1

Oordink die Woord dag en nag

Die Here praat met jou deur die Woord en daarom moet jy dit deel maak van jou lewe. Kruispad kyk wat beteken die woorde in Psalm 1 dat ons dag en nag die Woord moet oordink.

Jy staan op met ’n vol dagprogram wat voor jou uitgestrek lê, tel jou Bybel op, kyk gou op jou leesprogram waar jy moet lees en trek weg. Vyf minute later sit jy jou Bybel neer, merk af dat jy daardie Skrifgedeeltes gelees het, bid en begin om jouself gereed te maak vir die dag. Kort voor lank probeer jy om te onthou wat jy gelees het, maar jy kan skaars onthou waar jy gelees het! Wonder jy ook dan of dit die regte manier is om Bybel te lees? Moet jy dalk eerder net die Bybel oopmaak en begin lees op die plek waar hy oopgeval het? Moet jy dalk ’n eenvoudiger vertaling kry?


Die Here praat met jou deur die Woord. Hy gebruik die Bybel en die Heilige Gees om jou te help om geestelik te groei. Jy moet gereeld die Woord lees en dit deel maak van jou lewe.


Jou houding teenoor die Bybel

In Psalm 1 se eerste twee verse wys die digter dat ons twee houdings moet hê sodat die Skrif ons kan beïnvloed en ons kan luister en toepas wat dit ons leer:

Dit gaan goed met die mens … wat
1. in die Woord van die Here sy vreugde vind
2. dit dag en nag oordink.”

Die eerste houding is hoe ons die Woord benader en die tweede hoe ons die Woord verlaat. Niks anders sal bepaal hoe jy beïnvloed word nie. Albei hierdie houdings is nodig as ons die Bybel wil oordink.


Wat beteken dit om die Bybel te oordink?

Om te oordink, beteken om ’n waarheid te vat en daaroor te dink met die doel om dit in jou lewe toe te pas. Dit beteken dat jy moet dink oor die Skrif en oor jou lewe. Om Bybel te lees, is meer as om net te lees of selfs net kennis te versamel. Jy moet nie net luister nie, jy moet luister met die ernstige voorneme om dit wat jy hoor te gaan toepas. Daarom moet ons die Bybel benader met die verwagting dat die Here met ons gaan praat. Jy moet die Bybel lees om daaruit geleer te word. Jy moet gereed wees om te luister.


Hoe lyk jou lewe as jy die Bybel oordink?

Jou lewe moet verander nadat jy gelees het. In die Bybel leer die Here jou oor Homself, sy verlossing en hoe jy moet lewe. Jy moet ’n nader verhouding met Hom bou, ’n dieper verstaan van jou verlossing kry en duideliker strewe na die heilige lewe wat die Here van jou verwag.
Die Heilige Gees is die Een wat jou uit die Woord leer en wat jou in situasies lei en die krag gee om dit toe te pas. Hy is die Een wat ons meer en meer na die beeld van Jesus Christus verander. Oordenking van die Skrif is dus ’n geestelike dissipline wat jy doelbewus elke dag moet beoefen. Jy moet kies om te oordink.


Môreoggend kan jy opstaan met jou volle dagprogram wat voor jou uitgestrek lê en jou Bybel optel. Maar, voordat jy begin, bid en vra die Here dat Hy jou getrou sal laat luister. Lees dan die gedeelte in jou leesprogram en vat ‘n boekie waarin jy die gedagte(s) kan opskryf wat jy graag deur die dag wil onthou. Bid na die Skriflesing daaroor dat jy dit deel sal maak van jou lewe. Soos die dag verloop en jy geleentheid het om dinge toe te pas of te oordink, dink dan aan wat jy geskryf het in jou boekie, pas dit toe en dank God daarvoor.


Wil jy meer hieroor lees? Besoek die artikel, “Christian Meditation: Is Meditation Biblical?” by www.equip.org.