Onreëlmatighede op die dag van die kruisiging

Die talle onreëlmatighede in die verhore voor Jesus se kruisiging is die bewys dat die verhore net ’n formaliteit was, want die uitslag was vooraf vasgestel. Die verdere klug van die verhore is dat daar in totaal ses verhore was gedurende die nag en die volgende oggend. Die verhore is buite die normale werksure afgejaag.

Kom
ons gaan die laaste 18 uur van Jesus se lewe deur en kyk na al die
onreëlmatighede wat plaasgevind het tydens die ses verhore.

Verhore voor die godsdienstige leiers

Die eerste verhoor is voor Annas.

Annas was tevore ’n hoëpriester en die skoonvader van Kajafas. Hy was die invloedrykste lid van die Joodse Raad. Die idee was dat hy ’n voorondersoek behartig en met ongunstige aanbevelings by die Sanhedrin moes kom.
Dié verhoor het hulle ook genoeg tyd gegee om in die laat ure van die nag die Sanhedrin bymekaar te kry. Die feit dat Annas al besig was met die verhoor het die indruk geskep dat dit ’n ernstige saak moes wees.

Twee verhore voor die Sanhedrin.

Die Sanhedrin is die Joodse Raad waarvan Kajafas die voorsitter was. Daar volg twee sittings van die Raad.

  • Die Joodse wet het destyds bepaal dat hy nie ’n persoon kan verhoor en straf tydens dieselfde verhoor nie. Daar moes tyd tussen-in verloop waarin die persoon se saak in perspektief gesien kon word sodat hy nie onredelik gestraf word nie. Die Sanhedrin hou doodeenvoudig dié nag twee sittings na mekaar. Só het hulle nie die wet oortree nie.
  • Dit was ook teen die wet om die laaste verhoor voor sonop te hou, maar dit het hulle nie gekeer nie.
  • Daar was nie eers ’n klag nie! Die Sanhedrin het saamgekom om ’n klag te soek. Al die beskuldigings wat hulle kon uitdink het verval tot hulle op die klag van Godslastering besluit het. Dié klagte was geforseerd, want Kajafas lê dit vir Jesus in die mond.

Drie verhore deur die heidene

Die eerste verhoor is deur Pilatus.

Pilatus was ’n swakkeling met ’n taamlik slegte verlede. Die regeerders in Rome wou hom uit die pad hê en het hom die goewerneursposisie in Palestina gegee. In die tyd van die verhoor was daar reeds ’n klag van wanbestuur in Palestina teen hom.
Pontius Pilatus kon dit nie bekostig dat daar nog ’n klag teen hom kom nie. As hy nie na die Jode se pype dans nie, sou hulle die wêreld vir hom warm maak. Hy gryp toe die eerste uitweg aan. Jesus kom uit Galilea, Herodes se magsgebied, en Pilatus stuur Jesus na hom toe.

Die vyfde verhoor is voor Herodes.

Herodes
was juis toe in Jerusalem, en dit was baie gerieflik om Jesus met ’n aantal
wagte na hom toe te stuur. Die ironie is dat Herodes ’n Edomiet is. Hy was ’n
nakomeling van Esau. Hy was boonop dieselfde man wat die kindermoord gepleeg
het toe Jesus gebore is.
Jesus se onskuld is so groot dat selfs Herodes geen skuld in Hom vind nie, maar
hy beveel dat die soldate Jesus met minagting en spot behandel. Herodes het al
baie van Jesus gehoor, en hy is teleurgesteld omdat Jesus hom nie wil trakteer
deur ’n wonder te doen nie.
Hy het die erkenning van Pilatus waardeer dat Pilatus Jesus na hom toe gestuur
het om ’n aandeel te hê in sy verhoor. Die twee kon voor die tyd nie klaarkom
nie, maar van hierdie gebeurtenis af, was hulle goeie vriende. Omdat hy Jesus
onskuldig vind, stuur hy Hom egter terug na Pilatus toe.

Die laaste verhoor is voor Pilatus.

Hierdie is die derde verhoor voor die heidene en die
tweede een voor Pilatus. Pilatus het
alle moontlike uitweë probeer – behalwe die regte een. Eers het hy die saak op die
Jode probeer afskuif, maar hulle het geweier om dit te hanteer. Hulle wou hê
dat Jesus die doodstraf moes kry. Herodes het Jesus onskuldig gevind en na
Pilatus teruggestuur.

  • Pilatus speel op die Jode se gevoel: Is julle seker dat julle volk wil hê dat ’n Romein die koning van die Jode moet kruisig?
  • Hy probeer ook om die skare sag te maak en hulle medelye op te wek. Hy het gedink as hy Jesus aanhoudend martel, dan sal die volk Hom mettertyd begin jammer kry.
  • Verder probeer hy Jesus as ’n karikatuur van ’n koning voorstel, sodat die Jode moet dink dis ’n belaglike saak: ‘n doringkroon, die soldate wat Hom slaan, en ’n purper mantel met die rietstaf in die hand, se bedoeling is baie duidelik. Maar die Jode volhard in hulle standpunt.
  • Die gebruik is dat daar op die Paasfees ’n gevangene losgelaat word. Pilatus gee die volk ’n keuse tussen die slegste gevangene in die tronk en Jesus. Die volk kies vir Jesus Barabbas, ’n rower en ’n moordenaar en die Regverdige moet gekruisig word.
  • Pilatus was sy hande in onskuld. Hy is te swak van persoon om wet en orde te handhaaf, en daarom laat hy die volk toe om die reg te verkrag. Só is Jesus uiteindelik na ure van verhoor, wat met marteling gepaard gegaan het, gekruisig.

Nog onreëlmatighede van die kruisiging

  • Kruisigings is deur die ou
    Perse en Feniciërs uitgevind en toegepas. Die Romeine het die straf oorgeneem
    en dit toegepas op die ergste misdadigers. Die Romeinse wet het bepaal dat die kruisstraf nie op ’n Romeinse burger toegepas
    mag word nie. Jesus is ’n Romeinse burger deur geboorte, maar Hy word
    halsoorkop gekruisig.
  • Die Romeinse wet het bepaal
    dat daar twee dae moet verloop tussen die vonnis en die teregstelling, maar
    hier was dit anders. Die mense en die
    Satan wou Jesus uit die pad hê. Die Seun van God moes so gou moontlik vernietig
    word.

Elkeen van ons het skuld aan hierdie dood. Dit is ook my en jou ongeregtighede se smarte wat op Christus gewreek is. Daarom het Hy die straf van God oor al hierdie dinge op Hom geneem, sodat ons daarby kan verbygaan.