Offer jou beste aan die Here

Lees hier oor Kain en Abel se offers aan die Here, en wat ons daaruit kan leer oor hoe ons onsself as lewende offers moet gee.


deur ds Lohan Linde

Met die geboorte van Kain laat Eva ’n vreugdegeroep opklink, vol vreugde en trots roep sy uit: “Ek het ’n man in die wêreld gebring met die hulp van die Here!”

Die eerste seun, soos die gebruik was in Ou-Israel, sal die patriarg word, en ’n dubbele deel van die seën van sy vader ontvang.

Hy is die een wat die stamnaam sal voortdra, hy is die een op die Adam en Eva se hoop rus om die belofte wat God gegee het, dat daar uit hulle nageslag iemand sal kom wat die kop van die slang sal vermorsel, tot uitvoering sal bring.

Hy is die een uit wie se nageslag die Een sal kom wat sal reg maak wat Adam en Eva verbrou het, wat die verhouding tussen God en mens heeltemal sal herstel.

Kain, die hoop vir die mensdom.

Abel se geboorte is minder opspraakwekkend, hy word “nietigheid” genoem, die tweede seun se lot, om minder geag te word deur sy ouers.

Kain en Abel bring offers

Dan spring die geskiedenis verder, hulle is nou volgroeide mans.

Hulle het begin om uit die sweet van hulle aangesig hulle brood te eet , soos die Here ook beveel het.

Nou sien ons dat die tyd gekom het vir die jaarlikse offer aan die Here.

Kain en Abel gaan altwee om aan die Here te offer.

Ons almal weet waarop loop die offers uit.

Tog is hierdie vir ons al ’n eerste waarskuwing, die feit dat altwee gaan offer het.

’n Mens sou verwag dat Kain dalk nie eers die moeite sou gedoen het om te gaan offer nie, maar tog het hy gegaan.

Dit laat mens wonder oor baie kerkmense vandag ook, of hulle nie maar ook net soos Kain deur die hele kerkproses gaan nie.

Die mense wat die kerk van die Here gebruik vir doop, dood en troues. Hulle ken ons almal, maar wat van die wat so ’n trappie hoër is, die wat darem met nagmaal en ’n paar ander kere in die kerk is, as hulle geen ander verskoning het om nie kerk toe te kom nie.

Wat sê Kain se optrede van hierdie mense?

Gaan dit rêrig oor diens aan God Almagtig, gaan dit rêrig oor hulle harte wat in alles op God gerig is?

Of is daar in hulle harte en gedagtes net die idee om maar hierdie klaar te kry, sodat ek die res van die dag met ’n skoner gewete met my lewe kan aangaan?

Die twee broers se offers

Kain, wat ’n saaiboer geword het, bring die offer van vrugte en graan, terwyl Abel, die veeboer, soos beskryf in Genesis 4:4, die eersteling van sy kudde, die beste beeste, en hulle vet aan die Here offer.

Die vet van die diere is regdeur die Ou Testament as die beste deel van die dier beskou, en daarom is dit in die meeste gevalle ook dit wat eerste aan die Here geoffer is.

Dit maak sin as mens daaraan dink, dat mens dankbaar moet wees teenoor die Here dat daar wel vet aan die beeste is om te offer, dit beteken dat die Here in die jaar genoeg reën en weiding gegee het vir die beeste en bokke om in ’n goeie toestand te kan wees.

Kain, die eersgeborene, die spesiale lieflingseun van Eva, se offer word nie aangeneem nie.

Abel se offer, die offer van die “nietige”, word deur die Here aangeneem. God kies dikwels die wat deur die wêreld as te jonk, swak, onbekwaam beskou word om in sy diens te gebruik.

Die mens wil altyd dink dat die Here die mens se keuse van beste, oudste, sterkste, slimste, mooiste moet gebruik in Sy diens.

Net so het Kain ook gedink dat hy die belangrikste is, dat hy van nature die een moet wees wat die Here kies vir ’n spesiale doel.

Tog is dit nie die geval nie, Abel word gekies, Abel se offer word aangeneem.

Net een broer se offer word aangeneem

Hoe die twee broers dadelik besef het wie se offer aangeneem is, weet ons nie, dit word nie aan die lesers meegedeel nie.

Die kinderbybels het die storie ingekleur met die idee dat die rook van Kain se offer dwars getrek het. Ons kan dit egter nie bevestig nie.

Wat ons wel weet, is dat die broers dadelik kon sien wie se offer aangeneem is, en wie se offer nie deur die Here aangeneem is nie.

Hier gaan dit oor die gesindheid van die persoon wat die offer bring. Hebreërs 11:4 praat van deur die geloof …

Deur die geloof het Abel die offer gebring.

Wat kon Kain se motivering gewees het om die offer te bring?

Sou dit dalk wees dat dit maar net gebring is om dit verby te kry, of omdat die tradisie dit van hom vereis het?

Hoe dit ook al sy, Abel bring sy offer uit opregte dankbaarheid, deur die geloof, om vir die Here dankie te sê vir die suksesvolle oes wat hy gehad het.

So sien die Here dan natuurlik die gesindheid raak, en word Abel se offer aanvaar, met die bykomstige beskrywing in Hebreërs 11:4 dat hy opreg, of dalk beter vertaal in die 33 en BDV, regverdig was voor God. Soos Jesus Christus ook baie later by die Skrifgeleerdes probeer tuisbring het, gaan dit nie net oor die offer nie, dit gaan oor die gesindheid waarmee die offer gebring word.

Abel se hart het aan die Here behoort, daarom word hy dan ook regverdig gereken nadat hy die offer gebring het.

Kain het homself beskou as die spesiale een, die een wat op die ou end net met die minimum kon wegkom, en toe God deur hierdie gesindheid sien, het dit verskriklike woede by hom gekweek.


Wat beteken dit in jou lewe?

Doen ons wat ons dink is reg, of dien ons God soos Hy dit van ons verwag?

Is ons hele wese aan God opgedra as lewende offers?

Die boodskap van Abel is een van die regte hart: Ons moet ’n opregte regverdige hart, voor en vir God hê.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui