Petrus Waldo: ’n Vroeë hervormer

300 jaar voor Luther se geboorte, het Petrus Waldo gelewe, een van die mense wat toe reeds die pad vir die Reformasie gebaan het.


deur Prof. Rikus Fick

As ’n mens van die Reformasie praat, dan dink jy onmiddellik aan prominente name soos Luther, Calvyn, Zwingli, ens. – manne wat in die vyftiende en sestiende eeu geleef en opgetree het. Ons moet egter nie vergeet nie dat daar voor hulle ander manne was wat ons ook “hervormers” kan noem, omdat ook hulle uit liefde vir die Woord van God en vir die waarheid openlik gepreek en opgetree het teen die wanpraktyke en valse leringe van die Roomse Kerk.

Een van hierdie vroeë hervormers was ’n ryk en geleerde handelaar van die stad Lyons in die suide van Frankryk. Sy naam was Petrus Valdès of meer bekend as Petrus Waldo (die Italiaanse vorm) en is meer as 300 jaar voor Luther gebore. Daar is ongelukkig nie veel bekend oor sy lewe nie, maar daar het blykbaar kort voor die jaar 1160 ’n aantal dinge met hom gebeur wat hom tot besinning geruk en ’n groot invloed op sy lewe gehad het. Die geweldige rykdom van die Roomse Kerk en die weelde waarin die pous geleef het, het hom daartoe gebring om ’n groot deel van sy eie rykdom aan armes uit te deel.

Hy het spoedig die leier geword van ’n groep wat bekend gestaan het as die “Waldensers” of ook “die armes van God”. Hulle het as lekepredikers opgetree en het veral gepreek teen die weelde in die kerk. “’n Mens kan nie God en Mammon dien nie” was ’n gereelde tema in hul prediking. Hoe meer hy die Bybel bestudeer het, hoe meer het hy oortuig geraak dat die wanpraktyke en valse leer van die Roomse kerk mense mislei. Hy het al hoe meer gepreek teen byvoorbeeld die leer van die vagevuur, ’n tipe halfweghuis tussen die hemel en die hel. Hy en sy volgelinge het streng gehou by die Bybel as enigste riglyn vir hulle lewe en vas gestaan op die waarheid dat daar maar een Middelaar is: Jesus Christus en dat daar maar twee sakramente was: die doop en die nagmaal. Uiteindelik het hulle ook die leer verwerp dat die pous ’n opvolger van die apostel Petrus was.

Vertaling van die Bybel in die plaaslike spreektaal

Kort na 1170 het Waldo twee geleerdes in Lyons gehuur en hulle die taak opgelê om die Nuwe Testament in die plaaslike spreektaal te vertaal. Dit was die heel eerste Bybelvertaling in ‘n spreektaal toe slegs die Vulgaat, die Latynse vertaling van die Bybel, in die kerk toegelaat was.

Verbied om te preek

In Januarie 1179 het Petrus en enkele van sy volgelinge Pous Alexander III en van sy raadgewers in Rome ontmoet. Hulle het hulle leer voor ’n paneel uitgelê. Onderwerpe wat bespreek is, was onder andere die priesterskap van alle gelowiges, die evangelie in plaaslike spreektale en die kwessie van armoede. Die gesprek het nie veel opgelewer nie, maar hy is verbied om te preek omdat hy nie ’n geordende prediker was nie. In Maart van dieselfde jaar is sy leer by die Derde Lateraanse Sinode veroordeel, maar in 1180 het Waldo ’n geloofsbelydenis opgestel. Die aartsbiskop van Lyons verbied hom ook om verder te preek, maar hy antwoord dat hy nie kan stilbly as dit kom by die verlossing van mense nie. Hy word gedwing om ter wille van sy eie veiligheid ondergronds te gaan en sy troue volgelinge versteek hom vir drie jaar lank.

Verdryf uit Lyons

Waldo en sy volgelinge is uiteindelik uit Lyons verdryf toe die pous die aartsbiskop van Lyons beveel het om Waldo en sy volgelinge met alle mag teen te staan. In 1184 is Waldo deur Pous Lucius III geëkskommunikeer. Hierna moes die Waldense vlug en het gaan skuiling soek in die bergagtige dele in die noorde van Italië. Soos so dikwels in die geskiedenis van die kerk gebeur het, het hulle vervolging juis gelei tot die verspreiding van hulle leerstellings soos hulle van plek tot plek moes vlug.  Boonop het sy Bybelvertaling baie bygedra tot die verspreiding van die evangelie.

’n Vyand in prins Philippus Augustus

Die Waldense het egter in hierdie tyd ‘n nog groter vyand gekry: prins Philippus Augustus van Frankryk wat die wapen teen hulle opgeneem het. Hy het 300 huise wat aan die Waldense behoort het laat afbreek, stede waar hulle saamgetrek was aangeval en verwoes en hulle moes na Vlaandere vlug. Hy het hulle egter ook daarheen agtervolg en baie van hulle op die brandstapel laat sterf. Waldo het toe na Duitsland gevlug en in Boheme gaan woon tot met sy dood in ongeveer 1179. Sy werk en prediking was, soos ’n historikus dit beskryf het, die eerste trillings wat die aardbewing van die groot Reformasie voorafgegaan het.  

Waldo se dood was egter nie die einde van die beweging nie. Waldensiese kerke het, ten spyte van volgehoue vervolging oral in Europa opgespring: onder andere in Duitsland, Oostenryk, Italië, Spanje, Bulgarye, Kroasië, Pole en Hongarye. Hulle invloed kan moeilik onderskat word. Toe die Reformasie in die sestiende eeu deurbreek, het die meeste van hulle Protestante geword.