Rig jou dagboek én jou ywer op die Here

Hoe lyk jou dagbeplanning? Plaas jy die Here eerste, of eers alles wat oor jou eie belang gaan? Lees hier hoe jy moet lewe.

deur ds. Jan-Louis Lee

Jou dagboek is ’n baie handige instrument om jou dag mee te beplan. Met ’n enkele oogopslag kan jy kyk hoe jou dag gaan verloop en kan jy seker maak dat jy niks vergeet nie. Deesdae kan jy jou dagboek in die vorm van jou selfoon oral met jou ronddra en selfs ‘reminders’ stel sodat belangrike dinge nie agterweë bly nie.


Wat wys jou dagboek?

Jou dagboek is in ’n sekere sin jy op papier. ’n Mens kan ’n goeie idee kry uit jou dagboek na gelang van dit wat vir jou belangrik is, want dit sal die dinge wees waaraan jy die meeste aandag bestee. Vir baie is skool en studies aan die voorpunt van hulle dagbeplanning, andere werk al. Jou vrye tyd en sosiale verkeer sal ook iewers in ’n tydgleuf ingepas word, en daar is stadiums in jou lewe wat elke moontlike naweek gevul is met aktiwiteite van een of ander aard – soms selfs so erg dat jy net vir ’n blitsbesoek tuis is. Nietemin; tyd volg prioriteit. Dit wat vir jou belangrik is, dááraan bestee jy jou tyd. Daardie dinge verteer jou ywer; want jy sien die waarde daarvan om in die dinge wat vir jou belangrik is, tyd en geld te bestee.

As iets nie vir jou belangrik is nie; sal jy dit óf afskeep, óf vermy. Jesus verwoord dit só in Matteus 6:21:

waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees … 

Dit laat ons dan vra: Waar in ons dagboeke is daar blyke daarvan dat ons geloof belangrik is? Waar word dit duidelik dat die diens aan die Here en die kennis van sy Woord ons absorbeer?


Voorbeelde in die Bybel

Dit is baie interessant om te sien hoedat die Here telkens die verkeerde prioriteite van sy kinders ontmasker en hulle ywer op Hom rig. Uit soveel voorbeelde wat die Skrif in sy rykdom vir ons gee, staan daar twee uit:

  1. Wanneer die volk deur Kores toegelaat word om terug te keer na Juda, laat hulle na om die tempel in ere te herstel en opper ’n aantal besondere flou verskonings vir hul gebrek aan ywer. Dít, terwyl hulle in die fynste besonderhede hulle eie huise met sorg bou en gemaklike lewens probeer lei. Dis asof hulle eintlik sê: Eers ons belange, dan sal ons tyd maak vir God. Ons lees daarvan in die boek Haggai.
  2. In die einste bergrede wat ons herinner om ons skat op die hemelse dinge te rig; wys Jesus ons daarop dat elkeen van ons misplaaste prioriteite het – aardse dinge en behoud, gesondheid en gemak (Matteus 6:25-26). Hy maak dit duidelik dat die alles-absorberende aktiwiteite waarmee die mens ter wille van sy eie behoud homself besighou, dinge is wat ’n mens se aandag, ywer en diens van die Here aftrek.

Dit is asof die Skrif ons indringend tot verhaal wil roep en sê: Plaas daarvan dat julle julle gedagtes op die Here rig en sy wil soek! Was ons ywer vir die Here maar net van die aard dat ons met ’n passie en ’n brandende ywer die Woord ondersoek het om te groei in ons verhouding met ons Vader! 


Verander jou dagboek!

God keer die orde om: Eers Hy, dan ons. In sy genade gee Hy ons dan dit waarvoor ons so naarstigtelik rondhardloop – Hy sorg vir ons bo alle verwagtinge en verdienste. Daarom moet daardie dagboekie wat my lewe so beheer, ’n gedaanteverwisseling ondergaan. Ons moet tyd maak vir:

  • afsondering en gebed, waarin ek stil word voor die Here en Hom in sy Woord soek.
  • huisgodsdiens
  • gesprekke met medegelowiges
  • die erediens
  • die dinge van God

Hierdie is nie dinge wat ek ‘inpas’ vir wanneer daar tyd is nie. As God maar tevrede moet wees met die afskeeptydjies wat ek ‘afknyp’, is dit ’n redelike aanduiding dat ek nie geweldig dankbaar is vir sy verlossende en voorsienige hand oor my lewe nie.


Hou moed, God ken ons gebreke

Dit mag ons dan troos om te weet dat die Here ons verdraaide prioriteite en gebrek aan ywer ken. Daarom herinner Hy ons telkens aan sy genade: Wees getrou aan My, onthou wat Ek vir julle gedoen het, onthou dat Ek julle gered het!

Daarom plaas Hy ons in ’n gemeenskap van gelowiges – ’n Bybelse gemeente – waar ek met ander wat dieselfde worstelinge as ek deurgaan ’n pad kan stap, waar ek vermaan kan word, waar ek opgebeur kan word en waar ek die las mee kan deel.


Dit is die Here wat deur sy Gees ons tot ywer dring, om in ware gemeenskap met Hom te leef. Mag jy, in jou dagbeplanning, met ywer die Here opsoek om Hom te dien.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui