Net God kan ingryp teen die sonde

Ons almal is in sonde gebore. Lees hier hoe ons deur die Heilige Gees kan loskom van die praktyke van ons sondige natuur om die vrug van die Gees uit te straal.

deur ds. Danie Snyman

Het God die mens sondig en verkeerd geskep? Waar kom ons sondige natuur vandaan? Kan ons dan niks goed doen nie? Ons worstel met baie vrae oor die sonde, en tog praat ons nie maklik en openlik met mekaar daaroor nie. Die sonde is ‘n belangrike onderwerp in ons geloof. Om die wêreld beter te verstaan moet ons daaroor praat. Om jou redding te verstaan, moet jy meer daarvan weet. Die mens is vas in die ellende wat hy oor homself gebring het, tensy God ingryp.


Die sonde is nie God se skuld nie

Alle mense is gebore sondaars en oortree in hul lewens die Here se wette en verdien daarom sy straf. Die Bybel leer dit duidelik in Romeine 3:9:

Waarop kom dit neer? Is ons as Jode dan beter as die ander? Glad nie, want ons het al bewys dat Jode en nie-Jode almal in die mag van die sonde is. 

Baie mense probeer God die skuld daarvoor gee. Hulle redeneer só: God weet mos alles en beheer mos alles, so Hy het geweet dat Adam en Eva gaan sondig en Hy kon hulle keer, maar Hy het dit nie gedoen nie. Dan is dit mos sý skuld dat mense is soos hulle is en dat die wêreld lyk soos hy lyk.

Dit is lasterlik en verkeerd om so te dink. Hoewel God dit goedgedink het om die sonde toe te laat, het Hy ’n verhewe doel daarmee gehad. Ons leer God van die begin af ken as die Een wat sonde haat en mense daarteen waarsku. Hy moedig nooit iemand aan om te sondig nie. Die Heilige Gees laat Jakobus skryf: “Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: ‘Ek word deur God versoek’ nie, want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie” (Jakobus 1:17). Sonde begin nie by God nie. Alles wat goed en reg en waar en mooi is, begin by Hom.

God het tot die uiterste gegaan om mense van die sonde te bevry. Hy offer sy Seun aan die kruis sodat mense wat in Hom glo vir altyd van sonde en skuld bevry kan word. Die Bron van alles wat goed is en die grootste Teëstander van die sonde is nie die oorsaak van die sonde nie.


Adam en Eva was net die begin

Adam en Eva is met die wil en die krag om die duiwel te kon weerstaan geskep en om aan God gehoorsaam te kan bly. Maar hulle het dit nie gedoen nie. Hulle los die pad van gehoorsaamheid en lewe, en kies – teen God se duidelike waarskuwing in – die pad van sonde en die dood. Toe Adam en Eva sondig, word die goeie mens ’n slegte mens, word al die mooi in die mens in die teendeel verander: in die plek van liefde, kom haat; in die plek van tevredenheid, onvergenoegdheid; in die plek van die waarheid, die leuen; en in die plek van vertroue in God, wantroue en ongeloof.

Die aarde waarop die mens moet woon en werk kom ook onder die oordeel van God en so begin onder andere vloede en droogtes, wreedheid en verwoesting in die natuur. Dit help nie om Adam en Eva te verwyt asof ons die onskuldige slagoffers van húlle foute is nie. Daar is geen rede om te dink dat ons sou bly staan het waar hulle geval het nie. Ons kom uit hulle – ons kan nie sterker of beter wees as wat hulle was nie. Die mens is self verantwoordelik vir die ellende waarin hy hom bevind.


Ons sit almal in die sonde vas

Nie net moet ons aanvaar dat die sonde en ellende ons eie skuld is nie, ons moet ook aanvaar dat ons magteloos daarin vassit. Dis moeilik vir ons as mense om te erken dat ons vas is en nie onsself kan help nie. Die eerste mensdom wat uit Adam en Eva ontwikkel het, het so in die sonde verstrik geraak dat die Here hulle moes straf. Genesis 6 sê dat die Here hulle met die watervloed gestraf het omdat hulle hul lewens lank net slegte dinge bedink het. Noag en sy gesin is deur die Here se onverdiende goedheid gespaar. Tog was die mensdom wat na die vloed uit Noag-hulle gekom het presies dieselfde. In Genesis 8:21 hoor ons dieselfde van die mens na die watervloed as van die mens voor die vloed as die Here sê:

Van sy jeug af bedink die mens net slegte dinge.

’n Mens word nie eers later in jou lewe ’n sondaar nie. Ons is van ons begin af sondig. Ons erf ’n sondige natuur by ons ouers. Al die eeue van die mensdom se bestaan na Noag wys dat die Here die waarheid praat.


Net God kan ons uit die put van sonde haal

Ons as mense moet aanvaar dat die sonde ons erfporsie is, dat ons in die sonde en ellende vas is. Die mens kan nie homself daarvan red nie, dis net as God ingryp wat daar verandering kan kom. Dis net as mense weergebore word. Die belangrike aspekte wat ons hiervan moet verstaan is dat dit nie iets is wat die mens self kan doen nie, dit is iets wat met ons gebeur. Verder is dit iets wat die Gees van God in die binneste van ‘n mens moet doen. Die Heilige Gees werk in jou om jou wil, jou gedagtes en jou gevoelens na die regte rigting om te keer. Net waar dít gebeur kan mense van die sonde waarin hulle vasgevang sit loskom. Sonder wedergeboorte is selfs die mees geleerde en mees beskaafde mens in sonde vasgevang en op pad na die ewige verdoemenis.



Net as God ingryp is daar vir die mens hoop!

Ons moet eers die skuld en die magteloosheid van die mens besef voordat ons harte kan begryp wat die hemelse Vader vir ons gedoen het. Dan kan ons verstaan wat dit beteken dat Jesus Christus vir ons aan die kruis gesterf het. Wanneer ons dít begryp kan die Heilige Gees ons geestelik weergebore laat word. Só kan ons deur die hoop wat God deur die Heilige Gees in ons harte bring die vrug van die Gees uitstraal.


Jy sal ook hou van ...

1 Response

  1. Stephanus Hennig sê:

    As die Seun, Jesus, jou dan vrygemaak het, sál jy wáárlik vry wees!
    Verlos, om diensbaar te wees.
    God plaas ons voete op die Ewige Rots.
    Prys Sy heilige Naam!

Laat 'n boodskap na Stephanus Hennig Kanselleer die opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui