Moenie ‘n blameshifter wees nie

Jy
kan nie vir Adam en Eva blameer vir jou foute nie! Neem verantwoordelikheid vir
jou dade en moenie ander die skuld gee nie.

Deur Wilna Myburgh

Dis nie my skuld nie!

Al
ooit van ‘n blameshifter gehoor? Dis
daardie persoon wat nooit verantwoordelik neem vir enigiets wat verkeerd gaan
nie. Hulle is alewig besig om te verduidelik hoekom hulle onskuldig is. Laat
vir klas? Dit was die verkeer. Waar’s jou huiswerk? Die hond het dit geëet.
Pluk ‘n toets? Die dosent het ons opsetlik probeer uitvang. So kan mens aangaan
met ‘n klomp alledaagse verskonings.

Die eerste sondaars

Adam en Eva is die eerste van die mense in die Bybel wat hulself onskuldig geag het. Hier is wat ons in Genesis 3:11-12 lees:

Die mens het geantwoord: ‘Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet.’ Toe vra die Here God vir die vrou: ‘Wat het jy nou gedoen?’ en sy sê: ‘Die slang het my mislei, en ek het geëet.

Dis
nie dat Adam of Eva gelieg het nie. Hulle het wel ‘n keuse gehad. Hulle het
geweet wat die uiteinde van hul daad is en nogtans gekies om verkeerd te doen.
Ondanks hul pogings om hulself te verontskuldig is beide vir hul dade
verantwoordelik gehou, want die finale keuse het steeds by elkeen van hulle
gelê. 

Moenie soos Adam en Eva wees nie

As
jy die blaam skuif na iemand anders, gee jy ook die verantwoordelikheid aan
iemand anders. Dit beteken dat jy jouself kragteloos laat. Adam het vinnig die
skuld na Eva geskuif, maar nie gekyk watter rol hy gespeel het nie. Jy moenie
net vingerwys na iemand anders nie, jy moet ondersoek wat jy kon doen om dit
reg te stel. As jy skuld dra, moet jy dit erken en die verantwoordelikheid
daarvoor neem. Jy kan veral nie jou sondige natuur blameer nie! Dit gaan oor
meer as die feit dat jy fouteer het, dit gaan oor hoe jy dit hanteer.

Wat moet jy onthou?

Jy het altyd ‘n keuse
Jy voel dalk dat jou verontskuldigings nie so groot soos Adam en Eva s’n is nie. Hulle sonde het immers ‘n slegte gevolg vir hul héle nageslag gehad! Die een ding waarteen jy nié kan stry nie is dat jy, net soos Adam en Eva, altyd ‘n keuse het. Adam en Eva se keuse was eenvoudig: luister na God, of moenie na God luister nie.

Jy moet verantwoordelikheid neem
Wanneer jy verantwoordelikheid vir jou dade neem, neem jy ook verantwoordelikheid vir jou lewe. Dawid is ‘n goeie voorbeeld van iemand in die Bybel wat erken dat hy fouteer het en die gevolge daarvan gedra het. Ongeag Dawid se foute word hy steeds as ’n man na God se hart geag (Handelinge 13:22). In Psalm 51 kan jy lees hoe hy God om vergiffenis vra.

Jesus het klaar vir jou sondes gesterf
Hier is die belangrikste wat jy moet onthou: Jesus is na die wêreld toe gestuur om vir al jou sondes te sterf. Hy het nie verskonings uitgedink om uit die verantwoordelikheid te kom nie. Jesus het klaar jou straf gedra, al wat jy hoef te doen is om jou sondes te erken en na Hom te draai.