toe en gryp die ramshorings vas. Dit is ’n simboliese daad. Ons lees in Eksodus 21:14 dat die Here die altaar as ’n toevlugsoord aangewys het. Om aan die altaar te vat, veral dan die horings, beteken dat daardie persoon hom onder die versoenende genade van God stel. Dan sien ons hoe die Here sy genade bewys.

Genade kom met ’n voorwaarde
Adonia en sy aanhangers het niks gedoen wat die genade wat hulle ontvang, bewerk nie. Tog word Adonia en sy medepligtiges deur Salomo begenadig, want Salomo voer Christus se opdrag uit. Hy gee genade aan hom wat daarvoor smeek by die altaar. Maar dit word nie sonder voorwaarde geskenk nie: Adonia moet homself voortaan as ’n betroubare man vertoon. Die genade en voorwaarde geld ook vir sy medepligtiges.

Adonia hou nie by sy ooreenkoms nie

Adonia beskou genade as ’n middel om voort te gaan met die kwaad. Daarom kom hy na Batseba toe en vra of hy Abisag as vrou kan kry. Salomo was maar so tussen 18 en 20 jaar oud op hierdie stadium, en Adonia het gedink dat Salomo nog na sy moeder se aanbevelings sou luister. Batseba sien geen kwaad in die versoek nie, en dra dit so aan Salomo oor. Die Here maak egter Salomo se oë oop vir die gevaar. Hy verstaan meteens dat daar ’n groot deel van die volk is wat Adonia eintlik as koning sal wil sien omdat die tradisie van die volk dit so wil hê. Verder het Adonia aanhang onder die invloedryke mense, byvoorbeeld Joab en Abjatar. As Adonia nou vir Abisag as vrou kry, is dit vanselfsprekend dat die volk Salomo gaan verwerp, en Adonia as koning gaan aanvaar, want hy het dan die vorige koning se vrou geërf.

Adonia word tereggestel

Salomo sien hoe Adonia sy genade misbruik om hom van sy troon af te gooi. Hy het vroeër al die dood verdien vir sy verraad, en nou probeer hy weer verraad pleeg. Daarom word die doodsvonnis voltrek. Benaja stel Adonia op Salomo se bevel tereg.

Abjatar en Joab word ook gevonnis

Hier sien ons nou hoe Adonia sy medepligtiges die verderf insleep. Joab en Abjatar was wel die vorige keer saam met Adonia in die onwettige saak betrokke, maar hierdie keer het hulle beslis nie daarvan geweet nie. Abjatar, die priester, word as gevolg van Adonia se tweede oortreding onder huisarres geplaas. Joab het egter by die aanhoor van die nuus na die altaar toe gevlug – soos Adonia die eerste keer gedoen het. Die voorwaarde vir die behoud van sy lewe het verstryk. Dit blyk dat Joab se gewete sy skuld verklaar het. Al het Joab nie aan hierdie laaste beplande verraad van Adonia deelgeneem nie, was die gesindheid in sy hart teenoor die koning wat deur God aangestel was, nie reg nie.

Die altaar se genade geld nie vir Joab nie

Die Here se wet sê dat iemand teen die altaar asiel kry, maar daar word nie aan Joab asiel bewys nie, omdat hierdie genade van God nie vir moordenaars geld nie. Salomo het geweet dat Joab twee onskuldige moorde gepleeg het. Hy het vir Abner en Amasa vermoor sodat hy hulle posisies kon kry. Salomo stuur Benaja om Joab teen die altaar dood te steek waar hy aan die horings van die altaar vasgehou het. Ons lees dan dat die Here hom sy verdiende straf laat kry: “… en dat die HERE sy bloed op sy eie hoof laat neerkom” (1 Konings 2:32).



Jesus bewerk genade en oordeel

Dié woorde in 1 Konings 2:32 hoor ons in die Nuwe Testament weer. Jesus word verhoor en hoewel hy onskuldig bevind word, eis die volk sy dood. Hulle is bereid om die verantwoordelikheid te dra vir die moord op God se Seun – al is Hy onskuldig bevind. Toe skreeu hulle: “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!” (Matteus 27:25, 1953-vertaling).

Dis ook ’n deel van die werk wat Jesus volbring het. Hy het genade bewerk vir die wie se sondes hulle sal vernietig maar wat Hom as hulle Verlosser aanbid. Hy bewerk genade vir dié wat glo en dié wat berou het. Dié wat werklik stry teen sonde en oortredinge sal genade ontvang. Jesus bewerk genade vir hulle wat met alle kragte aan God gehoorsaam wil wees, wat nie genade as ’n geleentheid sien om weer te sondig nie.

Maar Jesus bewerk ook oordeel vir dié mense wat aanhoudend in die sondes volhard. Hulle word verantwoordelik gehou vir wat hulle gedoen het. Dis wat dit beteken as die Here hulle hul eie bloed op hul hoofde laat neerkom. Wanneer Jesus met sy wederkoms op die wolke kom, kom Hy om te oordeel oor die lewende en die dode. As al sy werk net genade was, waarom moet Hy dan oordeel? Dan moet almal mos hemel toe gaan!